Al ooit gedink hoe ’n wêreld sonder insekte sal lyk? Die prentjie is skrikwekkend, volgens dr Astrid Jankielsohn, insek-ekoloog verbonde aan die Landbounavorsingsraad (LNR) se Kleingraaninstituut net buite Bethlehem in die Vrystaat.

Dr Astrid Jankielsohn.

Haar studieveld is om te kyk waar en hoe insekte in die ekosisteem inpas, en wat hulle rol daarin is. Op die oomblik is haar persoonlike gunsteling studieveld miskruiers, aangesien hierdie groep insekte ’n besonder goeie aanduiding gee van die omgewing en spesifieke ekosisteme se gesondheid.

“Insekte verteenwoordig die grootste persentasie van lewende diere op aarde – altesaam 70% – ook in terme van biomassa. Hulle is uiters belangrik omdat hulle die basis van enige voedselketting vorm. Hulle is ekosisteemdrywers, wat beteken hulle laat ekosisteme funksioneer.

“As insekte vandag moet uitsterf, sal die hele natuurlike wêreld soos ons dit ken, baie vinnig ook tot ’n einde kom. Skielik sal daar nie meer nematodes en ander wurms wees wat die grond omdolwe nie, bye en ander bestuiwingsinsekte sal nie meer hulle werk doen nie en plante sal ophou saad produseer. Landbou-opbrengste sal tuimel, wat grootskaalse hongersnood tot gevolg sal hê.”

Uitsterwing van insekte

Sy sê die skokkende waarheid is dat die biodiversiteit van insekte wêreldwyd bedreig word. Soveel as 40% van die wêreld se insekspesies loop gevaar om gedurende die volgende paar dekades uit te sterf.

“Die grootste oorsaak hiervan is die verlies aan habitat as gevolg van omskakeling na intensiewe landboubedrywighede, gevolg deur die gebruik van landbouchemikalieë. Daarna volg biologiese faktore soos patogene en spesies wat kunsmatig na ander ekosisteme oorgedra word, asook klimaatsverandering. Die insektipes wat die ergste onder druk verkeer, is skoenlappers en motte (Lepidoptera), bye en wespe (Hymenoptera), en miskruiers.

“Wanneer ’n mens die rol van insekte by die hersirkulering van afval, bestuiwing, predasie en verrotting in ag neem, en die gevolge oorweeg as hierdie rolle nie meer doeltreffend uitgevoer kan word nie, is dit baie duidelik dat landbouers hul praktyke ernstig sal moet heroorweeg om insekpopulasies wat onder groot druk is, kans te gee om weer te herstel,” verduidelik sy.

Doeltreffende omgewingsbestuur

Die eerste konsep wat sy graag in hierdie konteks wil vestig, is dat dit nie oor insekbeheer moet gaan nie, maar oor omgewingsbestuur – of nog beter gestel, ekosisteembestuur.

Volgens Astrid kan die afwesigheid van miskruiers op ’n plaas byvoorbeeld daarop dui dat habitatverandering en die chemiese beheer van parasiete daartoe gelei het dat die miskruiers verdwyn het.

“Dit bring ’n mens by die eeue oue dilemma van verskillende, dikwels botsende, belange. Aan die een kant is parasietbeheer dikwels noodsaaklik vir volhoubare produksie, maar as dit lei tot die uitwissing van ekosisteemdrywers soos miskruiers, is ’n diepliggende heroorweging van praktyke noodsaaklik.

“Verskeie projekte is gedoen om te kyk watter middels die grootste uitwerking op miskruiers het, en daar is definitief sekere dippe en doseermiddels wat ’n baie groter uitwerking het as ander. Dit is veral die sistemiese middels wat in hierdie kategorie val. Die chemiese residue van hierdie middels word in die mis uitgeskei,” sê sy.

Genetiese weerstand teen parasiete

Daar is egter boere wat sterk selekteer vir genetiese weerstandigheid teen parasiete, beide inwendig en uitwendig. “Ek dink dit is waarskynlik die beste langtermyn oplossing, want dit lei tot ’n drastiese vermindering in die gebruik van chemiese middels en ’n verlaging in insetkoste.”

’n Alternatiewe oplossing, wat in kombinasie met seleksie vir weerstandigheid gebruik kan word, is om sogenaamde insekbeskermingsgebiede op die plaas te identifiseer, wat nie deur vee benut word wat onlangs gedoseer of gedip is nie.

Nog ’n alternatief is om van natuurlike middels gebruik te maak om parasietbevolkings te onderdruk. Volgens Astrid is daar verskeie kruiemiddels wat ’n natuurlike afskrikmiddel is, onder andere wilde-als. Hierdie eienskappe moet egter nog deeglik wetenskaplik nagevors word.

Vernietiging van habitat

Astrid meen boere kan ’n groot rol speel in die behoud van geskikte habitatte vir verskillende insektegroepe. “Sogenaamde industriële boerderymodelle en monokultuurproduksiestelsels is tipiese voorbeelde van habitatvernietiging. In hierdie konteks is die huidige beweging wat bewaringslandbou of sogenaamde regenererende landbou genoem word, baie goeie nuus.

“ ’n Paradigmaskuif na ’n bewaringsuitgangspunt, wat baie sterk op multispesiediversiteit fokus, kan moontlik die antwoord wees vir gesonde multispesie-insekbevolkings. Diversiteit is ’n sleutelwoord in ekologie, en as ’n mens met plantdiversiteit begin, sal ander spesies, soos insekte, volg. As diversiteit dus ’n boer se primêre uitgangspunt is, is die stryd reeds halfpad gewonne.”

Bedreiging van landbouchemikalieë

Landbouchemikalieë is die tweede grootste bedreiging vir insekdiversiteit, en spesifiek miskruiers. Dit sluit alle chemikalieë in – van kunsmis en onkruiddoders tot by plaagbeheermiddels.

“As jy die diversiteit in jou landbou-ekosisteem verhoog, bevoordeel jy die insekpopulasie en diverse mikrobebevolking in die grond. Voeg hierby die veefaktor, en jy kom by ’n resep uit om voedingstowwe in die grond te ontsluit sonder om te erg op chemiese bemesting aangewese te wees. Hoe meer jy van chemiese bemesting wegbeweeg, hoe meer verbeter jy die habitat vir goggas in en op die grond.”

In dieselfde proses, verduidelik sy verder, bring ’n mens die natuurlike bestuiwers en natuurlike predatore terug om verskillende bevolkings in balans te hou. “Elke individuele plaas is ’n unieke ekosisteem, en elkeen sal individueel benader moet word om die potensiaal optimaal te ontsluit. Die mikpunt is om natuurlike ekosisteemfunksies terug te bring.”

Dit is in hierdie konteks dat Astrid voel dat boere met groot vrug ’n moniteringsmodel kan implementeer om hul vordering te meet.

’n Diversiteitsindeks vir miskruiers

Daar bestaan ’n verskeidenheid miskruierspesies wat elkeen ’n ander funksie in ’n spesifieke ekosisteem vervul. Sewe verskillende funksionele groepe is geïdentifiseer op grond van hulle spesifieke funksie en grootte.

Funksionele groepe 1 en 2 is die miskruiers wat misballe rol – groep 1 die grotes en groep 2 die kleintjies. Groep 3 is groot miskruiers wat tonnels onder die miskoeke maak en die mis direk in hierdie tonnels afneem. Groep 4 en 5 is hulle kleiner kollegas. Groep 6 is ’n vreemde groep, in die sin dat hulle eintlik net daarop fokus om die ander groepe se mis te steel. En groep 7 is baie klein en kom binne-in die miskoeke voor. Dit is hulle wat miskoeke so fyn uitrafel.

“Ideaal gesproke wil ’n mens verteenwoordigers van elke groep in ’n spesifieke omgewing hê, maar definitief verteenwoordigers van groepe 1, 2 en 3. Om dit te bewerkstellig, is die eerste stap om ’n diverse habitat te verseker. Die diversiteit in die miskruiergemeenskap is ’n direkte weerspieëling van die habitat se diversiteit. Dit is hier waar ’n diversiteitsindeks ter sprake kom.

“Diversiteit gaan oor baie meer as bloot ’n verskeidenheid spesies. Dit gaan eintlik oor die wisselwerking tussen daardie spesies. Die twee hoofkomponente van diversiteit is dominansie en gelykheid. Hoe hoër jou dominansie-indeks, hoe laer is die diversiteit, want dit beteken dat daar ’n wanbalans van een spesie voorkom. Aan die ander kant impliseer ’n hoë gelykheidsindeks weer groot diversiteit omdat geen spesie domineer nie,” verduidelik Astrid. Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Astrid Jankielsohn by 082 564 3795.