Die trekkerverkope van 388 eenhede is aansienlik (29%) minder as die 546 eenhede wat verlede Januarie verkoop is. Vir die twaalf opeenvolgende maande is die trekkerverkope marginaal (0,4%) laer as vir die vorige ooreenstemmende tydperk. Die stroperverkope van vier eenhede in Januarie is ook aansienlik minder as die agt eenhede wat verlede Januarie verkoop is. Vir die opeenvolgende twaalf maande is die stroperverkope steeds byna 6% meer as vir die vorige jaar.

Read it in English.

Die teleurstellende verkope in Januarie weerspieël waarskynlik ’n mate van negatiwiteit binne huidige sentiment in die mark. Sekere somergewasgebiede, veral in die westelike dele, het nie reën gehad nie en waar reën wel geval het, was dit baie laat. Dit het dit onmoontlik gemaak vir sekere boere om te plant, of dit het boere genoodsaak om gewasse te wissel na gewasse met ’n korter seisoen, soos sonneblom of graansorghum.

Verlede maand is gesê dat dit nog te vroeg is om ramings te maak vir die 2019-kalenderjaar. Voorlopige ramings van mielie-aanplanting by die Oesskattingskomitee dui daarop dat minder mielies geplant word, maar nie soveel minder as wat sekere kommentators gedink het nie. Die mielieoes sal die bepalende faktor wees vir die verkope van toerusting in die eerste helfte van die 2019-kalenderjaar. – SAAMA