Meld infrastruktuur-diefstal reg aan

1068

Landbouers word aangemoedig om die diefstal van “essensiële infrastruktuur” reg aan te meld. Die diefstal van byvoorbeeld koperkabels, sonpanele en batterye van selfoontorings word nie altyd op bogenoemde manier deurgegee nie.
Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), sê landbouers open gewoonlik ’n saak van betreding en/of kwaadwillige beskadiging van eiendom wanneer diefstal van batterye van selfoontorings op hul grond plaasvind. Vodacom, MTN of Cell C open ’n diefstalsaak.
Volgens haar moet landbouers egter in hul betredingsaak meld dat die diefstal wat gepleeg is verband hou met “essensiële infrastruktuur”. Alle sake sedert 1 April 2017 tot nou waarin “essensiële infrastruktuur” (koperkabels, sonpanele, batterye van selfoontorings) gesteel is, moet die MAS-nommers deurgee sodat dit op ’n databasis deur die prioriteitskomitee gemonitor kan word.
Hoë misdaadareas vir koperkabel-diefstal is Bloemfontein, Fouriesburg, Heilbron, Petrus Steyn, Mafube, Phuthaditjhaba, Sasolburg en Tweeling. Skrootdiefstal se hoë misdaadareas is Hennenman, Theunissen, Virginia, Winburg.
Vragmotors, minibusse en kombi’s word gebruik om gesteelde koperkabels na afsetgebiede in Gauteng te vervoer, veral op die N1 noordwaarts. Die voorvalle vind bedags en snags plaas. Dit is ook van toepassing op diefstal van batterye van selfoontorings. Hoë misdaadgebiede hiervoor is Bloemfontein, Koppies, Verkeerdevlei en Zastron.
Buys meen dit is verblydend dat deesdae gereeld swaarder vonnisse deur howe opgelê word waar “essensiële infrastruktuur” gesteel is. “Die deurlopende diefstal van batterye van selfoontorings het ’n baie groot impak op ’n veilige landbousektor deurdat dit kommunikasie van landbouers met nooddienste geweldig belemmer,” sê sy. – Vrystaat Landbou