Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-Ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte. Hierdie is die oorsig vir Junie 2019.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende Junie wisselvallig maar redelik sywaarts beweeg. Die mark het op R2 855/ton gesluit.

Geelmielieprys (Bron: Statistiek SA).

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende Junie aanvanklik skerp verswak teenoor die vernaamste geldeenhede voordat dit weer versterk het en aan die einde van die maand teen onderskeidelik R14,07 en R15,93 teenoor die dollar en euro verhandel het. Verbruikersprysinflasie (VPI) het gedurende Junie gestyg tot 4,5% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag, terwyl produsenteprysinflasie (PPI) verlangsaam het tot 6,4% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Slegte nuus is dat ekonomiese groei vir die eerste kwartaal van 2019, voorgestel deur die BBP, gedaal het tot 0% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Kwartaal-op-kwartaal het die ekonomie met 3,2% ingekrimp.

Wisselkoers (Bron: Statistiek SA).
Ekonomiese aanwysers (Bron: Statistiek SA).
Ekonomiese groei (Bron: Statistiek SA).

Rooivleismark

Gedurende Junie het die mark vir A-graad beeskarkasse verder herstel. Die pryse van B- en C-graad karkasse het egter redelik sywaarts beweeg. In die geval van skaapvleis het die pryse van A-grade wisselvallig vertoon maar tog gestyg, terwyl die prys van B- en C-graad karkasse wisselvallig sywaarts beweeg het. Die laaste beskikbare pryse vir beesvleis in Junie was R44,75/kg vir A2, R39,24/kg vir B2 en R37,24/kg vir C2. A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R70,77/kg, R51,38/kg en R47,39/kg. In die geval van speendiere het die prys van lammers skerp gestyg, terwyl die prys van kalwers sywaarts beweeg het. Die laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R27,70/kg vir kalwers en R39,18/kg vir lammers. Die prys van huide het sywaarts beweeg terwyl velle se pryse verder gedaal het.

Skaapvleis (Bron: RVAV).
Beesvleis (Bron: RVAV).
Speenkalwers en -lammers (Bron: RPO).
Velle en huide (Bron: RVAV).

Wol- en bokhaarmark

Skoonwol het tydens die laaste veiling van die seisoen op dieselfde vlak verhandel as gedurende die vorige veiling, maar 2,9% laer as ‘n jaar gelede.  Die aanduiderprys van sybokhaar het tydens die laaste veiling van die seisoen met 2,1% verswak teenoor die vorige veiling en 2,6% laer verhandel as ‘n jaar gelede.

Suiwelmark

Die PPI van melk en eiers het in Junie verder gestyg, terwyl die indeks van melkprodukte ook verbeter het. Die VPI van melk, eiers en kaas het gedurende dieselfde periode skerp gestyg.

Produsenteprysindeks (Bron: Statistiek SA).
Verbruikersprysindeks (Bron: Statistiek SA).