Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English. 

Mieliemark

Die prys van geelmielies het in November sterk wisselvallig vertoon met ’n aanvanklike styging in die prys, voordat die prys skerp gedaal het. Die mark het op R2 361/ton gesluit.

 

 

Ekonomiese aanwysers

Die rand het in November verstewig en teen die einde van die maand teen onderskeidelik R13,70 en R15,56 teenoor die dollar en euro verhandel. Verbruikersprysinflasie (VPI) het in Oktober tot 5,1% gestyg, terwyl produsenteprysinflasie (PPI) tot 6,9% gestyg het. Goeie nuus is dat die ekonomiese groei vir die derde kwartaal van 2018, voorgestel deur die BBP, met 1,1% op ’n jaar tot jaar-grondslag gestyg het.

 

Rooivleismark

Die pryse van B- en C-grade beeskarkasse het wisselvallig vertoon in November, terwyl die prys van A-grade gedaal het voor dit in die laaste week skerp verstewig het. Die laaste beskikbare pryse vir November was R45,84/kg vir A2, R40,64/kg vir B2 en R39,65/kg vir C2. Skaap- en lamsvleis het dieselfde tendens as beesvleis getoon en A2-, B2- en C2-lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R74,27/kg, R66,88/kg en R59,60/kg.

In die geval van speendiere het die prys van speenlammers skerp gedaal terwyl die speenkalfpryse sywaarts beweeg het. Die pryse was onderskeidelik R33,34/kg vir kalwers en R36,67/kg vir lammers. Die prys van huide het in November gedaal terwyl Dorpervelle se prys sywaarts beweeg het. Merinovelle se prys egter effens verbeter teenoor die vorige maand.

 

Wol- en bokhaarmark

Die indikatorprys van skoonwol het in November effens verbeter teenoor die vorige maand. Op die laaste veiling het die prys egter weer met 1,1% verswak teenoor die vorige veiling, en 7,4% hoër verhandel as in die vorige jaar. Die indikatorprys van sybokhaar het op die laaste veiling in November 1,5% hoër verhandel as op die vorige veiling, en 19,4% hoër as ’n jaar gelede.

 

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk en eiers, en dié van melkprodukte het in Oktober gedaal. Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het in dieselfde tydperk ook gedaal.

 

Gallery: