Die mees onlangse oesskatting deur die Nasionale Oesskattingskomitee, het die oes steeds hoër geskat. Volgens die komitee kan ‘n mielieoes van 10,56 miljoen ton verwag word. Die opwaartse aanpassing kom natuurlik na goeie reën in baie gebiede tydens Januarie, wat ‘n verhoging in aanplantings tot gevolg gehad het. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, verduidelik dat die realisering so ‘n oes grootliks afhang van wat in April gebeur.

“Veral in die Weste, waar aanplantings baie laat gedoen is, is daar groot risiko vir rypskade. Vroeë ryp kan middel April kom en baie skade veroorsaak. Die ware grootte van die oes gaan afhang van hoe dié risiko homself uitspeel.”

Daar is verskeie onsekerhede in gesprekke oor die graanbedryf en -markte, maar volgens Dawie sal meeste van dié onsekerhede binne die volgende twee maande uitgeklaar word. “Ons gaan weet hoeveel skade die moontlike ryp aangerig het, indien enige; ons sal groter sekerheid oor die wisselkoers hê na die verkiesing, ons gaan meer inligting hê oor hoe die internasionale graanprentjie lyk; en in sekere streke sal die oes al begin om van die lande af te kom.”

Graangriewe

Dawie sê dat die graanbedryf hom in ‘n moeilike situasie bevind. “Sedert die 2015/16-droogte is die bedryf op ‘n herstelpad, maar daar is verskeie faktore wat dié herstel belemmer. Relatief lae pryse wat toegeskryf kan word aan goeie oeste in die 2016/17 en 2017/2018 seisoene asook stygende insetkoste, plaas ‘n besliste demper op die spoed van herstel.” Hy verduidelik dat die kosteknyptang vir die graanboer negatief is en dat dit in die langtermyn ook finansieringsvermoë belemmer.

Dawie verduidelik dat banke al hierdie faktore in gedagte hou wanneer finansiering oorweeg word. “Ons finansier boere op grond van die boerdery se kontantvloeibasis sowel as die sekuriteit wat die onderneming kan bied, byvoorbeeld in die vorm van grond. Die faktore wat hier bo genoem word, lyk dus of dit nie die finansieringsbesluit direk beïnvloed nie, maar dit het wel ‘n impak.

“Onthou, hierdie faktore beïnvloed mielieprysverwagtinge wat natuurlik ‘n impak op die boerdery se kontantvloei en terugbetalingsvermoë het.” Die groot oordragvoorraad en redelike oesskatting plaas afwaartse druk op die mielieprys. Wanneer dié prys dan in die kontantvloei-ontleding gebruik word, beïnvloed dit dié som negatief. “Ons sny ook verder aan die prys om te verseker dat indien die prys nog laer daal, die boer steeds winsgewend kan wees en sy terugbetalingsverpligtinge kan nakom.”

Ten spyte van die prentjie wat hier geskets word, sê Dawie dat hy steeds hoop vir die graanbedryf het. “Dit hang alles af van die boer se kostestrukture. Ons moedig boere aan om baie mooi te kyk na hulle kostestrukture en opbrengsverwagtinge. Daar is verskeie produksiebesluite wat onder die huidige moeilike omstandighede met groot sorg geneem moet word.” Hy herinner verder aan die belangrikheid van diversifisering, veral met ‘n veefaktor. “Ek glo nie dat enige graanboer as slegs ‘n graanboer vorentoe die mas sal kan opkom nie. Daar was al soveel gevalle waar diversifisering ‘n boerdery gered het.”

Wat verdere verwagtinge vir die seisoen betref, beweeg ons moontlik na ‘n gelykbreekpunt in terme van mielievoorrade. “Dit sal gebeur indien ons hierdie seisoen ‘n normale oes het. ‘n Gelykbreekpunt sal weer opwaartse druk op die mielieprys plaas, wat myns insiens produsente se voorneme om te plant in die volgende seisoen ‘n hupstoot sal gee.”

Risikoverdeling

Risiko is byna sinoniem met boerdery, en met omstandighede soos wat dit is, is risiko in die graanbedryf selfs hoër. “Die ongelukkige waarheid is dat die boer meeste van die risiko self moet dra. Banke het ‘n klein gedeelde risiko, aangesien sommige skuld afgeskryf sal moet word in uiterste gevalle waar boere bankrot speel, maar die boer se risiko bly die grootste.”

Hy herinner dat die banke se mikpunt is om ‘n boer solank as moontlik op die plaas en in produksie te hou. “Dit is wat hy goed doen – dit is goed vir hom, goed vir die bank en goed vir die ekonomie.”

Volgens Dawie lê een van die grootste struikelblokke in die graanbedryf by oesversekering. “In die Amerikaanse graanbedryf, byvoorbeeld, word 50% van produsente se oesversekeringspremie deur die staat gesubsidieer. Dit neem baie risiko en koste by die produsent weg.”

Volgens Dawie raak so ‘n subsidie noodsaaklik vir die Suid-Afrikaanse graanbedryf, een van die min lande waar geen sulke subsidies in werking is nie. “Oesversekering raak vir baie produsente te duur en gegewe die negatiewe kosteknyptang en hoë risiko in die graanbedryf, raak versekeringsmaatskappye ook huiwerig om multirisiko-beskerming voor te skryf. Êrens gaan daar dus ‘n plan gemaak moet word.”

‘n Boodskap van die bank

“Wat ek baie graag aan boere wil kommunikeer, is dat hulle vroeër eerder as later met hulle bank moet gesels indien hulle sien daar mag later in die seisoen moeilikheid ontstaan. Aan die einde van die pad is daar min wat ons kan doen – vroeër is ingryping egter dalk nog moontlik.” – Marike Brits, AgriOrbit

Skakel jou naaste FNB-tak of -bankier, of stuur ’n epos aan agric@fnb.co.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here