Agter van links is Albert Loubser van Plaas Media, redakteur van Veeplaas en een van die organiseerders van ALFA 2018, Christiaan de Jager, eienaar van die twee swaarste osse, en Michelle Verster van Plaas Media. Voor is Lynette Louw, uitvoerende hoof van Plaas Media, Gary van Veenhuyzen, bemarker van die Jakaranda Kinderhuis, en dr Annali Swanepoel van Peas in a Pod, ’n liefdadigheidsorganisasie vir mishandelde meisies.

Die Cape Gate Mega-oskompetisie by ALFA 2018 was op soek na die os wat bo alle ander osse uitstaan. Die ALFA 2018 Cape Gate Mega-os was ’n Chianina-kruising, Garabaldi, wat 1,37 ton geweeg het. Mickey Mouse, ook ’n Chianina-kruising, was tweede met ’n gewig van 1,34 ton.

Christiaan de Jager, ’n boer van Badplaas en eienaar van albei osse, het ’n inisiatief van stapel gestuur om liefdadigheidsorganisasies soos die Jakaranda-kinderhuis en Peas in a Pod, ’n liefdadigheidsorganisasie vir mishandelde meisies, by die projek te betrek en skenkings aan hulle te maak.

Die vyf grootste osse in die mega-oskompetisie is na ALFA 2018 genooi, waar die wenner en naaswenner aangewys is. Die twee osse is daarna by Chalmar Beef geslag, waar hulle onderskeidelik 840kg en 815kg uitgeslag het. Die vleis is aan verskeie liefdadigheidsorganisasies geskenk.

Een van die organiseerders van ALFA 2018, Albert Loubser van Plaas Media, sê dit het so lank geneem soos wat dit normaalweg neem om 40 osse te slag om hierdie twee osse te slag. Die wenos, Garabaldi, was slegs 30kg ligter as die grootste os in Australië, wat 1,4 ton weeg.

Albert sê die projek beklemtoon die voordele wat uit landbou afkomstig is. “Ons wil ’n bewustheid by die primêre landboubedryf kweek oor wat ’n mens kan doen om ander te help, asook ’n algemene bewustheid by mense skep oor die nood wat bestaan.”– Elizabeth Botha, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here