Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English. 

Mieliemark

Hoewel die prys van geelmielies ’n sterk opwaartse lopie aan die begin van September gehad het, het die prys na die einde van die maand toe weer begin daal. Die mark het op R2 352/ton gesluit.

 

 

Ekonomiese aanwysers

Die rand het aan die begin van September skerp verswak teenoor die vernaamste geldeenhede, maar gelukkig weer bietjie veld gewen na die einde van die maand toe en teen onderskeidelik R14,12 en R16,39 teenoor die dollar en euro verhandel. Verbruikersprysinflasie (VPI) het in Augustus effens afgeneem tot 4,9% terwyl produsenteprysinflasie (PPI) tot 6,3% gestyg het. Die ekonomiese groei vir die tweede kwartaal van 2018, voorgestel deur die BBP, het met 0,4% op ’n jaar-tot-jaar-grondslag gestyg.

 

Rooivleismark

Die pryse van A- en C-graad-beeskarkasse het in September gedaal, terwyl die prys van B-grade wisselvallig vertoon het. Die laaste beskikbare pryse vir September was R45,77/kg vir A2, R42,13/kg vir B2 en R40,02/kg vir C2. In die geval van skaapvleis het die pryse van A2- en B2-karkasse gedaal terwyl C2’s se prys eers skerp gestyg het en toe weer teruggesak het. A2-, B2- en C2-lam en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R76,54/kg, R64,55/kg en R61,24/kg. In die geval van speendiere het die prys van speenkalwers gedaal terwyl die speenlampryse wisselvallig vertoon het. Die pryse was onderskeidelik R32,78/kg vir kalwers en R42,37/kg vir lammers. Die prys van huide het in September effens verbeter, terwyl Dorper- en Merinovelle se pryse wisselvallig sywaarts verhandel het.

 

Wol- en bokhaarmark

Die indikatorprys van skoonwol het op die laaste veiling van September met 5,6% verswak teenoor die vorige veiling, maar 22,7% hoër verhandel as in die vorige jaar. Die indikatorprys van sybokhaar het op die veiling in September 6% laer verhandel as op die vorige veiling, maar 30,8% hoër verhandel as ’n jaar gelede.

 

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk en eiers, en dié van melkprodukte het in Augustus gedaal. Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het in dieselfde tydperk ook gedaal.