Melkbeesvoeding het baie ver gevorder sedert die dae toe die rantsoen uit ’n baal hooi en ’n sak voer bestaan het. Dit het ontwikkel tot ’n fyn wetenskap om te verstaan wat die koei se behoeftes is en ’n volledige rantsoen saam te stel, wat dit vir haar moontlik maak om die meeste melk kostedoeltreffend te produseer.

Dr Pieter Henning, divisie tegniese bestuurder: herkouers by Meadow Feeds, sê een van die betekenisvolle ontwikkelings van die afgelope tyd, is dat formulering vir spesifieke aminosure ingespan word. Dit maak dit moontlik om met laer toedieningsvlakke van proteïen in ’n totaal gemengde rantsoen (TGR), steeds in die koei se behoeftes te voorsien.

Rantsoene vir verhoogde produksie

“Die TGR is ’n metode om ’n rantsoen vir melkkoeie saam te stel waarin ruvoer, graan, proteïenaanvullers, minerale, vitamiene en ander byvoeding so gekombineer is dat die rantsoen in die koei se volledige behoeftes kan voorsien om haarself te onderhou en melk te produseer.

Die rantsoen moet baie goed gemeng word om te verseker dat die koeie nie selektief vreet en te veel konsentraat inkry nie.

“Die uitdaging is om die rantsoen so kostedoeltreffend as moontlik te maak sodat die meeste melk teen die laagste koste gelewer kan word. Dit vereis presisievoeding.

“In Suid-Afrika is in die jongste tyd ‘n wegbeweeg van TGR-stelsels om eerder melkkoeie op aangeplante weidings aan te hou, om die koste in toom te hou. Byvoeding word dan in ’n mindere of meerdere mate vir verhoogde produksie gebruik,” verduidelik hy.

Aangeplante weidings se vermoëns is beperk

Pieter sê boere sal hul somme noukeurig moet maak om te bepaal of die kostebesparing vergoed vir die daling in produksie, want aangeplante weidings het nie die vermoë om genoeg voedingstowwe aan koeie te voorsien om optimaal te produseer nie.

Hy voeg by dat daar weliswaar geringe verskille in die voedingsbehoeftes van die vernaamste melkbeesrasse in Suid-Afrika is, maar dit is nie beduidend nie. “In Suid-Afrika word swaar op navorsingsresultate uit Amerika geleun. Hoewel die navorsing Amerikaanse toestande beklemtoon, sluit dit ook die resultate van wêreldwye navorsing in en is dit heel gepas vir Suid-Afrikaanse toestande.”

Navorsing oor dekades om te bepaal wat die werklike voedingsbehoeftes van ’n melkkoei is om maksimaal te produseer, het meegebring dat voedingstelsels verder verfyn is.

Voedingsbehoeftes van koeie

Volgens Pieter is een van die belangrike nuwe ontwikkelings dat daar baie akkurater bepaal kan word wat die werklike voedingsbehoeftes van koeie ten opsigte van proteïen is vir hul onderhoud, melkproduksie en melkgehalte.

“Dit is deesdae moontlik om met laer vlakke proteïen in die rantsoen in die koei se behoeftes te voorsien. In ’n tipiese rantsoen vir lakterende melkkoeie van ’n dekade of twee gelede, sou daar 18 tot 20% proteïen gewees het. Die proteïen is normaalweg verkry deur die hoeveelheid stikstof in die rantsoen in ag te neem en ’n sogenaamde ruproteïen te bereken.

“Aminosure is egter die boustene van ‘ware’ proteïen. Deesdae word aminosure deur voedingkundiges saamgestel en in die rantsoen ingemeng, wat meebring dat ’n proteïenvlak van so laag as 16% voldoende is om in die koei se behoeftes te voorsien,” sê hy.

Balans in voedingstowwe

Pieter meen die voedingstowwe moet in balans wees om in ’n koei se behoeftes te voorsien vir optimale produksie met ’n TGR, want sy vreet alles en kan nie selekteer soos in die natuur nie. ’n Koei voorsien eerste in haar eie onderhoudsbehoeftes en gewoonlik gaan die eerste nagenoeg 10kg van die rantsoen daarvoor. Eers as sy meer as dit vreet, begin sy melk produseer.

Die oogmerk is dus dat sy soveel voedingstowwe moontlik moet inneem, maar aan die ander kant kan sy ook nie meer vreet as waarvoor haar rumen plek het nie. Een oplossing sou wees om die rantsoen meer gekonsentreerd te maak, sodat meer voedingstowwe teen ’n laer volume ingeneem kan word. As dit egter te gekonsentreerd is, ontstaan daar rumensteurnisse.

’n Ander benadering is om die rantsoen goedkoper te maak deur byvoorbeeld aangeplante weidings te benut. In die afgelope dekades het die voedingswaarde sowel as die opbrengs per hektaar van aangeplante weidings verbeter. Dit is gevolglik moontlik om bevredigende produksie van weidings af te kry, maar ’n mens kry selde dieselfde hoë produksie as met ’n TGR.

Uitdagings vir melkproduksie

“As ’n koei byvoorbeeld op natuurlike weidings met ’n lekaanvulling 10 liter melk produseer, kan ’n mens verwag dat sy op aangeplante weiding met ’n aanvulling sowat 30 liter en in ’n TGR-stelsel, sowat 50 liter melk per dag kan produseer.

“Van die uitdagings met aangeplante weidings is dat dit seisoenaal is, die verbouing daarvan geld kos, werktuie nodig is en die koeie soms ver moet loop. Laasgenoemde gebruik energie wat vir melkproduksie aangewend kon word.

“As koeie ver moet loop of in diep modder moet staan en rondploeter, kan drie tot vier liter melk verlore gaan as gevolg van die energie wat so bestee word,” sê Pieter.

Meng van rantsoene

Volgens hom verskaf min voermaatskappye TGR’e. Hulle verkoop konsentrate wat saam met bestanddele op die plaas, soos hooi, lusern, kuilvoer en graan, self gemeng word om die TGR te verkry. Die grondstowwe op die plaas kan tot 50% van die gemengde rantsoen uitmaak.

Voedingkundiges sal dan ’n resep ontwikkel vir die samestelling van die rantsoen. Die boer en/of sy werknemers weeg die bestanddele en meng dit. Die groot uitdaging is dat die rantsoen wat in die koeie se krip beland, dieselfde moet wees as die resep op papier.

Die rou grondstowwe op die boer se plaas is dikwels nie so goed as wat hy dink nie. Daarom is dit noodsaaklik dat monsters gereeld en reg geneem en in ’n laboratorium ontleed word sodat die voedingkundige dit in ag kan neem wanneer hy die rantsoen saamstel.

Noukeurige presisievoeding

Pieter sê voermaatskappye het vroeër jare ’n standaard konsentraat vir alle melkbeeste gehad. Dit is deur boere by die grondstowwe ingemeng en aan die koeie gegee. “Deesdae besoek kundiges van die voermaatskappy ’n produsent, neem die toestande op die plaas in ag (soos energieverbruik ten opsigte van loopafstande, modder in krale, ens.) en ontleed al die grondstowwe sodat ’n unieke rantsoen vir die beeste saamgestel kan word. Dit word dan presisievoeding.

Presisievoeding is om tot vier keer per dag net genoeg vars voer te gee sodat daar altyd voer is om te vreet, maar nooit voer oorbly wat oud en onsmaaklik kan raak nie.

“Al hierdie noukeurige benaderings gaan egter ’n mors van tyd en geld wees as die rantsoen nie reg gemeng word nie. Die bestanddele moet presies reg afgemeet word, die menger moet reg werk met skerp lemme en die rantsoen moet lank genoeg gemeng word sodat die mengsel oral presies eenvormig is. As die voer nie egalig gemeng is nie, gaan die koeie selektief vreet, waarskynlik te veel konsentraat inneem en suurpens of ander rumenversteurings kry.” – Andries Gouws, Veeplaas