Le Roc Brangus: ’n Passie vir teling en ’n kop vir besigheid

967
Mornay Verster tussen sy beeste.

Toe die rooi Branguskoei, LR17165, vanjaar as opperste vroulike dier by die Nasionale Branguskampioenskappe aangewys is, was dit vir hom die bevestiging van die visie waarmee hy meer as 20 jaar gelede met Brangusse begin teel het. So sê Mornay Verster van Le Roc Brangus by Tweespruit in die Vrystaat.

“Ek sê dit ten spyte van die feit dat ek ook drie jaar gelede die wêreldkampioenkoei, LR13325, gehad het. Ek dink LR17165 is selfs beter as die wêreldkampioen.”

Dié koei, LR17165, is vanjaar as Brangus Nasionale Kampioen aangewys

Wat bulle betref, sê Mornay, is daar tans een waaroor hy sommer baie opgewonde is – LR17615. Hy het onlangs van sy eerste kalwers by Elsie Campher van Harrismith gesien, en dit laat hom glo dat dié bul nog ’n groot merk in die ras gaan maak.

Mornay het in die Tweespruit-omgewing grootgeword en woon op die plaas Brandsdrift saam met sy vrou, Nerina. Dit is hier waar hulle twee kinders, Jan-Paul (26) en Nelise (24) grootgemaak het, en waarvandaan hy sy Brangusstoet van kort by die duisend koeie bedryf.

Hy boer en spekuleer al van kleins af met vee en het met die hulp van sy pa, Thabo, reeds op twaalfjarige ouderdom sy eerste plaas, Krynaauwsrust, gekoop.

Van kindsbeen af ’n boer

“Ek het my eie beeskudde begin opbou toe ek nog in die laerskool was, en ek varke in die omgewing vir spekulasiedoeleindes opgekoop het. Dit het my in staat gestel om die plaas af te betaal en daarna die volgende plaas te kon koop. Toe ek dus by Kovsies ekonomie gaan studeer het, was ek reeds ’n volwaardige boer en het ek elke moontlike geleentheid gebruik om plaas toe te kom en seker te maak dinge loop reg.”

Hoewel hy in ’n tradisie van spekulasie grootgeword het en daar geen sentiment aan diere geheg is nie, het hy vroeg reeds besef dat sy passie by teling lê. “Ek wou sien hoe ek die nageslag beter kon maak as die ouers. As ek byvoorbeeld van ’n koei gehou het, was dit vir my baie moeilik om haar te laat gaan voordat ek nie eers ’n kalf van haar kon kry wat beter as sy is nie.”

Die algemene opvatting is dat sentiment geen plek in boerdery het nie. Verskil hy van hierdie siening? “Absoluut! Ek dink sentiment lê naby aan passie, en dit het weer baie met lewensgehalte te doen. Ek glo jou hart moet in jou bedrywighede lê, en ’n liefde vir jou diere impliseer ’n groot mate van sentiment.

“Maar jou sentiment moet darem ook ekonomies gerig wees. Dit beteken dat jy in die eerste plek jou seleksiekriteria duidelik in plek moet hê, maar jy moet ook nie skroom om moeilike besluite te neem soos om ’n ou koei – maak nie saak hoe baie jy van haar hou nie – op die regte tyd te laat slag nie.”

’n Mens is dit aan jouself verskuldig, sê hy, dat dít waarmee jy jou daagliks besig hou, vir jou betekenis het en vir jou vreugde gee. Dit is wat lewensgehalte vir hom beteken, en tyd saam met sy familie staan vir hom sentraal hierin.

Telingsprojekte by Le Roc Brangus

As Christen, sê hy, is teling, en die proses van skep en verbeter, vir hom ’n manier waarop hy die Skepping intens ervaar. Elke keer as hy ’n nuwe kalf sien gebore word, dan is hy opnuut verwonderd oor die voorreg dat daardie kalf as’t ware ’n stempel van homself dra, omdat hy die kombinasie van moeder en vader so beplan het.

Afgesien van die Brangusstoet, teel Mornay ook Giant Schnauzer-honde en het hy onlangs ook ’n Dormerstoet geregistreer, én met boerbokke en Brahmane begin teel.

“Wanneer ek met so ’n nuwe telingsprojek begin, dan vorm ek ’n prentjie in my kop van die ideale dier, binne die raskenmerke. Dan ry ek die land vol op soek na teeldiere wat ek dink my nader aan daardie prentjie sal bring. Aanvanklik is my benadering redelik op korrektiewe paring geskoei, maar hoe nader ek aan my ideale prentjie kom, hoe meer raak dit ’n kuns om te kan sien watter manlike en vroulike diere bymekaar gesit moet word om daardie ideaal te bereik. Dit is ’n fassinerende proses, wat baie geduld verg!”

Beide die Brangus en die Dormer, sê hy, is saamgestelde rasse, wat beteken dat daar oor die algemeen redelike variasie in tipe voorkom. Wat hom betref is dit ’n baie goeie ding, want smaak verskil en die eise van verskillende omgewings wissel ook. Hoewel jy dus ’n tipe in jou kudde wil vasteel, is daardie variasie baie belangrik om in ’n verskeidenheid van kliënte se behoeftes te voldoen.

“As ’n koper by jou kom en sê hy soek ’n bul, moet jy eers mooi uitvind hoe sy kudde lyk, wat sy mikpunte is en in watter omgewing hy boer, sodat jy die regte tipe bul vir sy omstandighede kan aanbeveel. Jy moet hom help om sy kudde te verbeter, en die topbul is nie noodwendig die regte bul vir hom nie.”

Aanloop tot Le Roc Brangus

Reeds as seun wou hy met rooi beeste boer. Daarom het hy al sy koeie, hoofsaaklik Brahmankruise, verkoop en met rooi beeste vervang. Daarna het hy ook slegs rooi bulle van verskillende rasse gebruik, en op dié manier heel toevallig ook ’n Brangusbul aangekoop.

“Toe ek in 1992 terugkom plaas toe, het ek vir ’n tyd my eie boerdery bestuur en hoofsaaklik ook my pa se beeste bestuur. In my soeke na bulle vir hom het ek op die Aldam-veiling swart Brangusbulle begin koop, omdat hulle relatief goedkoop was. Toe daardie kalfies begin aankom, het ek besef dat hierdie bulle, onder ons omstandighede, besondere mooi kalwers produseer wat baie goed gegroei het.”

Hy het 20 Brangus-tipe koeie geïdentifiseer en hierdie Brangusbulle op hulle gebruik met die doel om hulle eie bulle te teel. Dit was die begin van Le Roc Brangus.

Die tipe bul waarna Mornay streef.

“My eerste Brangus-stoetbul het ek destyds by Tjoppie Roberts van Hertzogville gaan koop. Aanvanklik wou ek net elke jaar 20 goeie bulle vir ons eie kommersiële kudde teel, maar die telingsgogga het my gou gebyt. Dit was in hierdie tyd dat ek die prentjie in my kop gekry het van hoe my ideale Brangusbees moet lyk. Dit is dié prentjie wat uiteindelik 20 jaar later in LR17165 verwesenlik is.”

Gehalte met gehardheid

Dit was van die begin af vir hom belangrik om ’n geharde en aanpasbare bees te teel. Hierdie beginsel word ook weerspieël in die manier waarop hy sy bulle vir sy produksieveiling afrond.

“Ek voer nie my bulle vet nie. Hulle loop in ’n groot kamp tydens afronding en kry twee keer per dag kragvoer. Vir die res van die tyd moet hulle eenvoudig agter die natuurlike weiding aanloop sodat die rumen kan aanhou werk. Die uiteinde is dat wanneer bulle van my veiling op die koper se plaas afklim, hulle dadelik gereed is om te begin werk.”

Daar is net twee groepe diere op sy plaas wat ekstra sorg kry – speenkalwers en eerstekalfverse. Al die ander diere moet van die veld af produseer.

“My leuse is ‘gehalte met gehardheid’ en die terugvoer wat ek van my kopers kry bevestig dat ons op die regte pad is.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas (Foto’s verskaf deur Mornay Verster)

Vir meer inligting, kontak Mornay Verster by 082 779 1454.