Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-Ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte. Hierdie is die oorsig vir Julie 2019.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het vanaf middel Julie begin terugsak en toe vir die res van die maand onder R2 800/ton verhandel.  Die mark het gesluit op R2 765/ton.

Geelmielieprys (Bron: Statistiek SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende die grootste deel van Julie verstewig teenoor die vernaamste geldeenhede alvorens dit weer verswak het en aan die einde van die maand teen onderskeidelik R14,36 en R15,87 teenoor die dollar en euro verhandel het.

Verbruikersprysinflasie (VPI) en het gedurende Julie stabiel gebly op 4,5% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag, terwyl produsenteprysinflasie (PPI) verlangsaam het tot 5,8% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Die SARB het die repokoers met 25 basispunte verlaag tydens Julie, wat die prima-uitleenkoers tot 10% laat daal het.

Slegte nuus is dat die ekonomiese groei vir die eerste kwartaal van 2019, voorgestel deur die BBP, gedaal het tot 0% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Kwartaal op kwartaal het die ekonomie met 3,2% ingekrimp.

Wisselkoers (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese aanwysers (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese groei (Bron: Statistiek SA)

Rooivleismark

Gedurende Julie het die mark vir A-graad beeskarkasse verder herstel, terwyl die pryse van B- en C-graad karkasse redelik sywaarts beweeg het. In die geval van skaapvleis het die pryse ook redelik sywaarts beweeg. Die laaste beskikbare pryse vir beesvleis in Julie was R45,05/kg vir A2, R39,91/kg vir B2 en R37,21/kg vir C2. A2, B2 en C2 lam en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R69,65/kg, R51,41/kg en R48,91/kg. In die geval van speendiere het beide die pryse van lammers en kalwers teruggesak. Die laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R27,18/kg vir kalwers en R37,51/kg vir lammers. Die pryse van huide en velle het sywaarts beweeg.

Skaapvleis (Bron: RVAV)
Beesvleis (Bron: RVAV)
Speenkalwers en -lammers (Bron: RPO)
Velle en huide (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Daar was geen veselveilings gedurende Julie nie. Skoonwol het tydens die laaste veiling van die seisoen in Junie op dieselfde vlak verhandel as tydens die vorige veiling, maar 2,9% laer as ‘n jaar gelede.  Die sybokhaar-aanduider het tydens die laaste veiling van die seisoen in Junie met 2,1% verswak teenoor die vorige veiling en 2,6% laer verhandel as ‘n jaar gelede.

Suiwelmark

Die PPI van melk en eiers het in Julie verder gestyg, terwyl die indeks van melkprodukte ook verbeter het. Die VPI van melk, eiers en kaas het tydens dieselfde periode ook gestyg. – Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat.

Produsenteprysindeks (Bron: Statistiek SA)
Verbruikerprysindeks (Bron: Statistiek SA)

Klik hier om Junie se markoorsig te lees.