Lekaanvulling in die skraal maande: Wat is nodig?

0

Estimated reading time: 6 minutes

In die wintermaande neem die gehalte van weiding drasties af en teen Augustus en September is dit op sy laagste, voordat die somerreën weer sy verskyning maak. Omdat dit ’n belangrike tyd van die jaar vir veeboere is, is die aanvulling van hoë-gehalte energie en proteïen noodsaaklik om die diere deur hierdie maer maande te help.

Alheit du Toit, ’n veekundige van Feedtek, sê navorsing toon dat die meeste gebiede in Suider-Afrika arm aan fosfaat is. Fosfaat is juis belangrik vir volgehoue vrugbaarheid en produksie.

“Dit sal egter ’n groot fout wees om slegs op fosfaat te konsentreer en die gebalanseerde aanvulling van minerale en spoorminerale agterweë te laat. Dit is veral toepaslik op hoogproduserende kleinvee, soos laatdragtige ooie en lakterende meerlingooie, waar selfs aangeplante weiding nie volledig in hul voedingsbehoeftes voorsien nie,” meen Alheit.

Benut weiding beter

Melville Price, senior tegniese bestuurder by Nutri Feeds, beklemtoon die feit dat weiding die goedkoopste ruvoerbron is en dat dit optimaal benut moet word. In die somer word minerale en spoorminerale tradisioneel met ’n fosfaatlek aangevul, en in die herfs en winter word proteïen of stikstof in die vorm van ureum met ’n winter- of proteïenlek voorsien.

In die skraal maande soos Augustus en September, wanneer winterweiding beperk of selfs afwesig is, word energie, gehalte proteïen, minerale en spoorminerale deur middel van ’n produksielek voorsien. “In hierdie tydperk styg reproduserende diere se behoeftes dramaties, met ’n kalf wat soog en jong vroulike diere wat nog uitgroei,” verduidelik hy.

Dr Francois van de Vyver, nasionale tegniese bestuurder by Voermol, waarsku daarby dat lekaanvulling net aanvullend tot weiding is en dat die korrekte aanvullings gebruik moet word. “As ons die verkeerde voedingstowwe aanvul, byvoorbeeld energie (mielies) op droë veld, kry ons vervanging, waar die diere eerder die aanvulling vreet en die inname van die onsmaaklike veld verlaag, pleks daarvan om die verteerbaarheid en inname van die veld te bevorder. Dit is koste-ondoeltreffend.”

Die doel van aanvulling

Alheit sê die doel van lekaanvullings is om die dier te help om die werking van rumenmikrobes te optimaliseer. “Sodra die rumenmetabolisme optimaal is, kan ekstra energie en natuurlike proteïen, bo en behalwe dit wat benodig word deur rumenmikrobes, aan die dier verskaf word vir vertering en absorpsie in die laer spysverteringskanaal. Sodoende kan die dier se produksievlakke verhoog word.

“Makrominerale, spoorelemente en vetoplosbare vitamiene soos vitamien A en E, wat nie deur die mikrobes gesintetiseer kan word nie, is belangrik vir benutting van voedingstowwe deur die dier en noodsaaklik vir alle normale liggaamsprosesse. Daarsonder kan vee eenvoudig nie produseer of reproduseer nie.”

Dit is noodsaaklik dat weiding, wat die goedkoopste bron van ruvoer is, optimaal aangewend moet word en die aanvullings bloot net moet dien as ’n ondersteuning vir die weiding. Met elke nuwe seisoen verander die voedingswaarde van die weiding. Daarom moet aanvullings telkens aangepas word.

Bepaling van tekorte

Melville meen dit is nie aldag maklik om te bepaal watter minerale en spoorelemente die diere nodig het nie. Die standaardpraktyk is dat minerale en spoorelemente in die somer aangevul word. In die herfs en winter word proteïen of stikstof saam met die minerale en spoorelemente voorsien. In die laatwinter en vroeë lente, wanneer die winterweiding beperk raak of selfs verdwyn, word energie, gehalte proteïen, minerale en spoorminerale gegee.

Dit is die standaard wat toegepas word, maar in sommige gevalle is dit vir ’n teler nodig om verder as die normale standaard te gaan. Tekorte in weiding kan ook deur ’n laboratorium vasgestel word, deur die weiding in verskillende groeistadiums te ontleed. So kan die minerale en spoorelemente in diere se lewers in ’n laboratorium bepaal word en ’n akkurate aanduiding van die tekorte in die veld of aangeplante weiding gee.

Alheit beveel aan dat die lekaanvullings volgens seisoene en veldtoestande aangepas word. “In die droë seisoen is proteïenaanvulling in die vorm van nieproteïenstikstof (NPN) noodsaaklik om benutting van moeilik verteerbare plantmateriaal te verbeter. Daarteenoor bevat welige, groen somerweiding en veral bemeste, aangeplante groenweiding oor die algemeen genoeg rumen-oplosbare proteïen vir mikrobes. NPN-aanvulling op veral bemeste groenweidings is dus ongewens weens die gevolglike oorlading van die rumenstikstofpoel.”

Francois het ’n drievoudige duimreël wat gebruik kan word om te bepaal watter bymiddels nodig is. Hy sê aanvulling moet geskied volgens die behoefte van die dier, die beskikbaarheid van die veld en die natuurlike verteerbaarheid en voedingswaarde van die veld.

“In die somermaande is die verteerbaarheid baie goed en die weiding is smaaklik, maar ná die blomtyd begin die voedingswaarde afneem, hoewel die verteerbaarheid nog heeltemal voldoende is. In die winter is die smaaklikheid van die weiding baie laag en inname dus ook. Verteerbaarheid is ook laag. Vanaf Augustus/September moet die korrekte energiebevattende aanvullings gegee word om die benutting van die veld te verbeter.

“Aanvullings word dwarsdeur die jaar gegee met minerale in die somer, proteïen in die winter en produksielekke in die laatwinter of wanneer die diere se behoeftes bo die onderhoudsvlakke is.”

Smaaklikheid en inname

Hy noem verder dat die smaaklikheid van aanvullings baie belangrik is. As diere nie aan ’n lek gewoond is nie, is dit belangrik om altyd eers die dier by die lek aan te pas. Sout beheer ’n dier se inname, maar ’n dier wat southonger is, sal te veel lek vreet omdat hy agter die sout aan is. Smaakmiddels kan met sukses aangewend word, veral by mineraallekke.

Alheit sê dit is egter nie net die smaaklikheid van die lek wat bepaal of genoeg daarvan ingeneem word nie. Faktore soos die gehalte van en hoeveelheid weiding, sowel as die diere se kondisie en behoeftes in ’n gegewe stadium, is bepalend ten opsigte van vrywillige lekinname.

Lekinname is laer in gebiede waar die weiding soeter is, en hoër waar weiding suurder is. So ook is groen somerweiding meer smaaklik as droë winterweiding en is die lekinname in die wintermaande gevolglik hoër as in die somer.

“Lekinname kan gemanipuleer word deur die graan- en/of melasse-inhoud te verander in verhouding tot minerale, sout en ander innamebeperkers. Dit moet egter nie lukraak gedoen word nie, maar soos deur ’n geregistreerde veekundige aanbeveel word.”

Beplan jou strategie

Hy herinner daaraan dat elke plaas verskil en dat dit altyd raadsaam is om ’n paar rand te bestee en ’n behoorlike lekstrategie uit te werk wat by jou plaas pas. Sekere basiese beginsels moet gevolg word om algemene tekorte en wanbalanse vir verskillende tipes weiding en seisoene reg te stel, maar ’n meer gespesialiseerde benadering is dikwels nodig.

“Weidingsontledings kan strategies ingespan word, sowel as die bepaling van die mineraalstatus van die dier deur die neem van bloed- en lewermonsters. Vir die algemene veeboer sal ontledings nie noodwendig standaard aanbeveel word nie, tensy probleme aanhoudend voorkom terwyl ’n goeie aanvullende voedingsprogram reeds gevolg word,” sê Alheit.

Francois beaam dit en sê dit is makliker en goedkoper om ’n lekstrategie volgens die seisoen en/of produksiebehoeftes te volg, as om ’n tekort waarvan die tydperk onbekend is, aan te vul of oornag te probeer regstel vir kitsresultate.

Melville is ook ’n ondersteuner daarvan om ’n lekprogram op te stel in samewerking met ’n voedingkundige. “Die program moet pas by jou plaas se unieke gehalte en beskikbaarheid van veld teenoor die voedingsbehoeftes en produksiestadia van jou diere. Voervloeibeplanning moet dus gedoen word, met aanvullings soos nodig om die diere in die regte kondisie te hou.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Francois van de Vyver by 032 439 5511, Melville Price by 082 766 1044 of Alheit du Toit by 084 557 0100.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene