Melkkoeie: Oorkom voervloeitekorte in die winter

329

Kikoejoe-weidings waarin raaigras gedurende die herfs oorgesaai word, is die mees algemene weidingstelsel in die melkproduserende gebiede van die Suid-Kaap. Kikoejoe is in die wintermaande, tussen Junie en September, dormant. Raaigras word dus oorgesaai om die voervloeigaping wat deur hierdie rustoestand gevorm word, te oorbrug. Italiaanse en meerjarige raaigraskultivars word algemeen hiervoor aangewend.

Drakrag in die winter

As gevolg van die koue winters, korter dae en lae ligintensiteit in die Suid-Kaap gedurende die winter, verlaag die groeitempo van raaigras na 20 tot 30kg droëmateriaal (DM) per hektaar per dag. Dit is aansienlik laer as die 60 tot 80kg DM per hektaar per dag wat in die lente en somer geproduseer word.

Die implikasie is dat slegs twee koeie per hektaar in die winter gedra kan word. Die gemiddelde veelading op meeste weidingsplase met weiding onder besproeiing, is egter vier tot vyf koeie per hektaar. Surplusweiding in die lente en somer word daarom ingekuil en tydens die winter aangewend om ruvoertekorte te oorkom.

Jersey-koeie van die Outeniqua-navorsingsplaas op kikoejoe-/raaigrasweiding in die winter. Met intensiewe weidingbenutting moet die hoogte na beweiding 5cm wees (10 op die skyfmeter).

Gedurende die lente van 2019 was reënval laer as gemiddeld en op baie plase is aansienlik minder kuilvoer gemaak. Ruvoertekorte kan derhalwe in die winter van 2020 verwag word.

Lusernhooi en kuilvoer

Om ruvoertekorte te oorkom, word daar algemeen van twee strategieë gebruik gemaak. Die een is om ruvoer soos lusernhooi aan te koop en die ander is om die een of ander vorm van kuilvoer te voer.

Lusern is duur. Omdat dit gewoonlik van ver af aangery moet word, is vervoerkoste ook ’n bydraende faktor. Boonop het kleiner plase nie noodwendig die bergingskapasiteit om groot hoeveelhede lusern te berg nie.

Kuilvoer, aan die ander kant, moet verkieslik op die plaas beskikbaar wees en heelwat boere plant mielies vir kuilvoer. Opbrengste van mieliekuilvoer was egter ook laag as gevolg van die droogte.

Indien kuilvoer aangekoop word, moet die voginhoud daarvan bepaal word en die prys per ton DM vasgestel word. Kuilvoer is ’n bederfbare produk en moet binne een tot twee dae nadat dit aan lug blootgestel is, gevoer word. Vir dié rede is dit nie prakties of kostedoeltreffend om kuilvoer oor groot afstande te vervoer nie.

Beide lusern en kuilvoer word oor die algemeen in ringvoerders gevoer, met die gevolg dat daar maklik 10 tot 20% vermorsing plaasvind.

Stysel- vs veselkragvoer

Gedurende die winter word koeie tipies gedurende die dag op weidings gehou en dan, ná die middagmelking, in ’n oornagkamp geplaas om lusern of kuilvoer te vreet. Daarmee saam ontvang hulle ook ekstra kragvoer in die melkstal.

Hierdie kragvoer het gewoonlik ’n hoë energie-inhoud as gevolg van hoë vlakke mielies in die mengsel. Dit veroorsaak ook dat die konsentraat duur is. Soos wat die konsentraatvlakke in die rantsoen verhoog word, daal die wins per liter melk weens die hoër voerkoste. 

Die vraag is dus of dit moontlik is om so ’n hoogs verteerbaare hoëstyselkragvoer met ’n laestysel-, hoëveselkragvoer, wat steeds verteerbaar is, te vervang, sonder om melkproduksie of rumengesondheid negatief te beïnvloed. Die hoë konsentrasie neutraalbestande vesel (NDF) kan daartoe bydra dat die pH-balans in die rumen stabiel gehou word en mikrobiese werking nie benadeel word nie.

’n Alternatief vir duur lusern?

Tot watter mate kan so ’n hoëveselkragvoer die beskikbare weiding ‘rek’? Indien meer kragvoer in die melkstal gevoer word en koeie met minder weiding kan klaarkom, kan dit moontlik ’n alternatief wees vir die aankoop van lusern. Dit is ook baie gerieflik om kragvoer in die melkstal te voer; geen addisionele arbeid of infrastruktuur word benodig nie en vermorsing is minimaal.

Lusernpryse is egter tans hoog en wissel tussen R3 500 en R4 000/ton. Indien 15% vermorsing tydens die voer daarvan plaasvind, verhoog dit die koste na sowat R4 100 tot R4 700/ton.

Hoe sal ’n hoëveselkonsentraat wat teen hoër vlakke gevoer word, melkproduksie beïnvloed? Sal dit die probleem van weidingstekorte voldoende kan aanspreek sonder om op die rumengesondheid van koeie in te boet?

Nuwe kragvoer-navorsing

Dit is juis met die doel om antwoorde op hierdie vrae te kry dat Lobke Steyn, ’n MSc-student aan die Universiteit van Stellenbosch, onder leiding van prof Robin Meeske, ’n studie op die Outeniqua-navorsingsplaas by George gedoen het.

In die winter is kikoejoe dormant. Raaigras word dus oorgesaai om hierdie voervloeigaping te oorbrug.

In die studie is 48 koeie in drie groepe van 16 elk verdeel en het hulle apart gewei vir ’n tydperk van 92 dae gedurende die winter. Hoëveselkragvoer is teen 4, 7 of 10kg per koei per dag gevoer. Die kragvoer het 13% mielies, 30% hominy chop, 39,1% semels, 10% Gluten 20, 4% molasse, 2,2% voerkalk, 0,6% sout en 0,5% voormengsel (premix) bevat.

Die energie-inhoud van die kragvoer was 10,6MJ ME/kg DM, die ruproteïen 14,5% en die NDF-inhoud 23,1% op ’n DM-basis. Weidingstoekenning vir koeie op die lae-, medium- en hoë-kragvoerbehandeling was onderskeidelik 10, 7 en 5kg DM.

Alle groepe koeie het dag en nag op aparte weidingstelsels gewei. Melkproduksie is tydens elke melking gemeet en monsters is elke tweede week geneem vir ontleding. Die koeie se massa en liggaamskondisietelling is ook aan die begin en einde van die studie bepaal. Weidingsopbrengs is deurlopend met ’n skyfmeter (rising plate meter) voor en na beweiding gemeet. Die resultate word in Tabel 1 aangetoon.

Tabel 1: Weidingsinname, melkproduksie, melksamestelling, liggaamsmassa en kondisie van koeie wat 4, 7 of 10kg hoëveselkonsentraat ontvang het (16 koeie per behandeling).

Parameter1Kragvoervoeding (kg/koei/dag)P-waarde
4kg7kg10kg
Weidingsinname (kgDM/koei/dag)8,666,945,02<0,001
Melkproduksie (kg/koei/dag)16,2a17,3ab18,1b0,03
4% VGM (kg/koei/dag)118,419,719,60,11
Melkvet (%)4,92a4,96a4,58b0,01
Melkproteïen (%)3,613,633,540,31
Melklaktose (%)4,68a4,64a4,52b<0,001
SST (x 1 000 mL-1)1752112060,6
MUN (mg dL-1)11,6a11,6a10,0b0,004
Liggaamsmassaverandering (kg)+43,5a+19,4b+18,7b<0,001
Liggaamskondisiepuntverandering+0,31+0,28+0,190,54

1 VGM: Vetgekorrigeerde melk; SST: Somatiese seltelling; MUN: Melkureumstikstof.

a, b Gemiddeldes in dieselfde ry met geen gemeenskaplike superskrif, verskil betekenisvol (p < 0.05).

Uitslae van die studie

Weidingsinname het aansienlik gedaal soos wat kragvoervoeding toegeneem het. Die implikasie hiervan is dat die veelading onderskeidelik 2,3, 2,9 en 4 koeie per hektaar was vir die lae-, medium- en hoëkonsentraatbehandeling. Dit was moontlik om die ruvoerbehoefte met 40% te verlaag deur die voer van hoë vlakke van ’n hoëveselkonsentraat.

Die melkbottervetpersentasie by die koeie in die lae- en mediumkonsentraatgroepe het nie verskil nie, terwyl dit laer was vir die hoëkonsentraatgroep. Dit dui daarop dat veselvertering effens benadeel was onder die hoëkonsentraatgroep. Dit was ook te wagte omdat die voer van ’n hoëvlakkragvoer, en selfs ’n hoëveselkragvoer, tot ’n verlaging in die rumen-pH lei, wat die sellulitiese bakterieë minder aktief maak.

Verder daal die asynsuurkonsentrasie, wat ’n daling in die bottervetpersentasie meebring. Melkproteïen reageer egter nie geredelik op rantsoenmanipulasie nie, en daar is geen verskil opgemerk tussen die drie behandelingsgroepe nie. Somatiese seltelling was eweneens konstant en uiergesondheid is deurgaans gehandhaaf.

Liggaamsmassatoename was hoër op die laekragvoerbehandeling. Dit kan toegeskryf word aan die hoër weidingstoekenning. Geen verandering is in liggaamskondisietellings opgemerk nie; trouens, ’n geringe toename in liggaamskondisie is in al drie groepe aangeteken. Dit is egter te wagte by koeie in mid- tot laatlaktasie. Rumengesondheid is ook in al drie groepe gehandhaaf, selfs in die groep op die hoë vlak van konsentraat.

Goeie nuus vir veeboere

Die studie het getoon dat dit inderdaad moontlik is om beskikbare weiding te ‘spaar’ deur dit deels te vervang met hoër hoeveelhede hoëveselkonsentraat. Hierdie benadering kan dus suksesvol gebruik word en is ’n praktiese alternatief vir die aankoop van lusern gedurende tye van ruvoertekorte in die winter.  

Prof Robin Meeske is ’n spesialiswetenskaplike by die Wes-Kaapse Departement van Landbou. Hy is by die Outeniqua-navorsingsplaas naby George werksaam. Vir meer inligting, skakel hom by 082 908 4110 of stuur ’n epos aan robinm@elsenburg.com.
Prof Robin Meeske en Izak Hofmeyr, Veeplaas