Letskraal se afdraai is 42km noord van Graaff-Reinet op die N9. Daarvandaan is dit 18km met die grondpad langs. Die opstal is nog in sy oorspronklike vorm sonder dat daar verbrekings was.

Op sterbeligte Karoonagte koester die plaas Letskraal se gerestoureerde opstal besoekers met kerslig en paraffienlampe, knetter ’n kaggelvuur gesellig, verdryf paraffienverwarmers die ysige koue van winterdae en -nagte, en word ’n donkie gesellig gestook vir lekker warm badwater.

Johan Minnaar het die opstal op Letskraal met baie liefde en geduld gerestoureer.

Letskraal is noord van Graaff-Reinet geleë en spog met ’n woning wat volgens die tradisionele Karoo-boustyl van klei en strooi gebou is, en waar die bekende Voortrekkerleier, Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (27 November 1798 tot 23 Julie 1853), eens op ’n tyd gewoon het.

Die eienaar van die plaas, Johan Minnaar, het homself enkele jare gelede die taak opgelê om die opstal en werf te restoureer, met die doel om soveel as moontlik van die plek se karakter behoue te laat bly.

Johan is in sy element wanneer hy oor die omgewing en Letskraal se geskiedenis gesels. Hy verwelkom dus graag besoekers om in die ryke geskiedenis van hierdie historiese juweel te deel. “Ekself woon nie in die opstal nie, maar ons gaste geniet gewoonlik Letskraal se eenvoudige en gemaklike leefwyse, asook die pragtige omgewing waarin dit geleë is. Saam met my wonderlike personeellede, Patrick en Lydia Jacobs, probeer ons om dit ’n onvergeetlike ervaring vir besoekers te maak,” sê Johan.

Die bekende foto van die Voortrekkerleier Andries Pretorius met die wond wat hy tydens die opvolgoperasie ná die slag van Bloedrivier opgedoen het, hang in Letskraal se voorkamer.

Pretoriuskloof se mense

Volgens oorlewering het Graaff-Reinet in die laat 1700’s van die Pretoriusse gekrioel. Johan vertel die vallei al langs die Sondagsrivier op, het as Pretoriuskloof bekendgestaan. “Die Pretoriusse het tot ongeveer 70km buite die dorp geboer.”

Andries Pretorius is op die plaas Driekoppen in die einste Pretoriuskloof, sowat 40km noordoos van Graaff-Reinet, gebore en het waarskynlik ook daar grootgeword. Hy het in 1818 met Christina de Witt getrou, waarna die egpaar hulle op Letskraal, wat ook deel van Pretoriuskloof was, gevestig het.

Karoo-pionierswonings

Johan verduidelik dat die ontwikkeling van ’n pionierswoning soos die een op Letskraal in die meeste gevalle dieselfde patroon gevolg het. “Aanvanklik is slegs ’n sogenaamde ‘langhuis’ gebou, dit wil sê ’n voorkamer met ’n klein vertrekkie aan weerskante. Die boer het die grond gewoonlik van die regering gehuur, maar kon sy verbeteringe verkoop indien hy sou trek.

“Die volgende huurder se verbeteringe aan die langhuis het weereens in die meeste gevalle ’n spesifieke patroon gevolg. Daar sou byvoorbeeld aan die agterkant van die langhuis ’n vleuel aangebou word, naamlik die agterhuis. Die opstal sou dus die vorm van ’n hoofletter ‘T’ aanneem.”

Letskraal se opstal was reeds in ’n T-vorm toe Andries Pretorius en sy vrou, Christina, daar ingetrek het. Johan som die boustyl verder op en noem ook dat die huis van modder-sooie gebou is. “Die mure is dik onder en raak dunner na bo. Verder is die breedte van die langhuis en vleuel deur die lengte van beskikbare dakbalke bepaal. In Letskraal se geval is die vertrekke net sowat vier meter breed.”

Johan sê daar is vandag maar min sulke Karoo-pionierswonings oor. “Baie van die huise het met die koms van welvaart so verander, dat die oorspronklike kern daarvan onherkenbaar is. In baie gevalle waar nuwe huise gebou is, is die pionierswoning in ’n skuur omskep.”

Nuwe weivelde roep

Sarel Cilliers, ’n Voortrekkerleier wat in Graaff-Reinet grootgeword het, en ene Jan Hattingh, het ná die dood van Piet Retief in 1837 besoek op Letskraal afgelê met ’n versoek dat Andries Pretorius die Trekkers in Natal te hulp snel.

“Andries en sy broer, Henning, het daarna besluit om ’n gesamentlike veiling van hul grond en besittings te hou, waarna Andries Letskraal op 1 Oktober 1838 verlaat het. Hy het op 22 November 1838 in Natal aangekom.” Johan sê hy is nie seker of Andries se broer, Henning, in dieselfde tyd getrek het nie.

Andries het ’n baie groot rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel en hoewel algemeen aanvaar word dat Pretoria na hom vernoem is, het sy seun, Marthinus Wessel Pretorius, jare lank gespook om Pretoria as ’n dorp te vestig.

Modderspeletjies

Die opstal was al 30 jaar lank onbewoond toe Johan die restourasiewerk in 1997 onderneem het. Hy het die taak met die hulp van Peter Whitlock, ’n argitek en erfenisgeboukenner, aangepak.

“Aanvanklik het dit na ’n haas onmoontlike plan gelyk,” sê Johan. “Om moed vir die storie te skep, het ek toe net eers die werf begin skoonmaak en al die rommel verwyder.”

Hy het besef dat die opstal met plaaslike materiaal gebou is en het sover moontlik dieselfde patroon gevolg. Sy skoonpa het tussendeur ook hand bygesit. “Die projek het geleidelik vorm aangeneem en ek het dit oor etlike jare op my eie tyd voltooi, wat nogal ’n bevredigende taak was.” Johan voeg skertsend by dat die opstal se restourasieproses hom nogal aan ’n kind wat met modder speel laat dink het.

Eenvoudig, eerlik en gerieflik

Johan beskryf ’n pionierswoning as iets “eenvoudig, eerlik en gerieflik”. Hy verwys na die dik mure en die modder- en rietplafon, wat vir doeltreffende isolasie sorg. “Dit is lekker koel in die huis in die somer en aangenaam soel in die winter wanneer ’n mens die kaggelvure aansteek.”

Daar is ’n ossewa op die werf wat as ’n ekstra slaapkamer vir gaste gebruik kan word. “Dit is ’n wonderlike ervaring, veral met die naggeluide so digby ’n mens.

“Ossewaens het natuurlik ’n baie groot rol in die lewens van ons voorvaders gespeel, dié dat ons Afrikaanse taal nog besaai is met woorde en uitdrukkings wat uit die wabedryf kom. Enkele voorbeelde daarvan is woorde soos ‘inspan’, ‘uitspan’, ‘saamspan’, ‘wawyd’, (motor) ‘instoot en uittrek’, ‘trek’ (om te verhuis), ‘briek aandraai’, ‘noustrop trek’, ‘jong osse inspan’ (braak) en ‘wawielore’.”

Letskraal se ossewa is ’n ietwat groter weergawe as dié wat die Voortrekkers gebruik het. Dié een het aan Johan Minnaar se oupagrootjie se broer behoort.

Trek met kakebeenwaens

Volgens hom sou Andries Pretorius en sy geselskap met kakebeenwaens getrek het. “Die waens was gemiddeld vier meter lank en een meter breed. Die groter waens, soos die een op Letskraal, het van 1860 af gewild geraak.” Daar is vandag nog net agt kakebeenwaens in die land oor, want die meeste is in die Anglo-Boereoorlog verwoes.

“Terloops, hoeveel mense weet dat dit sowat twee ure neem om osse in te span, en sowat een uur om uit te span? Nadat uitgespan is, is die laaste os gebruik om die leë wa na die waenhuis te sleep. Daarna het dié os by die ander aangesluit – vandaar die spreekwoord ‘agteros kom ook in die kraal’.”

Vir meer inligting oor Letskraal en akkommodasie op die plaas, skakel Johan Minnaar by 078 482 2387, stuur ’n epos aan letskraal@eastcape.net of besoek die webtuiste www.letskraal.co.za. – Carin Venter, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here