Agter van links is Thys Meyer, Martin van Rooyen, Miles Dicke, prof Frikkie Neser en Jacques Els. In die middel is dr Michael Bradfield, Wayne Porter, Llewellyn Angus, Kobus Bester, Mecki Schneider, Johan Styger en John Rafferty. Voor is Hanri van der Merwe, Amari Bornman, Izaan du Plooy en Danie Erasmus.

Die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) het op 13 Februarie 2019 sy algemene jaarvergadering gehou. Dié organisasie verteenwoordig nege vleisbeesrasse in Suid-Afrika, 38 genootskappe in Namibië en 24 genootskappe in Zimbabwe.

Wayne Porter is tydens die vergadering as die nuwe voorsitter en Mecki Schneider as ondervoorsitter verkies, nadat Kobus Bester na vier jaar afgetree het. Verskeie belangrike sake is ook bespreek.

Aldam Veeskool

Die Aldam Veeskool was in 2018 weereens vol bespreek. Die skool bly een van die wêreld se beste forums om boere op hoogte te hou van die nuutste tendense en tegnologieë in die veebedryf. Hierdie jaar se tema is “Nuwe tegnologieë vir presisie-veeboerdery”.

Bees Genomiese Projek

Die eerste fase van die Bees Genomiese Projek (BGP) het ’n groot en positiewe impak op die LRF-rasse gehad. Die opsomming van die resultate en vordering wat die afgelope drie jaar gemaak is, wys dat die akkuraatheid van teelwaardes vir bulle met ongeveer 10% gestyg het. Heelwat nuwe data vir moeilik meetbare eienskappe soos vleissagtheid en voerinname is ook bygevoeg. Die LRF-rasse is gereed om later vanjaar met die tweede rondte van die projek te begin.

Breedplan

Die LRF se diensverskaffer, Breedplan, is tans besig om vir al die LRF-rasse genomiese modules op te stel. Dit gaan die rasse in staat stel om vanuit hul kantore ’n eenstopdiens vir registrasies, prestasies en genomiese dienste aan lede te verskaf.

’n Voorgestelde strategiese plan onder leiding van prof Frikkie Neser, met die aksieplanne duidelik uiteengesit, is ook in detail bespreek. – Persverklaring