Agri Wes-Kaap het die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, en sy departement bedank vir hul ondersteuning van Agri Wes-Kaap se versoek om dié provinsie se 2020-brandseisoenverklaring te vervroeg.

Read it in English

Volgens Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, is die vorige drie tot vyf jaar van ondergemiddelde reënval duidelik in die provinsie se laer as gemiddelde graanopbrengste weerspieël. Hy het gesê die huidige graanoes lyk baie belowend, maar dat die provinsie in ’n stadium verkeer waar brande ’n gevaar vir koringlande kan inhou. 

Minister Bredell het aan Agri Wes-Kaap gesê sy departement deel graanprodusente se kommer oor brande. Hy het bygevoeg dat sy departement sal voortgaan om met die landbousektor saam te werk ten einde te verseker dat alles binne hul vermoë gedoen word om die uitbreek van brande te voorkom en die verspreiding van veldbrande te beperk.

Die departement skakel ook deurlopend met die Departemente van Landbou en Gemeenskapsveiligheid om geïntegreerd op enige brandvoorval wat mag voorkom, te reageer.

Hy het gesê sy departement het via die provinsiale rampbestuursentrum met diensverskaffers onderhandel om hulpbronne reeds vanaf 1 November beskikbaar te maak, om die veiligheid van die oes te verseker. Die Wes-Kaap se brandseisoen begin gewoonlik op 1 Desember.

Strydom het ook die provinsiale hoof van rampbestuur, Colin Deiner, bedank vir die doeltreffende wyse waarop hy en sy span rampe in die provinsie bestuur. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap