Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het aan die begin van Julie teruggesak voordat dit weer verstewig het en op R2 162/ton gesluit het.

 

 

Ekonomiese aanwysers

Die rand het in Julie effens veld gewen teen die vernaamste geldeenhede, en teen onderskeidelik R13,36 en R15,60 teenoor die dollar en euro verhandel. Die verbruikersprysinflasie (VPI) het in Junie toegeneem tot 4,6%, terwyl die produsenteprysinflasie (PPI) tot 5,9% gestyg het. Die ekonomiese groei vir die eerste kwartaal van 2018, voorgestel deur die bruto binnelandse produk (BBP), het op ’n jaar-tot-jaar grondslag met 0,8% gestyg.

 

Rooivleismark

Die prys van A2-beeskarkasse het in Julie gedaal, met B- en C-grade wat baie wisselvallige pryse vertoon het. Die laaste beskikbare pryse vir Julie was R46,30/kg vir A2, R43,15/kg vir B2 en R40,43/kg vir C2. In die geval van skaapvleis het die pryse van al drie grade egter verder toegeneem, en A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R82,66/kg, R70,10/kg en R61,53/kg.

In die geval van speendiere het die prys van speenkalwers effens gestyg, terwyl die prys van speenlammers in die laaste beskikbare week skerp gedaal het. Die pryse was onderskeidelik R34,65/kg vir kalwers en R44,17/kg vir lammers. Die prys van huide het in Julie verder verswak, met nog laer pryse wat voorspel word, terwyl Dorper- en Merino-velle se pryse effens verbeter het.

 

Wol- en bokhaarmark

Daar was geen wol- en bokhaarveilings in Julie nie. Die aanduiderprys van skoonwol het by die laaste veiling van die seisoen in Junie met 2,3% teenoor die vorige veiling verstewig en 26,6% hoër verhandel as tydens die vorige jaar. Die aanduiderprys van sybokhaar het ook by die laaste veiling van die seisoen in Junie gestyg en 3,8% hoër verhandel as tydens die vorige veiling. Die aanduiderprys vir bokhaar was 35,1% hoër as ’n jaar gelede.

 

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk en eiers, asook dié van melkprodukte, het in Junie gedaal. Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het in dieselfde tydperk ook effens gedaal. – Markverslag