Die 10de Merino Nasionale Veldramskou, beter bekend as die BKB Merino Classic, het op 14 en 15 Februarie op Richmond plaasgevind. Verskeie Merino-produsente het aan die onderskeie klasse by die skou deelgeneem, met die oog daarop om hul skape met ander produsente s’n te vergelyk. Volgens Danie Vorster, bestuurder van Merino SA, is dit ’n baie belangrike geleentheid vir die Merinobedryf. “Dit gee aan Merinotelers ’n geleentheid om hul skape ten toon te stel, en gee aan ander kleinveeboere die kans om die beste Merino’s in die land te sien.”

Daar het deurentyd ’n gees van opwinding onder die deelnemers en toeskouers geheers terwyl die sowat 630 skape, van ongeveer 40 vertoners in 37 klasse, onder die vergrootglas deurgeloop het. Plaas Media het ook van die klasse geborg en die geleentheid bygewoon.

Nog ’n belangrike aktiwiteit op vanjaar se program was die Nasionale Merino Veldramprojek se ramveiling. Sowat 40 ramme van ’n hoë standaard is deur Appie Maritz van BKB opgeveil.

Vir enige navrae, kontak gerus Merino SA by 049 892 4148 of stuur ’n e-pos na merinoram@eastcape.net. – Carin Venter, Veeplaas

Geniet foto’s van #MC19 hier:

Plaas Media maksi-ram kategorie: Carin Venter (Plaas Media), André Hugo en Bertie Visagie (vertoners), en Frans Baadjies (hanteerder). (Foto deur Tania Calldo Photography)
BKB kampioen-ram met die beste bouvorm kategorie: Pierre Vlok (BKB), Gerrit Viljoen (vertoner) en Martin Williams (hanteerder). (Foto deur Tania Calldo Photography)
Plaas Media kampioen kortwol ooilam, swaar (42-55kg) kategorie: Carin Venter (Plaas Media) en Gerrit Viljoen. (Foto deur Tania Calldo Photography)
BKB kampioen-ram met die beste wol kategorie: Pierre Vlok (BKB), Stefan Naudé (vertoner) en Sipho Khanzi (hanteerder). (Foto deur Tania Calldo Photography)
OVK kampioen ooi met die beste wol kategorie: Frans Hugo (OVK), AJ en Johan Bezuidenhout (vertoners), en April Verwey (hanteerder). (Foto deur Tania Calldo Photography)
BKB groot kampioen-ram kategorie: Pierre Vlok (BKB), Stefan en Marie Naudé (vertoners) en Sipho Khanzi (hanteerder).
Plaas Media was die borg van die prys vir die meeste punte tydens die Merino Classic: Carin Venter (Plaas Media) oorhandig ’n pak Merino-wol handdoeke as geskenk aan die wenner, Gerrit Viljoen van Elandskloof Merino’s.

 

Du Toit Wessels van Graan SA was die aankondiger by die geleentheid. Volgens hom was die kwaliteit, en veral die kwantiteit, van die skape uitstekend.
OVK was een van die borge by die geleentheid waar Tink Strydom (vesel en lewendehawe bestuurder van die suidelike streek) en Jannie Rossouw (vesel en lewendehawe hoofbestuurder van die noordelike streek) met RSG Landbou gesels het. “Dit is baie lekker om na ’n klein Karoo-dorpie toe te kom en te sien hoe ernstig die produsente oor die veselbedryf is,” sê Jannie.
BKB was vir die derde maal die Merino Classic se titelborg en is verteenwoordig deur onder andere Appie Maritz, Pierre Vlok, Piet Venter en Keith Coetzee (skou-koördineerder). Volgens Pierre Vlok (wolbestuurder van die westelike streek) het sake baie mooi verloop. “Die klasse is groot en sterk met baie nuwe deelnemers vanjaar, en dit was vir ons ’n voorreg om by die geleentheid betrokke te wees.”
Die spyseniering en dinee was onder meer aan die volgende persone te danke: V.l.n.r. is Paula Theron, Anneke Ackermann, Nicoleen de Klerk en Martiesan Theron. Agter is Lize Naude en klein Van Zyl Naude, Mandie Theron, Marietjie Sieberhagen, Elsje Kock en Lisie Theron.
Pa en seun, Van Zyl (junior en senior) Naude het hul skape vir die derde maal by die Merino Classic geskou. Van Zyl senior sê: “Ons het in die verlede net by gewone veldskoue deelgeneem, maar was lus vir ’n groter uitdaging en daarom het ons aan dié besondere skou begin deelneem. Ons leer baie en doen elke jaar ’n bietjie beter en hoop dat ons dit tot voordeel van ons skape kan toepas.”
Die beoordelaars moes deurentyd kopkrap danksy die strawwe kompetisie.
Die beoordelaars moes deurentyd kopkrap danksy die strawwe kompetisie.
Die Merino Classic skou is ’n geleentheid waar alle Merino produsente in die land twee dae lank saamkuier om hul skape te vergelyk.

BKB groot kampioen-ram kategorie: Pierre Vlok (BKB), Stefan en Marie Naudé (vertoners) en Sipho Khanzi (hanteerder).

Garth Cloete is ’n groot ondersteuner van die Merino-skaap en het die volgende gesê: “Wat die Merino Classic uniek maak, is dat dit die een geleentheid is wat deur Merino SA gereël word waar almal in die land met ’n liefde vir die Merino-skaap, bymekaar kom.” Garth is op die foto saam met Anna en Bertie Visagie van Paardekraal, Calvinia.
Piet Venter (BKB skaap- en woladviseur, Colesberg) en Stefan Naudé (Geelbek Merino’s stoetery van die plaas Skuilhoek).
Vanjaar se Merino Classic OVK baalsak-dra kompetisie het ’n hele klomp brawe manne laat klippe kou.