Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-Ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte. Hierdie is die oorsig vir Augustus 2019.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende Augustus redelik teruggesak. Die daling in prys kan gedeeltelik toegeskryf word aan graad-probleme met die witmielie-oes wat baie van die witmielies na die veevoermark kanaliseer. Die mark het gesluit op R2 661/ton.

Geelmielieprys (Bron: Statistiek SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende Augustus skerp verswak teenoor die vernaamste geldeenhede en het teen die swakste vlakke nóg vir die jaar verhandel. Aan die einde van die maand het dit teen onderskeidelik R15,18 en R16,68 teenoor die dollar en euro verhandel.

Beide verbruikersprysinflasie (VPI) en produsenteprysinflasie (PPI) het verlangsaam tot onderskeidelik 4% en 4,9% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag, met die prima-uitleenkoers wat steeds op 10% is. Goeie nuus is dat ekonomiese groei vir die tweede kwartaal van 2019, voorgestel deur die BBP, gestyg het tot 0,9% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Kwartaal-op-kwartaal het die ekonomie met 3,1% gegroei.

Wisselkoers (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese aanwysers (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese groei (Bron: Statistiek SA)

Rooivleismark

Gedurende Augustus het die mark vir al drie grade beeskarkasse redelik sywaarts beweeg, alhoewel die pryse effens wisselvallig was. In die geval van skaapvleis het die prys van A2-karkasse effens teruggesak voor dit in die laaste week weer gestyg het. B2-karkasse se prys het egter verstewig, terwyl die prys van C2-karkasse redelik sywaarts beweeg het.

Die laaste beskikbare pryse vir beesvleis in Augustus was R45,11/kg vir A2, R39,06/kg vir B2 en R37,07/kg vir C2. A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R69,44/kg, R54,77/kg en R49,86/kg. In die geval van speendiere het die prys van lammers skerp gedaal, terwyl die prys van kalwers verstewig het. Die laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R28,49/kg vir kalwers en R34,00/kg vir lammers. Die pryse van huide en velle het sywaarts beweeg.

Beesvleis (Bron: RVAV)
Skaapvleis (Bron: RVAV)
Speenkalwers- en lammers (Bron: RPO)
Velle en huide (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Wol- en bokhaarmarkte is tans onder geweldige druk weens kopers se probleme met kontantvloei, aangesien dit na die bek-en-klouseeruitbreking lank vat om wol uit te voer. Gedurende Augustus was daar een bokhaarveiling, met die wolveilings wat uitgestel was om in September te begin. Die skoonwol-aanduider het tydens die eerste veiling van die seisoen in September 28,3% laer verhandel as tydens die laaste veiling van die vorige seisoen. 

Jaar-op-jaar is die prys van skoonwol ongeveer 61,3% laer. Die bokhaarmark vaar nie veel beter nie. Die eerste veiling van die seisoen was heelwat laer as die laaste veiling van die vorige seisoen. Die sybokhaar-aanwyser het tydens die tweede veiling van die seisoen in September nóg verder teruggesak en met 11,4% verswak teenoor die vorige veiling en 39,5% laer verhandel as ‘n jaar gelede.

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk en eiers het in Augustus effens gedaal, terwyl die indeks van melkprodukte gestyg het. Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het tydens dieselfde tydperk gestyg.

Produsenteprysindeks (Bron: Statistiek SA)
Verbruikersprysindeks (Bron: Statistiek SA)

Klik op die skakel om Julie se markoorsig te besigtig.

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan dr Frikkie Maré MareFA@ufs.ac.za.