Nuus- en gesondheidsplatforms gons steeds oor die omvang van ’n listeriose-uitbreking in verskeie provinsies van Suid-Afrika. Die minister van gesondheid, dr Aaron Motsoaledi, het op 8 Januarie 2018 die jongste inligting oor die uitbreking bekendgemaak.

Read it in English.

Die department deel die volgende statistiek:

  • Sedert Januarie 2017 was daar 727 bevestigde listeriose-gevalle.
  • Sedert 5 Desember 2017 was daar 170 bevestigde listeriose-gevalle.
  • Ten tye van die perskonferensie is 61 mense as gevolg van die uitbreking oorlede.
  • Uit die 727 laboratorium-bevestigde gevalle kon slegs 134 werklike pasiënte opgespoor word.
  • Die uitbreking het Gauteng die ergste getref, met 442 uit 727 gevalle wat in die provinsie bevestig is (61%).
  • Die Wes-Kaap het 13% van die gevalle gehad en KwaZulu-Natal 7%.

Aanmeldbare siekte

’n Baie belangrike verandering sedert die aankondiging van die uitbreking, is dat listeriose sedert 5 Desember 2017 op die Department van Gesondheid se lys van aanmeldbare siektes is. Voor die uitbreking was dit nie ’n aanmeldbare siekte nie. Volgens die minister is ’n heelgenoom-volgordebepaling (whole genome sequencing (WGS)) deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes gedoen om die werklike bron van die uitbreking te bepaal.

Die ST6 listeriose stam is in ál 9 provinsies geïdentifiseer. Die algemene vermoede is dat die uitbreking deur ’n enkelbron besmette voedsel veroorsaak is. Die bron kan in die vorm van ’n enkele voedselproduk wat wyd verbruik word wees of verskillende produkte wat by dieselfde fasiliteit geproduseer is.

In Desember 2017 het omgewingsgesondheidspraktisyns van die stad Tshwane ondersoek ingestel na ’n pasiënt in Tshwane wat met listeriose in die hospitaal opgeneem is en op hoender afgekom wat positief getoets het vir listeria monocytogenes. Die hoender se pad deur die waardeketting is gevolg en die oorsprong daarvan is gevind.

Nog monsters is by die aanleg geneem en het positief getoets vir listeria monocytogenes. Die ondersoek word voortgesit en stappe gedoen.

Die pad vorentoe

Volgens dr Motsoaledi is die proses reeds aan die gang gesit om ’n plan in werking te stel om voedselproduksie-fasiliteite te inspekteer. Dit sal verspakkings- en verspreidingsfasiliteite insluit. Die fasiliteite sal deur omgewingsgesondheidspraktisyns ondersoek word in die provinsies wat die ergste deur die uitbreking geraak is. Die resultate van die ondersoek sal gebruik word om openbare gesondheidsaksies vir die beheer en voorkoming van listeriose te beplan. – Persverklaring

Klik hier vir ‘n verslag oor die huidige situasie wat betref die uitbreking.