Produsente in die Oos-Kaap en Karoo sien met afwagting uit na broodnodige lentereën, terwyl die meeste van hulle dit eens is dat die weerpatrone deesdae meer intens is en dat die reënseisoen met een maand aangeskuif het. Veeplaas het Oos-Kaapse produsente in verskeie streke van dié provinsie vir hul mening oor die stand van weidings vir die lente genader.

Middelburg, Hofmeyr, Tarkastad en Queenstown

Hans Greeff van Grootfontein Landboukollege sê dat Middelburg gewoonlik goeie reën tussen Oktober en November kry, en die groot reënseisoen is tussen Januarie en Maart. “Daar het egter die afgelope vyf jaar baie min lentereën geval. Ons het goeie laat somerreën gehad, met meer reën in die oostelike dele.”

Hy voeg by dat die meeste plase in die omgewing gedurende die wintermaande nog ruvoer op die veld het, maar dat lammerooie dikwels gehelp moet word om gesonde lammers of bokkies te speen.

Die Middelburg-distrik het vyf jaar laas goeie lentereën gehad en die vee moet gevolglik byvoeding ontvang.

Aliwal-Noord, Burgersdorp, Jamestown en Lady Grey

Nellis Potgieter het die volgende inligting by ’n gesoute produsent van Aliwal-Noord gekry: Die lentereënval is baie onvoorspelbaar en wisselvallig in dié gebied, met piek reëntye in die laat somermaande. Wanneer dit droër word, skakel produsente gewoonlik oor na ’n meer holistiese benadering met groter troppe in groter kampe.

“Daar was in die meeste streke nog voldoende ruvoer op die veld in Julie en Augustus, wat ’n positiewe mikroklimaat vir goeie hergroei geskep het. Dit kan moontlik tot ’n gunstige kleinveesituasie vir die lente en lamtye bydra. ’n Goeie basale bedekking van weivelde as buffer teen droogtes is noodsaaklik vir die perfekte afloop van water, minimum temperatuurskommelinge in die bogrond, ’n goeie mikroklimaat vir die vestiging van goeie veld en maksimum produksie per hektaar,” vertel Nellis.

Adelaide, Bedford en Fort Beaufort

Hannes Bosch sê die Adelaide-distrik beleef sy ergste droogte van die afgelope eeu. “Gedurende Julie en Augustus was weiding noord van Adelaide kritiek, met swak of opgedroogde boorgate. Die Koonaprivier word gewoonlik met fonteine uit die Winterberge gevoed, maar is kurkdroog. Hoewel die soetveld suid van Adelaide gedurende die winter nog gangbaar was, het die watersituasie verder verswak.”

Hy glo September/Oktober gaan ’n uitdagende maand wees. “Daar is geen reserwes nie. Ons is in ’n somerreënvalgebied waar wisselweiding gewoonlik toegepas word, maar die vooruitsigte lyk swak.”

Cathcart, Hogsback en Stutterheim

Janine Cotterrell van Bo-Cathcart net bokant Hogsback sê die weidingsituasie is kritiek, veral omdat ’n kwart van die distrik se weiding tydens Augustus 2017 se wegholbrande vernietig is. “Veldherstel word gekortwiek deur te min reën. Hoë somertemperature het die grasvelde se wortelreserwes uitgeput, met minder saadproduksie.”

Besproeiing kom uit die Klipplaatrivier wat gedurende die winter feitlik opgedroog het. “Ons grondwatervlakke is laag. Baie van die damme droog op en die vleilande funksioneer nie meer soos ‘sponse’ nie. Die gebied kry gewoonlik herfs- en lentereën, met somerdonderstorms en sneeu in die winter. Hoewel ons vanjaar herfsreën gehad het, het dit vyf jaar laas in die lente gereën.”

Dié plaas in die Stormberge was in die greep van die droogte toe die veld verlede Desember deur weerlig getref is en dit ’n wegholbrand veroorsaak het. Goeie lente- en somerreën is nou nodig om die weiding te laat herstel. (Foto: Gerhard Venter)

Joubertina, Hankey, Patensie, Humansdorp en Tsitsikamma

Niel du Preez boer in die Zuurveld-gebied, met die Baviaansberge aan die noordelike grens, Hankey en Patensie aan die oostelike grens, Humansdorp in die suide, en die Tsitsikamma-berge en Joubertina aan die westelike grens. “Ons groot reënseisoen is vanaf Maart tot Oktober. Ons is die afgelope vier jaar in ’n droogte, met min water in ons veesuipingsdamme, en die veld is onder druk.”

Volgens hom is daar winter- en lenteweidings om die veld ’n kans te gee om te herstel, maar as gevolg van te min reën vaar die winterweidings nie goed nie. “Ons word genoop om kruipvoer en ooilammengsels aan te wend om die diere op ’n aanvaarbare vlak te hou.”

Grahamstad (Makhanda), Alexandria en Port Alfred

Warrick Barnard boer met wild en sê dat die reën wat in die wintermaande geval het en ietwat warmer temperature, ’n positiewe impak op die veld gehad het. “Die damme het nog nie regtig water nie en ons hoop dat daar tydens die lente- en somermaande ’n beduidende toename in reën gaan wees om die droogtesiklus te breek.”

Verskeie produsente het hul wild en vee verminder en hul byvoedingvoorrade aangevul. As voorsorgmaatreël plant Warrick gemengde grassade vir beter gehalte weiding. Hy ondersteun die groeiproses met ’n wetenskaplike kunsmisprogram en ’n program om indringerplante met min voedingswaarde uit te wis.

Fraserburg, Victoria-Wes, Murraysburg en Graaff-Reinet

Guillau du Toit sê die noordwestelike Karoo ervaar ’n erge droogte. “Die langdurige tendens van ondergemiddelde reën vir die sesde seisoen eis sy tol op mens, dier en die veld. Ons sien met afwagting uit na lentereën.”

Volgens hom is daar nie lenteweiding nie en die omgewing is ongekend warm. “Die meeste produsente speen die lammers en sit hulle in voerkrale om druk op die veld en ooie te verlig. Onproduktiewe diere word uitgeskot.

“Indien dit reën, moet die veld oordeelkundig benut word volgens elke plaas se drakrag en vermoë. Ons sal tyd moet gee vir herstel en die bou van reserwes.”

Steytlerville, Willowmore, Rietbron en Klipplaat

Johannes Stegman glo die reën in Februarie en Maart het baie produsente ’n hupstoot gegee nadat dit hulle die vorige jare ontwyk het. “Die weerpatrone is deesdae meer wisselvallig, met harde buie wat die veld verspoel, of hael, wat suid van Willowmore groot skade veroorsaak het.”

Rietbron se produsente is nog in die knyp, maar is effens meer positief oor die vooruitsigte vir ’n meer normale reënseisoen. “As die lentereën vanjaar laat is, gaan dit veldherstel vertraag en moet die vee gehelp word om hul produksie te handhaaf.”

Jansenville, Pearston en Somerset-Oos

Neil Dodds van Nukamma Wildlife sê dit is ’n ope vraag wat produsente gaan doen indien daar nie lentereën val nie. “Ek glo ons sal oorleef en daar is gelukkig genoeg besproeiing in die Oos-Kaap om byvoeding te produseer, met goeie toegang tot vervoer in die omgewing van Cradock, Cookhouse en Graaff-Reinet.”

John Hurter van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) in die Oos-Kaap sê dat baie wildprodusente in dié streek die afgelope twee jaar gedwing is om hul wildgetalle tot die minimum te verminder, met ’n groot aantal wild wat van kant gemaak moes word.

Sneeu wat in September verlede jaar op die Coetzeesberge by Pearston geval het.

“Die grondwatervlakke word geraak en baie boorgate droog op, wat tyd sal neem om te herstel. Ons hoop vir goeie grondbenatting en dat die weiding sodanig sal herstel dat produksie weer op standaard sal kom. Intussen poog wildprodusente om hul wild se kondisie optimaal te hou met byvoeding en lekke,” sê hy.

Kontak die outeur by epos carinv@plaasmedia.co.za indien jy enige van die mense wat in hierdie artikel aangehaal word, wil kontak. – Carin Venter, Veeplaas