Tam Safari’s is verlede jaar tydens Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se galadinee as die Oos-Kaapse beroepsjagter van die jaar aangewys, asook as wildboer van die jaar. Hulle is ook op die nasionale WRSA-galadinee vanjaar in Pretoria as die nasionale biodiversiteits- en sosiale ontwikkelingswildplaas van die jaar aangewys.

Tam Safari’s was in 2018 Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se wildboer van die jaar. Van links is Peter Tam, Tebogo Mogashoa, WRSA-president, Warrick Barnard, WRSA se wildboer van die Jaar in 2017, Irvin Tam en Stephen Tam.

Irvin Tam en sy twee seuns, Peter en Stephen, deel ’n liefde vir die natuur en die jagbedryf. Behalwe vir Tam Property Investments, het hulle oor die jare ook bekend geword vir die Amy Bell Charity Trust, hul wildorganisasie vir liefdadigheid wat gestig is om behoeftige kinders in Cradock te help.

Talle inwoners van Cradock en omliggende omgewing, veral die ouer garde, is bekend met die interessante storie van die Tam-familie. Veeplaas het aan Irvin Tam se deur geklop om meer uit te vind.

Cradock se ‘Tams’

Die Tam-familie se voetspore loop diep in die Karoo-aarde om Cradock. Dit is danksy Lo Tim, wat in 1899 op 16-jarige ouderdom vanaf China na Suid-Afrika geïmmigreer het. Die jong man en sy oom het per boot tot in Port Elizabeth gevaar en sou daarvandaan Johannesburg toe reis om op die myne te gaan werk.

Irvin Tam vertel hoe sy oupa sonder enige besittings in die land aangekom het en boonop sy baadjie moes verkoop om kos te kon koop. “My oupa het nie geglo dat daar vir hom ’n toekoms in die mynwese was nie, en toe begin hy vir ’n Indiërfamilie met ’n hoekwinkeltjie op Cradock werk. Hulle het vir hom ’n kamer in die agterplaas gegee en was beïndruk met die ambisieuse jongman, wat mettertyd ook goedere vanuit sy kamer begin verkoop het.”

Lo Tim het by die nonne van Cradock se klooster geleer om Engels te praat en te skryf. Met sy aankoms in Suid-Afrika wou mense weet wat sy naam is, waarop hy gesê het ‘Tim’. Dit is op grond van sy aksent egter as ‘Tam’ aanvaar, en sy van is gevolglik só geregistreer.

Irvin onthou hoe sy oupa die Indiërwinkeltjie op die ou end gekoop het, en dit is presies waar Tam’s Superspar vandag is. Dié winkel word deur sy broer, Keith, behartig.

Hy het by sy oupa geleer om geld te spaar en sy medemens te dien. “Ek het van kleins af geleer om hard te werk, en het na skool by die besigheid ingespring om my pa te help. As jong man het ek altyd meer as een besigheid gehad, onder andere die steenoonde in Cradock. Ek het my eerste huis gekoop toe ek 21 jaar oud was en dit later verkoop om Tam Property Investments, wat geboue oprig of koop en verhuur, te begin. Ons verhuur vandag meer as 80 eiendomme tot so ver as Hermanus.”

Van natuurliefde tot wildonderneming

Irvin sê hy het sy liefde vir die natuur en wild by sy pa geleer. “Toe ek in matriek was, het ek eenmaal ’n paar springbokke geskiet. Ek dink my liefde vir die natuur en wild het toe vlamgevat. Ek het op daardie stadium nie eens daarvan gedroom dat dié passie tot ’n groot wildonderneming met professionele jagdienste, Tam Safari’s, sou lei nie.”

Tam Safari’s by Cradock verwelkom plaaslike en oorsese besoekers regdeur die jaar. (Foto: Gert Coetzee, Hunt Productions)

Hy het in 1995 ’n plaas van 3 000ha genaamd Spekboomberg gekoop. Hy het daar met volstruise begin boer en die velle na Hong Kong, Japan en Amerika uitgevoer. In 1998 het hy die Oos-Kaap se eerste drie lewendige wildveilings op Doornboom by Bedford aangebied. Dit was ’n reuse-sukses en dié tipe veilings het daarna na die res van die provinsie uitgebrei.

Behalwe vir ’n lewendehawemaatskappy waar hy volstruise gekoop en verkoop het, het Irvin vanaf 2002 begin om Amerika toe te reis om jagters te werf. Sy seuns, Peter en Stephen, is baie nou by die onderneming betrokke.

Talle suksesse

Tam Safari’s is in 2016 as Dallas Safari Club se beroepsjagter van die jaar aangewys, en in 2017 was hulle die professionele jagter van die jaar in Houston.

Liefdadigheid is op hierdie stadium Irvin se groot liefde. Die bal is aan die rol gesit toe twee Amerikaanse jagters in 2007 navraag oor liefdadigheidswerk op Cradock gedoen het. Irvin het hulle na ’n tehuis geneem met elf kinders wat deur die HIV-virus geraak was. “Die jagters het $1 000 geskenk en het daarna elke drie maande geld vir die tehuis gestuur.”

Irvin voeg by dat dit sy verantwoordelikheid geword het om die geld te hanteer en dat dit is hoe hy by liefdadigheidswerk betrokke geraak het. “Daar is tans 159 kinders in die tehuis wat hierby baat.”

Hulp aan behoeftige kinders

Hy brei verder uit oor hul wildorganisasie, met Mike Murray en Henriëtte Grobler wat aan die stuur van die Amy Bell Charity Trust is. “Behalwe vir klere, word ongeveer 80 behoeftige kinders in Cradock ook daagliks gevoed. Ons uitgawes is sowat R60 000 per maand en daarom hou ons elke jaar ’n fondsinsamelingsgala op Cradock, met 300 gaste wat selfs van oorsee kom. Verlede jaar het ons R1,2 miljoen vir die trust ingesamel.”

Die trust borg tans ook agt studente by die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth. “Ons help ook twaalf behoeftige leerlinge by Hoërskool Cradock en ander skole. Ons is daarby ook in die proses om ’n koshuis vir meisies op te rig, waar hulle ’n maand voor die eksamen kan woon en studeer.”

Daar is ’n skool vir kinders met leerprobleme op een van die Tam-persele op Cradock, wat ook deur die trust ondersteun word. “Ons het verlede jaar ’n skool vir 200 kinders op Cradock gebou en het onlangs nog ’n skool vir 120 kinders voltooi. Dit is staatskole wat nie genoeg fondse het om in al die leerlinge se behoeftes te voorsien nie.”

’n Groep Amerikaanse studente van Bakersfield in Kalifornië het verlede jaar in Junie met die kinders in Cradock kom werk. ’n Kerkgroep vanaf Dallas kom ook later vanjaar om met verskeie programme na die kinders uit te reik. Irvin glo dat hulle die eerste en enigste wildlewe-organisasie in die land is wat liefdadigheid op só ’n groot skaal bedryf.

’n Liefde vir jag

Tam Safari’s is die enigste fasiliteit in die Oos-Kaap waar leeus in hul natuurlike omgewing geteel en gejag word. Die fasiliteite beslaan 20 000ha, met 40 verskillende wildspesies wat buffels, swart- en witrenosters, swartwitpense en bastergemsbokke insluit. “Diegene wat by ons wildlewe-organisasie betrokke is, het almal ’n liefde vir jag in gemeen. Hulle is egter ook lief vir die natuur en gee om vir hul medemens – dit gaan nie net oor jag en om jagtrofeë te versamel nie. Dit is jammer dat almal nie altyd die groter prentjie raaksien oor wat mense in die wildbedryf vir gemeenskappe doen nie,” sê Irvin. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Irvin Tam by 082 652 6610 of stuur ’n epos aan info@tamsafaris.com.