Die wingerdboukundige prof Piet Goussard is op 7 Februarie 2019 met die ikoniese 1659-erepenning vereer by die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid op die geskiedkundige Groot Constantia-landgoed.

Read it in English.

Volgens dr Ernest Messina, voorsitter van Groot Constantia, word hierdie erepenning reeds sedert 1974 aan persone toegeken wat diep spore in die wynbedryf getrap het.

“Prof Goussard het in sy loopbaan ’n belangrike rol gespeel in opleiding, navorsing en tegnologie-oordrag in wingerdbou. Hy is ’n erkende deskundige in verskeie belangrike aspekte van wingerdbou,” sê dr Messina.

“Sy beduidende loopbaanprestasies getuig van ’n professionele lewe wat toegespits is op die bevordering van wingerdbou as dissipline en die Suid-Afrikaanse druiwe- en wynbedryf in die algemeen.”

Prof Piet Goussard (middel), ontvanger van die 1659-erepenning, saam met voormalige ontvangers van die erepenning. Van links is Duimpie Bayly (1999), Norma Ratcliffe (2015), Jan Scannell (2014) en Charles Back (2017).

Prof Goussard kom oorspronklik van Prieska en later Agter-Paarl, waar hy tydens skoolvakansies kennis gemaak het met die wêreld van tafel- en wyndruifboerdery. Hy het in 1965 by die Universiteit van Stellenbosch se Departement Wingerd- en Wynkunde aangesluit, waar hy sy loopbaan as professor in wingerdkunde in 2010 afgesluit het. Hy was vir 14 jaar die hoof van die departement.

Sy navorsingsuitsette geniet wye erkenning en word vandag nog in die bedryf gebruik. Hy het 70 wetenskaplike en gewilde artikels gepubliseer en verskeie toekennings ontvang, soos die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Enologie en Wynkunde (SASEV) se gesogte merietemedalje in 2001. Hy was vir 15 jaar die redakteur van die vlagskipjoernaal van SASEV, die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Enologie en Wingerdkunde.

Prof Goussard, wat alom as ’n “lopende wynbou-ensiklopedie” beskou word, het in die laaste agt jaar drie boeke gepubliseer waarin hy sy uitgebreide wingerdboukennis en sy passie vir fotografie kombineer.

Die Wynoesherdenkingsgeleentheid word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning en vennootskappe van Groot Constantia-landgoed, Die Burger, Standard Bank en Vinpro. – Persverklaring

Prof Piet Goussard (middel), ontvanger van die 1659-erepenning, saam met vennote van die Wynoesherdenkingsgeleentheid. Van links is dr Ernest Messina, voorsitter van Groot Constantia, Reghardt Strauss, landbouspesialis van Standard Bank in die Wes-Kaap, Anton Smuts, voorsitter van Vinpro, en Willem Jordaan, redakteur van Die Burger.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here