Dié besondere leerinsetsels kom van die skeen van ’n volstruis. (Foto’s: Tisha Steyn)

Die volstruisleerbedryf speel ’n groot rol in die lewensvatbaarheid van Klein Karoo Internasionaal (KKI) in Oudtshoorn se volstruisbesigheid, wat talle uitdagings het. Veeplaas het gaan kyk hoe die produksie van uitvoer-volstruisleer die bedryf help om kop bo water te hou.

Op die oomblik is daar drie groot uitdagings, naamlik die droogte, ’n verbod op die uitvoer van vars volstruisvleis weens die uitbreking van H5N8, en die jongste verbod op die uitvoer van gaar én rou volstruisvleis weens gebrekkige instandhouding van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) se laboratorium wat residue in voedsel van dierlike oorsprong monitor.

Die volstruisleerbedryf hang af van gehalte – van  gesonde volstruise wat sonder groeistimulante grootgemaak word, tot sysagte volstruisleer wat gesog is in die modewêreld en die sierlike vere wat sedert 1863 geproduseer word en tot so onlangs as 1975 die hoofvertakking van volstruisboerdery was.

Knoppiestekstuur

Volstruisleer is die enigste leer van ’n voël wat in die modebedryf gebruik word en net soos krokodilleer, word dit as ’n eksotiese leer geklassifiseer. Dit is veral gesog weens die besondere knoppiestekstuur – die knoppie is die veerskag waaruit die veer groei.

Volstruisleer word verwerk in ’n groot verskeidenheid kleure.

Die leer word gegradeer volgens die grootte van die vel, of kroonbreedte, waar die knoppies op die rug voorkom, die grootte en vorm van die knoppies, en die tekstuur en toestand van die vel, wat sonder gaatjies, skaaf- of kneusplekke moet wees.

Die volgende tien stappe in die produksieproses verseker hoë gehalte volstruisleer:

Keuse van ouers

Aangesien die grootte van die ouers die grootte van die vel bepaal, is dit belangrik dat die ouers met omsigtigheid geïdentifiseer word. Die velgrootte en knoppiegrootte is matig oorerflik.

Natuurlike broeiproses

’n Natuurlike parings- en broeiproses is nodig vir eierproduksie. Albei ouers broei tot 25 eiers uit – die swart mannetjie in die nag wanneer hy met die donker saamsmelt, en vaal wyfies bedags wanneer dit moeilik is vir roofdiere om hulle op die nes waar te neem – en maak die kuikens saam groot.

Volstruis 3: Let op die broeis volstruismannetjie se rooi skene. Hierdie mannetjie en wyfie se vere is geoes, dié dat hulle so skamel “geklee” is.

Broeikaste vir beter beheer

Die eiers wat uit broeivoëlneste in die veld versamel is, word in kratte by die aanbroeiers (broeihuis) afgelewer. Die eiers word weekliks in die aanbroeiermasjiene gepak en ná twee weke word vasgestel of die eiers bevrug is.

Die bevrugte eiers word op rakke in ’n broeimasjien, wat die eiers outomaties omdraai, gepak. Die eiers bly vyf weke lank teen ’n temperatuur van gemiddeld 36°C in die broeimasjien. In die vyfde week word die eiers sorgvuldig oorgeplaas op rakke in ’n uitbroeikas, waarin die kuikens onder beheerde toestande uitbroei. Die kuikens word dan na die volgende lokaal geskuif, waar hulle afdroog om ’n donsige voorkoms te verkry.

“Ek haal my kuikens een vir een uit die dop sodat daar nie ’n kans is dat die velletjie deur ’n skerp stuk dop beskadig kan word nie,” sê Jurie Klue, ’n bobaas-volstruisboer van Klaarstroom wat jaar na jaar KKI se trofee vir die beste leerproduksie verwerf.

Volstruis 4: Pas uitgebroeide volstruiskuikens in ’n droograk.

Menslike pleegouers

Ná 24 uur word die pas-uitgebroeide kuikens in kratte gepak en in ’n voertuig met ’n beheerde temperatuur na kleinboere geneem wat hulle grootmaak. Die kuikengrootmakers sorg dat die volstruise toegang tot goeie gehalte voeding en skoon water het, en beskerm word teen natuurelemente.

“Ons het al ondervind dat sommige grootmakers snags saam met die jong volstruiskuikens in die hokke deurbring om seker te maak dat hulle nie verkluim nie,” sê dr Adriaan Olivier, ’n veearts verbonde aan die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK).

Kuikengrootmakers maak merendeels net ’n sekere ouderdomgroep volstruise groot, naamlik van nul tot vier maande. Hierna word die kuikens na uitgroeiplase verskuif, waar hulle tot op die ouderdom van elf tot 14 maande bly of totdat hulle 95kg weeg.

Uitgroeigeriewe vir jong volstruise

Jong volstruise word van die ouderdom van drie tot vier maande in kuddes van 50 tot 100 in uitgroeikrale gehou wat 0,5ha tot 1ha groot is. Die jong volstruise het hier toegang tot gebalanseerde voeding en skoon water. Hulle kan ook op aangeplante weiding loop, solank daar genoeg water is. Weens die klimaatstoestande moet volvoer, wat lusern, mielies en soja-oliekoek bevat, voorsien word.

Kwarantynkampe vir uitvoer

Volwasse volstruise moet twee weke lank in ’n kwarantynkamp staan sodat hulle aan die uitvoervereistes kan voldoen. Die kwarantynkampe verseker dat die volstruise nie in hierdie stadium enigiets vreet of besmet raak met parasiete wat hulle ongeskik sal maak vir slagting nie.

Die kampe het ’n dubbele draadheining om ’n kaal stuk grond sonder ’n bossie of bosluis in sig. Volstruise word op vier maande gemerk met ’n unieke identifikasieplaatjie sodat hul volledige lewensgeskiedenis tot die plaas van oorsprong nagespeur kan word.

 Voorkoming van gaatjies op die vel

Daar is ’n klomp oorsake van merke op die vel, wat tot ’n laer gradering en kleiner inkomste vir produsente kan lei. Dit sluit krapmerke weens doringbome, doringdraad, skopmerke, haartjies en gaatjies in. Benewens oorerflikheid, word die gaatjies ook veroorsaak deur uitwendige parasiete soos volstruisveerluis, veerskagmyt, volstruisvlieg en bosluise.

Voorkoming van skaaf- en kneusplekke

Merke op die vel word soos volg voorkom en beheer:

  • Kuikens wat koud slaap, vertrap mekaar op soek na ekstra liggaamshitte en hul skerp naels maak merke op ander kuikens se velle.
  • Geraas laat die volstruise skrik en in heinings vashardloop, wat die vel beskadig.
  • Die heinings word meer sigbaar gemaak deur wit plate, verfblikdeksels of motorbande wat daaraan gehang word.
  • Genoeg voer- en waterbakke in die kampe voorkom mededinging.
  • Vragmotors wat volstruise vervoer, moet genoeg afskortings en ’n growwe vloeroppervlak hê waarop die voëls gemaklik kan staan. ’n Werker vir elke agt volstruise ry saam.
  • Sommige boere trek vir hul volstruise “jassies” aan, wat om die voël vasgemaak word om hul vere en vel tydens die reis te beskerm.

Behandeling van die velle

Volgens Arno Albertyn, uitvoerende bestuurder van KKI se leerafdeling, ondergaan die velle die volgende prosesse:

  • Die rou velle word gesout voordat dit na die looiery gestuur word, waar dit in ’n koelkamer geberg word om verrotting te voorkom.
  • Soos wat die produksielyn toelaat, word oortollige vet en vleis wat nog op die vel voorkom verwyder en die velle word in dromme geweek om dit skoon te was.
  • Dan gaan die velle na die looi-afdeling, waar dit vir agt tot tien weke in looidromme gelooi word.
  • Die unieke identifikasienommer word steeds gevolg op die gelooide vel.

Ervaring en kundigheid

Wanneer ’n bestelling vir leer ontvang word, word die gelooide vel in kleurdromme tot ’n basiskleur gekleur. Hierna word dit volgens die kliënt se behoeftes tot ’n spesifieke kleur en afwerking verwerk.

Sowat 150 mense neem deel aan die proses om een vel te verwerk. “Die kundigheid in die looi- en afwerkingsproses word soms van geslag tot geslag oorgedra, en geen skool kan die ervaring en kundigheid bied wat nodig is om ’n volstruisvel tot sy volle potensiaal te ontwikkel nie,” sê Arno. “Dit is elke ervare en unieke mensehand se bydrae wat die volstruisvel ’n kunswerk maak.”

Vir meer inligting, kontak Arno Albertyn by 044 203 5100 of arnoalbertyn@kleinkaroo.com. -Tisha Steyn, Veeplaas