Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-ekonomie by die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English.

Mieliemark

Die laat somerreën het veroorsaak dat die prys van geelmielies ’n sterk opwaartse lopie in Desember gehad het. Die mark het op R2 731/ton gesluit.

 

 

Ekonomiese aanwysers

Die rand het in Desember verswak, en teen die einde van die maand teen onderskeidelik R14,35 en R16,46 teenoor die dollar en euro verhandel. Die verbruikersprysinflasie (VPI) het in November tot 5,2% gestyg, terwyl die produsenteprysinflasie (PPI) effens verlangsaam het tot 6,8%. Goeie nuus is dat die ekonomiese groei vir die derde kwartaal van 2018, voorgestel deur die BBP, met 1,1% op ’n jaar tot jaar grondslag gestyg het.

 

Rooivleismark

Dit was interessant dat beide die mark vir bees- en skaapvleis in Desember sywaarts verhandel het en die normale Desember-prysstygings glad nie voorgekom het nie. Die laaste beskikbare pryse vir beesvleis in Desember was R45,64/kg vir A2, R40,70/kg vir B2 en R40,09/kg vir C2. A2-, B2- en C2-lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R73,78/kg, R64,50/kg en R59,84/kg. In die geval van speendiere het die skerp styging in die mielieprys die prys van speenlammers en speenkalwers onder druk geplaas. Die pryse was onderskeidelik R31,79/kg vir kalwers en R34,50/kg vir lammers. Die prys van huide en Dorper-velle het in Desember sywaarts beweeg, terwyl Merino-velle se prys gedaal het.

 

Wol- en bokhaarmark

Die aanwyserprys van skoonwol het in Desember effens verbeter teenoor die laste veiling van die vorige maand en 0,1% hoër verhandel, terwyl dit 10,2% hoër verhandel het as ’n jaar gelede. Die aanwyserprys van sybokhaar het tydens die veiling in Desember 4,1% laer verhandel as tydens die vorige veiling, maar 16,1% hoër as ’n jaar gelede.

 

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk en eiers het in November gedaal, terwyl die indeks van melkprodukte gestyg het. Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het tydens dieselfde tydperk gestyg.

 

Gallery: