Mieliediefstal is besig om Vrystaatse boere lam te lê. Twee tot drie ton mielies word per dag in sekere dele van die Vrystaat gesteel en selfs veiligheidswagte word aangeval. Dit beklemtoon die omvang van die probleem waarmee landbouers in die provinsie te doen het.

Volgens dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), is mieliediefstal so ’n groot kopseer, dat daar op 5 Junie 2019 in Kroonstad ’n intervensievergadering hieroor met landbougemeenskappe gehou is. Sy sê voorvalle van mieliediefstal het volgens VL se VKB Veiligheidslessenaar reeds in gebiede soos Allanridge, Bothaville, Bultfontein, Clocolan, Ficksburg, Heuningspruit, Hobhouse, Hoopstad, Kestell, Kroonstad, Odendaalsrus, Reitz en Wesselsbron voorgekom.

Omvang van saaknommers

“Dit het uit die vergadering in Kroonstad geblyk dat daar gevalle was waar landbouers sake aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gerapporteer het, maar daar slegs in enkele gevalle MAS-nommers, met OB-inskrywings die norm, bekom is,” sê Buys. “’n Opgawe is aangevra van veiligheidsverteenwoordigers in die Vrystaat waar landbouers met mielies boer om die omvang van saaknommers en OB-inskrywings te bekom.”

Sy sê dit wil verder voorkom asof heelwat landbouers wagte aangestel het om hul mielies te beskerm. Die wagte word met pangas aangeval en daar word op hulle geskiet wanneer hulle pogings aanwend om hulself en landbouers se eiendom te beskerm.

“Dit wil voorkom asof daar daagliks twee tot drie ton mielies in die Kroonstad- en Vredefort-omgewing gesteel word,” sê Buys.

Só word mielies gesteel en verkoop

Volgens Buys pluk groterige groepe mense glo mielies van landerye af, waarna dit in gebruikte kunsmissakke gesit en met bakkies vervoer word. Die mielies word dan teen R2 elk in informele nedersettings verkoop.

“Daar is geen landbouers wat mielies direk aan mense in hul gebiede verkoop nie. Al die mielies word aand silo’s van koöporasies gelewer,” sê Buys. Sy meen landbouers kan dalk ’n permitstelsel in plek sit sodra hulle mielies per hand aan mense verkoop en dit so onder die aandag van hul plaaslike SAPD-koördineerder bring.

Hoë-vlak aandag is nodig

Volgens Buys is die prioriteitskomitee versoek om dringend aan mieliediefstal aandag te skenk. Sy sê die Nasionale Vervolgingsgesag is ook gevra om te kyk na die suksesvolle vervolging van sake in hof vir die besit van vermoedelik gesteelde mielies.

’n Vraelys is ook opgestel om die impak en omvang van mieliediefstal te probeer bepaal. Dit is byvoorbeeld aan landbouers in die Kroonstad- en Vredefort area versprei. – Persverklaring, Vrystaat Landbou