Mikotoksiene in kuilvoer: Hoe gemaak?

0

Estimated reading time: 4 minutes

Alles het voor- en nadele, en terwyl die afgelope goeie somerreën dalk welige veld beteken, is kuilvoerprodusente bekommerd oor swamsiektes wat weens die vogtigheid en hoë temperature kan gedy. Die voorkoms van mikotoksiene in kuilvoer is een van die probleme waarmee hulle moontlik te doen sal kry.

Dr Belinda Janse van Rensburg, ’n navorser by die Landbounavorsingsraad se LNR-Graangewasse, sê ’n groot verskeidenheid swamme produseer elk sy eie, unieke toksiene. ‘Miko’, sê sy, beteken ‘swam’ en ‘toksien’ beteken ‘gifstof’. “Mikotoksiene is dus gifstowwe wat deur spesifieke swamme geproduseer word.”

Wat sake bemoeilik, is dat graan nie regtig enige simptome van mikotoksienbesmetting toon nie. Dr Janse van Rensburg raai produsente aan om uit te kyk vir swaminfeksies en dan eerder hul graan te laat toets vir mikotoksiene. “Besmette graan sal byvoorbeeld verkleurd, lig en verrimpeld wees. Ons het wel al gesien dat grane wat met toksiene soos fumonisiene besmet is, sogenaamde starburst-simptome toon. Dit behels ligkleurige strepe wat letterlik ‘uitstraal’ vanaf die bokant van die pitte en om dit.

Toksiene in ingekuilde voer

Volgens Pieter le Roux, hoof vee- en weidingkundige by NWK, kan ingekuilde voere verskeie toksiene bevat. “Dit kan vanaf die lande afkomstig wees, met ander woorde, voordat die graan geoes is, of dit kan binne die gepreserveerde kuilvoer groei, dus ná inkuiling.”

Voor-oes tipe swamme is hoofsaaklik die Fusarium– en Alternaria-spesies, terwyl veral Aspergillus- en Penicillium-spesies dié wat ná inkuiling groei.

Hy sê swamme produseer nie noodwendig mikotoksiene nie. Daarom dui die teenwoordigheid van muf in kuilvoer nie altyd op die teenwoordigheid van mikotoksiene nie. Daarby is die toestande vir swamgroei en mikotoksienproduksie nie noodwendig dieselfde nie. Daar word nog baie bespiegel oor die voorkoms van mikotoksiene en baie navorsing is uiteraard nog nodig.

“Vog- en temperatuurvlakke bepaal die gunstigheid van die omgewing vir die groei van swamme en produksie van mikotoksiene. As gevolg van gunstige temperatuur- en vogvlakke was daar oor die afgelope twee of drie jaar ’n toename in siektes soos Fusarium graminearum by mieliegraan in Suid-Afrika.

“In die kuilvoerbunker word swamgroei deur die afwesigheid van suurstof, lae pH en die teenwoordigheid van koolsuurgas onderdruk. Insekbesmetting voor en tydens die snyproses verhoog ook die voorkoms van sekere swamme. Daar is dus ’n klomp faktore wat mikotoksienproduksie beïnvloed,” verduidelik Pieter.

Die invloed van reën

Reën het beslis ook ’n invloed op die voorkoms van mikotoksiene. Dr Janse van Rensburg sê hulle het al baie navorsing op die ekonomies belangrike mikotoksienproduserende swamme gedoen. In hulle ervaring beïnvloed die reën sommige van die swamme se voorkoms, wat tot groter swaminfeksies en gevolglike toksienproduksie kan lei.

Swamme soos Fusarium graminearum word deur ’n temperatuur van 25˚C en vogtiger toestande bevoordeel, en produsente in sulke omgewings kan dus op die uitkyk wees vir dié swam. Fusarium graminearum kan mikotoksiene soos searalenoon, deoksinivalenool (of vomitoksien) en nivalenool produseer, maar die produsent sal sy graan in ’n laboratorium moet laat toets om die voorkoms en vlakke daarvan vas te stel.

Pieter sê navorsing deur die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) oor die laaste dekade, dui daarop dat mikotoksienproduksie in graan tussen verskillende mieliekultivars, verskillende gebiede en verskillende jare wissel. “Dit blyk dat hierdie veranderlikes oor die 2019/20-seisoen gunstig was vir die voorkoms van mikotoksiene in mieliegraan. Na verwagting sal die voorkoms van mikotoksiene in kuilvoer ook dienooreenkomstig wissel.

Kuilvoerbestuur

“Die bestuur van die inkuilingsproses is deurslaggewend vir die beheer van swamgroei binne die bunker. Faktore van belang is ’n skoon, fyn snit van ongeveer 20mm* lank, korrekte voginhoud (35% vog en eerder te droog as te nat), voldoende kompaksie binne die bunker en die afseël daarvan om suurstof uit en koolsuurgas in te sluit, die vorming van behoorlike ewewig tussen melk- en asynsuur (deur byvoorbeeld nie die bunker te vroeg oop te maak nie) en die silogesig reg te bestuur.”

Pieter lê veral klem op die bestuur van kuilvoerbunkers. Hy glo mikotoksiene kan die immuniteit van diere wat dit inneem nadelig beïnvloed. Dit kan mikotoksikose veroorsaak en die diere se vatbaarheid vir ander siektes verhoog.

By laer vlakke van blootstelling word ’n afname in produktiwiteit waargeneem en simptome sluit ’n swak eetlus, laer produksie en vrugbaarheid asook die voorkoms van aborsies tydens laatdragtigheid in. Vrektes kom selde voor, maar die laer produksie en vermorsing weens besmette voer wat tot niet gemaak moet word, lei tot geweldige ekonomiese verliese. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Belinda Janse van Rensburg by 018 299 6100 of Pieter le Roux by 076 020 2086.

*In die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie wat jaarliks deur Plaas Media onder die vaandel van Veeplaas en Stockfarm aangebied word, word volpunte aan ’n snitlengte van 14mm toegeken, terwyl ’n lengte van 20mm laer punte kry. Dit hang egter af van die gewas, spesie en ander beskikbare ruvoere in die betrokke kuilvoer wat getoets word.

grain, acidosis, mikotoksiene