Stefan Erasmus van die plaas Beskuitfontein tussen Middelburg en Noupoort in die Oos-Kaap is tydens die galadinee van die jaarkongres van Agri Oos-Kaap as die Oos-Kaap jongboer van die jaar aangewys. Baie geluk!

Lees dié artikel oor sy boerdery wat in die Februarie 2017 uitgawe van Veeplaas geplaas is:

Beskuitfontein se benadering tot Bonsmaras

’n Beesboerdery wat klein is of nie ’n mens se hoofboerdery is nie, moet ongekompliseerd wees, en om die pad met die regte stoetteler te stap, maak dit ’n volle werklikheid.

Hierdie artikel fokus op ’n kleiner Bonsmaraboerdery tussen Middelburg en Noupoort in die Noordoos-Kaap. Op Beskuitfontein word boerderypraktyke deeglik onder oë geneem, en nie eens ’n doringlose turksvy (wat steeds vol dorings is!) staan in die pad daarvan nie.

Hier word oorwegend met Merinoskape geboer, terwyl die 100 Bonsmaras aanvullend tot die boerdery is. Stefan Erasmus volg nie net in die voetspore van sy pa, Pieter, nie, maar glo dat tyd en herevaluering ’n oorwegende faktor by besluitneming is. Hy noem dat SP Erasmus-boerdery se sukses te danke is aan die fondasie wat sy voorouers en ouers gelê het.

Sy vrou, Yolandi, het voorgraads plant- en dierkunde studeer, en nagraads restourasie-ekologie, wat oor die herstel van gedegradeerde gebiede, insluitende veld wat agteruitgaan, handel. Sy is tans besig met ’n doktorsgraad in plantkunde, spesifiek oor die bestuur van gerestoureerde spekboomveld.

“Dis nie maklik om terselfdertyd ’n produsent se vrou te wees nie, maar dit is ’n plesier en gehalte-lewe.” Sy voeg by dat hulle as ’n span boer en dit ’n groot gemeenskaplike faktor is.

Twee sleutelfaktore vir sukses

Twee faktore speel ’n oorheersende rol by Beskuitfontein se Bonsmaraboerdery, wat in 1999 tot stand gekom het, naamlik eenvoud en goeie bestuur. Eenvoud is, volgens Stefan en Yolandi, om ’n aangepaste en presterende dier te teel, wat met gemak reproduseer. Die geriewe en infrastruktuur moet ook só wees dat ’n mens met gemak doeltreffend kan werk.

Geen kruisteling word gedoen nie en die verse word vir teeldoeleindes verkoop. Teling is ook nooit finaal nie, want ’n kudde word met goeie gene en streng seleksie verbeter. “Bonsmaras word met ’n rits inherente genetiese voordele geteel en dit kan baie lank neem om dieselfde eienskappe op te bou as ’n mens met ander beesrasse werk,” sê Stefan.

Hy noem terselfdertyd dat hy geensins op ander rasse neerkyk nie – sy uitgangspunt is slegs dat Bonsmaras ’n geharde ras is wat uitstekende produksie bied. “Ons het voorheen met Simmentalers geboer, maar hulle is te groot gebou vir hierdie gebied. Die Bonsmaras pas maklik aan en hul uitstekende temperament komplimenteer die ras.”

Syfers en teelwaardes

Die fokus is op akkurate syfers en teelwaardes. “Ons het geleidelik daarin geslaag om die koeie se gewig met sowat 50kg te verminder.”

Daar word met goeie seleksie uit die stoetbulle kleiner kalwers by geboorte geproduseer. Die mikpunt is kalwers tussen 34 en 36kg by geboorte, en ondanks die droogte het kalwers verlede jaar gemiddeld met 900g per dag gegroei.

Die seleksie van bulle vir die kudde is uiters belangrik en hulle word op veilings by Dirk Spaargaren van Karooveld Bonsmaras, ’n stoetery naby Steynsburg, gekoop. “Daar selekteer ek volgens akkurate waardes watter bulle nodig is. Dirk se bulle het ’n lang geskiedenis en omdat dit Karoo-aangepaste diere is, ondervind ons geen probleme nie,” vertel Stefan.

Bulletjies wat op Beskuitfontein gebore word, word so gou as moontlik aan ’n voerkraal verkoop, terwyl die verse twee jaar gegun word om vas te stel of hulle presteer. Oortollige verse wat nie binne die boerdery se seleksiedoelwitte val nie, word jaarliks op Dirk se veiling verkoop.

“Ons beleid is om by sekere mikpunte te hou. As ’n dier nie presteer nie, kan jy nie daarmee boer nie. Dit is maklik om vir ’n mooi dier verskonings te soek, maar as hy nie goed vaar nie, is hy volgende jaar nie meer hier nie.” Daarom hou Stefan die kudde eenvoudig, terwyl elke nuwe geslag genoeg tyd gegun word om hulself te bewys.

Boer met die veld

Die antwoord op ’n vraag wat Stefan onlangs aan ’n student gestel het, was dat hulle met skape en beeste boer, en hy grinnik daaroor. “Dit is in ’n mate waar, maar ek maak net my geld daarmee. Eintlik boer ek met grond, bossies en gras. Grond word nie vinnig gemaak of gekoop nie, en as jou spesie-variëteite nie reg bestuur word nie, kan dit dekades of geslagte neem om reg te stel.”

Hulle boer volgens ’n wisselweidingsprogram waarvolgens elke kamp twee keer in ’n siklus van 14 maande bewei mag word. Die program is deur dr Louis du Pisani, wat destyds met die Grootfontein Landbounavorsingsinstituut geaffilieer was en tans by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) is, ontwikkel. “Hy het die metode spesifiek vir ons plaas aangepas waar die kampe volgens spesie-samestelling afgekamp en benut word.”

Stefan verduidelik: “Die kampe roteer en word net een keer per siklus bewei, gewoonlik vir twee tot drie weke. Die beweidingstydperke is korter in die aktiewe groeimaande (Januarie tot Junie) en langer in die droër tweede helfte van die jaar. Daarna rus die beweide kamp tussen vier tot agt maande voor enige diere weer daar ingaan.”

Hulle probeer die kampe so klein as moontlik hou en die troppe so groot as prakties moontlik, om kampe vinnig te benut en die vreet van hergroei tot ’n minimum te beperk. Die rede vir die siklus van 14 maande is sodat die seisoene vir die kampe jaarliks aanskuif, aangesien planttipes op verskillende tye saad skiet of ontkiem. Die diversiteit van plantspesies word dus nie negatief beïnvloed deur hul boerderypraktyke nie.

Kamele van die planteryk

Die turksvy is die spreekwoordelike “kameel” van die planteryk, en die geharde doringlose turksvye (Opuntia ficus-indica) dien as ’n tipe ruvoer en voedingsryke bron in die skraler jare. Beskuitfontein beskik oor 300ha aangeplante doringlose turksvye wat fyn bestuur word. “Ons het hierdie jaar nie baie gras nie, maar danksy die turksvye bly die beeste se kondisie goed.”

Boonop word die grond in hierdie kampe goed bemes, terwyl die beeste daar loop. So ’n kamp moet drie jaar lank rus nadat die beeste daar was. Die skape hou ook daarvan, maar hulle word geskuif voor hul bekke seer kan raak. Nog ’n voordeel van turksvye op die plaas is dat dit skaduwee bied en verdamping help voorkom. “Die veld lyk gewoonlik baie mooi waar die turksvye is. En wanneer dit baie droog word, het ’n mens ’n ontsnaproete.”

Een van Stefan en Yolandi se projekte is om pleks van die tradisioneel-gebruikte populiere en bloekoms eerder okkerneute as windbreuke aan te plant, wat aansienlik minder water benodig en boonop in die toekoms ook winsgewend kan wees. “Jou bestuurspraktyke mag nooit ’n negatiewe impak op die omgewing hê nie. Kyk met ’n langtermyn-oogpunt daarna en verminder dan die korttermyn risiko’s. Mensgemaakte droogtes vernietig die eenvoud van boerdery.”

Ten laaste is die paartjie se raad aan produsente om kundiges vir advies te nader. “Niemand weet alles nie. Ons is gelukkig om wêreldklas landboukundiges, ouditeurs, ingenieurs, ensovoorts in Suid Afrika te hê – gebruik hulle!” -Carin Venter, Veeplaas

Vir navrae, kontak Stefan by 082 4466 908 of stefanfontein@gmail.com.

Klik hier om te lees oor jongboer-wenners in ander provinsies.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here