
Die bestuur van Doornfontein Landbouvereniging in die Prieska-omgewing, het op 17 Februarie ’n geslaagde Meatmaster Boeredag aangebied, met Jean du Plessis as gasspreker. Hy het die boere ingelig oor die voor- en nadele van dié ras en gesê dit is ’n veelsydige ras wat op produksie en funksionele doeltreffendheid gerig is. Hy sê die ras is nie juis ingestel op karkaskompetisies nie, maar eerder om vir die boer geld in die sak te bring.

Die ras is in die vroeë negentigerjare geregistreer nadat telers welslae behaal het met die kruising van Dorper- en Damara-skape. Die Damaras het uitsonderlike vrugbaarheid aan die ras gegee en die Dorpers het aanvaarbare lammers gegee.
Die Meatmaster is ook ’n goeie kruisras en talle kommersiële boere getuig daarvan dat hulle sukses gehad het met Meatmaster-ramme in hul kuddes, en dat die lammers wat hulle mark toe kan stuur vir hul goeie geld in die sak besorg.
Vrugbaar, selfonderhoudend en gehard
Die Meatmaster is besig om in gewildheid toe te neem, en hoewel dit aanvanklik vir die harde droë wêreld van die Karoo en die Kalahari geteel is, wen die ras al hoe meer veld in ander dele van die land ook. Volgens Jean is een van die goeie eienskappe van die ras dat dit in enige soort boerderypraktyk aangewend en met sukses gebruik kan word – veral omdat die dier baie vrugbaar, selfonderhoudend op die veld en baie gehard is.

Die dag het baie goed verloop en diegene wat dit bygewoon het, sê hulle kan nou met ander oë na hierdie ras kyk. Baie van hulle oorweeg dit sterk om die Meatmaster op hul plase op die proef te stel. – Koos du Pisanie, AgriOrbit