Die getal melkboere in Suid-Afrika het sedert 1998 van 7 600 tot 1 700 gekrimp, maar die vasbyters in die bedryf produseer steeds genoeg melk om in die Suid-Afrikaanse vraag te voorsien deur uit te brei, met meer presisie te boer en beter planne te maak om te oorleef.

’n Paar dekades gelede het sowat 12 000 melkboere jaarliks sowat 2,2 miljard liter melk geproduseer, terwyl die groep wat oorgebly het tans meer as 3 miljard liter melk jaarliks produseer.

Leiers in tegnologie

Dr Koos Coetzee, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO), sê melkboere speel ’n leidende rol in die landbou om beter tegnologie te gebruik om produksie te verhoog en veral om die moordende pas op ’n melkplaas vol te hou. Van die groot melkboere in Suid-Afrika melk tot 3 500 koeie drie keer per dag. Dit is ’n hoogs intensiewe boerderypraktyk en produsente kan nie anders nie as daarom met groot omsigtigheid te hanteer nie.

Mike Mouton van DeLaval-melktoerusting werk elke dag met melkprodusente en sê twee rigtings het in die melkbedryf ontstaan. “Ek sien in die praktyk dat groot boere uitbrei, in beter tegnologie belê om hul bestuur te optimaliseer en om vir volume-premies by melkkopers te kwalifiseer.

“Kleinboere of boere wat nie op die vervoerroete van die melkkopers is nie, belê egter in klein verwerkingsaanlegte en voeg waarde by hul produkte deur self te bemark of die produk op ’n klein skaal te verwerk en self die waardetoegevoegde produkte te bemark.”

Beter waarde vir geld

Ongeag watter kant toe die pendulum vir die melkboer swaai, elkeen besef dat hy tegnologie moet inspan om die beste waarde uit sy melkery te kry.

Mike noem die melkbedryf ’n “volume-speletjie” omdat boere voortdurend moet uitbrei om mededingend te bly. “Daar is ’n klein verskil in die vaste koste, ongeag of ’n mens 100 of 500 koeie melk. Dus klop die somme altyd beter as ’n mens jou vaste koste deur meer liters melk kan deel.

“Hoe groter ’n mens se boerdery is, hoe meer is dit nodig om met groter presisie te boer. Groter presisie beteken om alle fasette van produksie en reproduksie akkuraat te meet, asook uitstekende boekhouding van elke inkomste, uitgawe en veranderlike.

“Ten spyte van die feit dat ons in ’n moderne era leef en deel is van ’n tegnologiese rewolusie, is daar steeds boere wat nie weet wat dit kos om ’n liter melk op hul plase te produseer nie. Sulke berekeninge is noodsaaklik om ’n mededingende speler in hierdie spel te bly.

“Rekordhouding van produksie en kostebepaling bly die sleutel tot sukses. Die beginsel ‘om te meet, is om te weet’ bly die goue draad deur die hele boerdery.”

Tegnologie vir elke behoefte

Dr Coetzee sê elke melkery het sy eie behoeftes en om net gelyk te breek, moet verskeie faktore in ag geneem word, waarvan een van die belangrikstes die melkstelsel is.

Volgens Mike is verskillende stelsels beskikbaar en elke stelsel kan so opgestel word, dat dit in die behoeftes van die individuele boerery pas. Die mees kostedoeltreffende stelsel is die oorswaai-visgraatstal. Dit is gerig op kuddes met laer produksie, wat vanaf weidings gemelk word. As die een kant klaar is, word die masjien oorgeswaai na die ander kant om die volgende ry koeie te melk.

Die “rapid exit”-stal is die mees spasie-doeltreffende stelsel. In dié stelsel draai die koeie 90 grade in die portaal om sy aan sy te staan. Wanneer die koeie klaar gemelk is, lig die nekraam voor hulle op en loop al die koeie gelyk uit, waarna die volgende ry koeie kan instap. Die koeie se uiers is naby aan mekaar en arbeiders kan doeltreffend melk.

Mike sê draaitafelstalle, die mees arbeid-doeltreffende stelsel, word aanbeveel waar 500 of meer koeie gemelk word. Die melkmasjien-operateur staan op een plek en die koeie draai voor hom verby.

“Baie boere melk van weidings af. Die bogenoemde stelsels kan almal met voerbakke in die stal toegerus word, waar die diere deur ’n rekenaar geïdentifiseer en volgens produksie gevoer word. Dit verseker dat sekere diere nie te veel of te min gevoer word nie.”

Ander faktore

Omdat suksesvolle en winsgewende melkboerdery so ’n fyn kuns geword het, is dit nie net die melkstelsels wat die sukses van die boerdery bepaal nie. Heelwat ander faktore moet ook in ag geneem word om ’n suksesvolle melkboer te wees.

“Koeibehuising en koeigemak is die eerste faktore waarna ’n boer moet kyk. Dit is ’n langtermyn-belegging wat die boer se syfers kan laat klop.

“Hittestres en moddertoestande in die houkrale kos baie meer as wat melkboere besef. Die diere betaal eintlik self vir die stelsel deur konstant in al die seisoene hoër produksie te lewer, veeartskoste verminder drasties en daar is minder vrektes in die kudde,” verduidelik Mike. Behuising kan ingefaseer word soos wat die boer se finansies dit toelaat.

Outomatiese voerders

Nog ’n gebied waarop boere kan verbeter om hul syfers te laat klop, is die grootmaak van kalwers. Mike sê outomatiese kalfvoerders is beskikbaar om melk- en kragvoerinnames te monitor en die plaasbestuurder op hoogte te hou van elke kalfie se innames.

“Weeg die kalwers gereeld en meet die skofhoogte om seker te maak die kalwers groei doeltreffend. Die kalwers moet ook so gou moontlik ’n dekgewig van 360 tot 380kg bereik, want hoe gouer sy kalf hoe gouer lewer sy ’n inkomste aan die boerdery.

“Die tussenkalfperiode (TKP) moet so laag as moontlik gehou word en die ideaal is 365 dae. Om ’n lae TKP te verseker, moet die koeie so gou moontlik ná kalwing herstel om weer dragtig te raak.

“Sekere tegnologiese hulpmiddels kan dit verbeter. Gebruik tegnologie soos aktiwiteitsmeters, wat koeie voltyds monitor en koeie en verse uitwys wat bronstig is, asook die tyd wanneer hulle staande hitte bereik het. Dit verseker die regte tyd van kunsmatige inseminasie en beter bevrugtingsyfers.”

Kuddebestuurstelsels

Volgens Mike is daar uitstekende tegnologiese hulpmiddels om goeie kuddebestuur te verseker. Goeie en akkurate rekordhouding sal onekonomiese diere vinnig uitwys. Hulle moet uit die kudde gehaal word omdat daar nie plek vir passasiers in ’n melkkudde is nie.

“Baie tegnologiese hulpmiddels is beskikbaar om ’n melkplaas winsgewend te maak en dit is alles op die boer se voorstoep beskikbaar. Net soos met enige ander boerdery, is dit juis die produsent wat tegnologie deel van sy boerderypraktyke maak wat die pyp gaan rook,” sê hy. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Mike Mouton by 082 652 1450.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here