Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English. 

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende Februarie stadig afwaarts beweeg, soos die vooruitsigte vir die nuwe oes verbeter het na die goeie reën wat baie areas in Februarie ontvang het. Die mark het op R2 580/ton gesluit.

 

Ekonomiese aanwysers

Die rand het na ’n goeie lopie in Januarie stadig begin veld verloor in Februarie, en laer verhandel teen onderskeidelik R14,07 en R16,03 teenoor die dollar en euro. Verbruikersprysinflasie (VPI) en het in Januarie verder verlangsaam tot 4% op ’n jaar-tot-jaar-grondslag, terwyl produsenteprysinflasie (PPI) ook verlangsaam het tot 4,1%. Die slegte nuus is dat die ekonomiese groei vir die vierde kwartaal van 2018, voorgestel deur die BBP, verlangsaam het tot 1,1% op ’n jaar-tot-jaar-grondslag vanaf die derde kwartaal se 1,3%.

Rooivleismark

Dit wil voorkom of die rooivleismark op ’n stadige herstelpad is na Januarie en die meeste van die pryse het gedurende Februarie herstel getoon. Die laaste beskikbare pryse vir beesvleis in Februarie was R39,39/kg vir A2, R38,32/kg vir B2 en R38,12/kg vir C2. A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R65,49/kg, R56,68/kg en R52,94/kg.

In die geval van speendiere het die pryse van beide speenkalwers en -lammers ook herstel. Die laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R29,91/kg vir kalwers en R34,50/kg vir lammers. Die mark vir huide en velle is verskriklik onder druk en selfs die prys van Merinovelle, wat redelik sterk gebly het, het in Februarie met meer as 50% gedaal. Dorpervelle en -huide het ook laer verhandel.

 

Wol- en bokhaarmark

Interessant genoeg het die indikatorprys van skoonwol redelik sywaarts bly verhandel in Februarie, selfs al het China hul grense gesluit weens die bek-en-klouseer situasie in Suid-Afrika. Skoonwol het tydens die laaste veiling van Februarie effens verswak en 0,3% laer verhandel as tydends die vorige veiling. Die indikatorprys was steeds egter 15% hoër as ’n jaar gelede. Die indikatorprys van sybokhaar het tydens die veiling in Februarie geen verandering getoon nie en op dieselfde vlak as in Desember 2018 verhandel, wat 11,5% hoër is as ’n jaar gelede.

 

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk en eiers het in Januarie effens teruggesak, terwyl die indeks van melkprodukte sywaarts beweeg het. Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het tydens dieselfde periode gestyg.