Na Agri Limpopo, die streekslandboulede-organisasie in Limpopo, sy naam na Limpopo Landbou verander het, het daar gerugte ontstaan dat dié streeksaffiliasie afgestig het van Agri SA, en besig is om te beplan aan die vorming van ’n nuwe lede-organisasie vir landbouers.

Dit is egter net gerugte. Leon Borcherds, president van Limpopo Landbou, het bevestig dat Limpopo Landbou steeds ’n streeksaffiliasie van Agri SA is en steeds dieselfde mandaat het. In ’n persverklaring stel Limpopo Landbou dit duidelik dat die organisasie geen rol speel in die vorming van ’n nuwe lede-organisasie vir landbouers nie.

“Die bestuur van Limpopo Landbou stel dit duidelik dat die organisasie steeds sy mandaat vanaf lede dien, en sal bly dien, met dieselfde toewyding en erns soos in die verlede,” sê Borcherds.

Die organisasie sê dat eenheid in landbou baie belangrik is, veral nou, en dat gerugte soos dié kwaadwillig is, onnodige agterdog skep, onmin saai en eenheid in landbou beskadig. – Marike Brits, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here