Die bron van die wêreld se grootste listeriose-uitbreking is by ’n Enterprise-fabriek in Polokwane, Limpopo, opgespoor. Die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, het die afgelope naweek aangekondig dat die oorsaak van die uitbreking van die hoogs-aansteeklike stam 6 listeriose bakterie in 16% van die monsters by dié fabriek bevestig is.

Ander toetse wat by die Enterprise-fabriek in Germiston, Gauteng, en ’n Rainbow Chickens-fabriek in Sasolburg, Vrystaat, gedoen is, het ook positief getoets vir listeriose maar toetse sal nog moet bevestig of dit wel ook stam 6 van dié bakterie is wat mense tans regoor Suid-Afrika besmet.

Volgens Motsoaledi het listeriose sedert Januarie 2017 meer as 170 lewens geëis. Die publiek is aangemoedig om nie verwerkte vleisprodukte soos salami en weense worsies te eet nie. Enterprise Foods en verskeie kettingwinkels het al aangekondig dat hulle van hierdie produkte gaan herroep.

Meer inligting 

Talle Grootplaas- en RSG Landbou-onderhoude het onlangs oor die listeriose-uitbreking gehandel.

Linda Jackson van Food Focus het kykers op Grootplaas op hoogte gebring van die verskillende stelsels in die voedselveiligheidsbedryf om hierdie tipe uitbrekings so ver as moontlik te verhoed.

Sy het ook onlangs op RSG Landbou meer vertel. Klik hier om weer daarna te luister.

Dr Gerhard Neethling van die Rooivleis-abattoirvereniging het ook op Grootplaas gepraat oor die stelsels wat rooivleisabattoirs het om voedselveiligheid te verseker. Klik hier om na dié uitsending te kyk. – Ursula Human, AgriOrbit