Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English. 

Mieliemark

Die prys van geelmielies het in Oktober, soos in September, redelik siklies sywaarts beweeg.  Die mark het op R2 406/ton gesluit.

 

 

Ekonomiese aanwysers

Die rand het in Oktober redelik sywaarts beweeg, maar oor die algemeen sterker vertoon as in September. Aan die einde van die maand het die rand teen onderskeidelik R14,71 en R16,70 teenoor die dollar en euro verhandel. Verbruikersprysinflasie (VPI) en het in September op dieselfde vlak, 4,9%, as in Augustus gebly terwyl produsenteprysinflasie (PPI) tot 6,2% gedaal het. Die ekonomiese groei vir die tweede kwartaal van 2018, voorgestel deur die BBP, het met 0,4% op ’n jaar-tot-jaar-grondslag gestyg.

 

Rooivleismark

Die pryse van al drie grade beeskarkasse het in Oktober gedaal. Die laaste beskikbare pryse vir Oktober was R45,30/kg vir A2, R39,59/kg vir B2 en R38,81/kg vir C2. Skaap- en lamsvleis het dieselfde tendens as beesvleis getoon en die pryse van al drie grade het hier ook gedaal. A2, B2 en C2-lam en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was R71,76/kg, R59,52/kg en R56,09/kg onderskeidelik. In die geval van speendiere het die prys van speenlammers gedaal terwyl die speenkalfpryse sywaarts beweeg het. Die pryse was onderskeidelik R33/kg vir kalwers en R41/kg vir lammers. Die prys van huide en Dorpervelle het in Oktober wisselvallig sywaarts beweeg, terwyl Merinovelle se pryse gedaal het.

 

Wol- en bokhaarmark

Die aanwyserprys van skoonwol het in Oktober sterk veld verloor, maar op die laaste veiling effens verbeter. Op hierdie veiling het die prys met 2,7% versterk teenoor die vorige veiling, en 16,4% hoër verhandel as in die vorige jaar. Die aanwyserprys van sybokhaar het op die veiling in Oktober 1,1% laer verhandel as op die vorige veiling, maar 26,2% hoër as ’n jaar gelede.

 

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk en eiers en dié van melkprodukte het in September gedaal. Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het in dieselfde tydperk gestyg.