Estimated reading time: 2 minutes

Die tweede wolveiling van die seisoen het op 18 Augustus plaasgevind met 9 046 bale wat aangebied is, waarvan 85,66% verkoop is. Altesaam 48% van die Merinowol-aanbod was volhoubaar geproduseer.

Read it in English

Die mark het 0,9% opwaarts beweeg vanaf die vorige veiling om teen R167,64/kg te sluit.

Die swakker rand het die mark te midde van gemengde marksentiment ondersteun. Die Australiese mark was ook wisselvallig om 2,7% laer as die vorige veiling wat op 12 Augustus plaasgevind het, te sluit. Dit hoofsaaklik as gevolg van kopersweerstand.

Fyner wol het swak vertoon, terwyl lang en gesertifiseerde wol die mark positief beïnvloed het.

Die rand het 0,7% swakker teen die Amerikaanse dollar verhandel, met die mark wat met 0,19% in Amerikaanse dollarterme toegeneem het.

Gemiddelde wolpryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 0,5% en sluit teen R230,65/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 1,6% en sluit teen R216,25/kg.
  • 19 mikron verlaag met 1,4% en sluit teen R195,17/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 1,7% en sluit teen R178,51/kg.
  • 20 mikron is 0,2% op en sluit teen R158,83/kg.
  • 20,5 mikron is 1,7% sterker en sluit teen R154,56/kg.
  • 21 mikron styg met 0,8% en sluit teen R152,11/kg.
  • 21,5 mikron het 0,9% toegeneem en sluit teen R147,52/kg.
  • 22 mikron styg 1,8% en sluit teen R140,75/kg.
  • 22,5 mikron is 1,2% beter en sluit teen R136,41/kg.

Die volgende wolveiling is vir 1 September 2021 geskeduleer. – Persverklaring, Cape Wools SA