Lewerslakwurmbesmetting by beeste in Suid-Afrika kom wyer voor as wat die meeste boere dink. Dié parasiet is algemeen teenwoordig in hoëreënvalgebiede soos die Hoëveld en KwaZulu-Natal. Dit word egter ook in droër dele soos die Noord-Kaap onder gunstige omstandighede aangetref.

Die tussengasheer, ‘n varswaterslak, is aanvanklik deur middel van besproeiingskemas na hierdie gebiede versprei. Die vervoer van lewerslakwurmbesmette diere het die parasiet verder versprei.

Identifisering van besmetting

Dit is gewoonlik moeilik om die uitwerking van lewerslakwurmbesmetting op beeste waar te neem. Hulle lyk selde siek en die produksieskade wat stelselmatig plaasvind, is onopmerklik. Baie boere weet nie eens dat hul diere besmet is nie.

Lewerslakwurm beskadig die lewer en omdat dié orgaan so ‘n belangrike rol in verskeie metaboliese prosesse speel, is dit duidelik waarom diere se prestasie daardeur benadeel word. Dit is dus ‘n duur fout indien produsente in bepaalde gebiede nalaat om behoorlike bestrydingsprogramme teen lewerslakwurms te volg.

Produksieverliese weens lewerslakwurmbesmetting

Wêreldwyd toon studies dat lewerslakwurmbesmetting by beeste tot vertraagde groei, laer melkproduksie en selfs wakker voortplanting lei.

Hier is ’n kort samevatting van gevolgtrekkings uit verskeie studies oor die uitwerking van lewerslakwurmbesmetting op diereprestasie:

  • Vertraagde groei: By vleisbeeste en vervangingsmelkverse kan ‘n lewerslakwurmlas die daaglikse gewigstoename met 0,5kg/bees verminder.
  • Laer melkproduksie: Verskeie studies bewys dat dit produksie met meer as 0,6 liter per dag laat daal.
  • Vertraagde estrus by verse: Navorsing dui daarop dat lewerslakwurms diere se hormoonbalans versteur. In ‘n studie is bewys dat lewerslakwurmbesmette verse se hormoonvlakke verantwoordelik vir voortplanting (estradiool en progesteroon), dramaties van dié van onbesmette verse verskil het. Dit het besmette verse tot 39 dae langer gekos om die eerste keer op hitte te kom.

Benewens hierdie produksieverliese word lewers, indien enige littekens waargeneem word, by abattoirs afgekeur. Melk- en vleisbeesboere kan dus groot verliese ly as hulle nie aandag aan dié bedreiging gee nie. Om lewerslakwurms doeltreffend te bestry, moet die lewensiklus daarvan verstaan word.

Die lewensiklus van lewerslakwurms

  • Volwasse lewerslakwurms produseer daagliks duisende eiers wat saam met die gal in die mis uitgeskei word.
  • Die larwe vind ‘n tussengasheer, die varswaterslak. Die larwes ontwikkel, verlaat die slak en oorleef op grashalms totdat beeste of skape die gras vreet.
  • In die dier migreer die onvolwasse lewerslakwurms na die lewer en boor deur tot in die galbuise, waar hulle as volwasse wurms weer eiers produseer.

Ekonomies is dit sinvol om die lewensiklus van lewerslakwurms, waar hulle in die galbuise voorkom en weer derduisende eiers produseer, te verbreek. Strategiese bestryding moet op die beheer van volwasse parasiete gerig wees.

Daar is verskeie metodes beskikbaar om lewerslakwurms te diagnoseer. Dit sluit in die ondersoek van lewers tydens die slagproses, toets vir teenliggame in melk of bloed, en ontleding van beeste se mis vir teenwoordigheid van eiers. Laasgenoemde metode is die maklikste en gewildste.

Beheer van lewerslakwurms

Die voorgeskrewe strategie om beheer te verkry, is om besmette diere te behandel sodat volwasse lewerslakwurms uitgewis en volgehoue besmetting van weiveld daardeur gestaak word. Ivomec Super het homself die afgelope 20 jaar bewys as die populêrste endektosied op die Suid-Afrikaanse mark wat volwasse lewerslakwurms teenwerk.

Die volgende aanbevelings kan help om ‘n strategiese bestrydingsprogram by vleisbeeste en vervangingsmelkverse te ontwikkel. Let wel dat hierdie slegs riglyne is. Boere kan met Boehringer-Ingelheim se streeksverteenwoordiger of hoofkantoor in verbinding tree vir meer spesifieke aanbevelings.

  • Ivomec Super in die herfs: Omdat die bedrywighede van die tussengasheer (varswaterslak) in die winter afneem, is die besmettingsdruk laer. Die aanbeveling is dat diere dan, voor die aanvang van die winter wanneer hulle gewoonlik ‘n swakker voedingstatus weens swak winterweiding het, ‘skoongemaak’ word. ‘n Parasietlas verswak diere se vermoë om goed te oorwinter.
  • Ivomec Super in die lente: Enige oorblywende lewerslakwurms uit die vorige herfs, is nou volwasse en moet bestry word voordat die gasheer herbelas word. Beeste kan só die volle voordeel uit lenteweiding benut, mits hul wurmlaste laer is.
  • Ivomec Super vir droë koeie: ‘n Ivomec Super-inspuiting gedurende die droëtydperk, verwyder lewerslakwurms wat produksieverliese en voortdurende weidingsbesmetting meebring, uit die galbuise. Die Ivomec Super-inspuiting verwyder ook skadelike ingewandswurms wat melkproduksie benadeel.

Ivomec Super beheer volwasse lewerslakwurms sowel as inwendige parasiete (rondewurms), uitwendige parasiete (suigende en bytende luise, skurftemyte, sandtampans en beesspykerwurms) en help met die beheer van bloubosluise. – Dr Hein Hesse, Regulatoriese en Tegniese Bestuurder, Boehringer Ingelheim

Boehringer Ingelheim Animal Health South Africa (Pty) Ltd.
Company Reg. No.: 1997/022402/07. Tel: +27 (011) 348-2400. Email: salesAH@boehringer-ingelheim.com.
BI Ref.: V133 (August 2020). Kliëntehulplyn: 0860 637 425.