Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-Ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende Mei skerp gestyg op die rug van hoër internasionale pryse wat verder gerugsteun was deur die verswakking van die rand.  Die mark het op R2 889/ton gesluit.

Geelmielieprys (Bron: Statistiek SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende Mei verswak teenoor die vernaamste geldeenhede en het aan die einde van die maand teen onderskeidelik R14,55 en R16,27 teenoor die dollar en euro verhandel. Verbruikersprysinflasie (VPI) en het gedurende Mei verlangsaam tot 4,4% op `n jaar tot jaar grondslag, terwyl produsenteprysinflasie (PPI) gestyg het tot 6,5% op `n jaar tot jaar grondslag. Slegte nuus is dat ekonomiese groei vir die eerste kwartaal van 2019, voorgestel deur die BBP, verlangsaam het tot 0% op `n jaar tot jaar grondslag. Kwartaal op kwartaal het die ekonomie met 3,2% ingekrimp.

Wisselkoers (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese aanwysers (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese groei (Bron: Statistiek SA)

Rooivleismark

Gedurende Mei het die mark vir A-graad beeskarkasse verder herstel. Die pryse van B- en C-graad karkasse het egter gedaal. In die geval van skaapvleis het die pryse van A- en C-grade effens gestyg, terwyl die prys van B-graad karkasse gedaal het.  Die laaste beskikbare pryse vir beesvleis in Mei was R44,72/kg vir A2, R38,64/kg vir B2 en R37,42/kg vir C2. A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R66,03/kg, R47,74/kg en R46,31/kg. In die geval van speendiere het die prys van lammers skerp gestyg, terwyl die prys van kalwers verder gedaal het. Die laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R27,40/kg vir kalwers en R35,97/kg vir lammers. Dit wil voorkom asof die mark vir huide en velle gestabiliseer het, met pryse wat gedurende Mei verder sywaarts beweeg het.

Skaapvleis (Bron: RVAV)
Beesvleis (Bron: RVAV)
Speenkalwers en -lammers (Bron:RPO)
Velle en huide (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Die wolmark was gedurende Mei onder druk, terwyl uitvoere na China steeds gestaak bly. Skoonwol het wel tydens die laaste veiling van Mei 1,8% hoër verhandel as tydends die vorige veiling, maar was steeds 0,6% laer as `n jaar gelede.  Die sybokhaar-aanduider het tydens die laaste veiling in Mei met 0,7% versterk teenoor die vorige veiling en 3,4% hoër verhandel as ‘n jaar gelede.

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk en eiers het in Mei verder gestyg, terwyl die indeks van melkprodukte ook teruggesak het. Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het tydens dieselfde tydperk versterk.

Produsenteprysindeks (Bron: Statistiek SA)
Verbruikersprysindeks (Bron: Statistiek SA)