‘n Miniatuurperdmerrie en haar vul het naam gemaak by die SA Miniatuurperd-telersgenootskap se onlangse streekskampioenskappe tydens die Bloemskou. Beide is by die geleentheid as kompetisiekampioene gekroon.

Mani’s Wild Tango, ‘n merrie van die Pure Perdstoetery in Petrusburg, is as grootkampioenmerrie gekroon. Sy het ook die titel van opperste kampioenmerrie verwerf. Haar merrievul, Pure Perd FAC Chicaboo, is skaars drie maande oud en het opslae gemaak toe sy as kampioenmerrievul gekroon is. Sy is boonop ook as reserwe grootkampioenmerrievul aangewys.

Ina van Aswegen, die trotse eienaar van beide FAC Chickaboo en Mani’s Wild Tango, het FAC Chickaboo tydens die kampioenskap vertoon. Dié miniaatuurperd-eienaar skou gereeld met perde van haar stoetery, die Pure Perdstoet, op die plaas Wolwerand naby Petrusburg. Mani’s Wild Tango is deur Delande Human van Bloemfontein vertoon.

Pure Perd Mani’s Sweetie Pie, nóg ‘n voortreflike miniatuurperdjie van Ina van Aswegen, het ook pragtig vertoon. Die merrie is as kampioen junior merrie gekroon en is ook aangewys as die perdjie wat die beste beweeg het. 

Pure Perd Mani’s Sweetie Pie met Ina van Aswegen, eienaar en vertoner.

Altesaam agt vertoners van Mpumalanga, Noordwes, die Oos- en Noord-Kaap asook die Vrystaat het aan die kampioenskap deelgeneem. ‘n Totaal van 54 perdjies is in 104 verskillende klasse vertoon. – Diederick Reinecke, Wolwerand