Daar is tans ’n aktiewe moniteringsprogram vir die herfskommandowurm (Spodoptera frugiperda), en feromoonlokvalle is in ses provinsies (Limpopo, Noordwes, Noord-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga) geplaas.

Read it in English. 

Gedurende Mei 2018 is die herfskommandowurm in al ses dié provinsies waargeneem, met aansienlik hoër voorvalle in Limpopo in vergelyking met ander provinsies.

Werklike lokvalgetalle, d.w.s die gemiddelde aantal motte van die herfskommandowurm per lokval, het gewissel van 13,23 in Limpopo tot 0,02 in die Vrystaat waar slegs een positiewe identifikasie gemaak is. Die tweede hoogste aantal positiewe identifikasies is in KwaZulu-Natal gemaak, met ’n gemiddeld van 5,33. In die volgende twee maande behoort die getal herfskommandowurms as gevolg van laer wintertemperature te daal.

Dit is interessant dat ’n groot aantal valskommandowurms (Leucania loreyi) in 90% van die lokvalle gevang is. Die hoë getalle wat opgespoor word, lei tot kommer dat die valskommandowurm in Suid-Afrika kan vestig, indien dit nie reeds gebeur het nie. Pogings om valskommandowurm getalle te verminder moet ’n prioriteit wees.

Verder kan nog ’n inval van kommandowurm op die horison wees, hierdie keer deur die suidelike kommandowurm (Spodoptera eridania). Dié pes is bekend in suid-oostelike Nigerië en suidelike Bénin.

Dit is onduidelik hoe lank die suidelike kommandowurm reeds in Afrika is en of die verspreiding daarvan beperk is tot die bogenoemde lande. Gelukkig reageer die suidelike kommandowurm mannetjies op die herfskommandowurm feromone wat gebruik word in lokvalle, en is dit moontlik dat die suidelike kommandowurm ook uit die huidige toesig stelsel geïdentifiseer kan word.

Om egter die afwesigheid van hierdie plaag in Suid-Afrika te verseker, sal dit nodig wees om suidelike kommandowurm-spesifieke toesig te doen.

Die huidige herfskommandowurm-toesigprogram word deur Crop Watch Africa onderneem. Crop Watch Africa het die vermoë om die huidige toesigstelsels uit te brei om die verspreiding van siektes soos mielie-dodelike nekrose in ander Afrika-lande op te spoor. Voldoende vroeë opsporing is noodsaaklik om effektiewe bestuurstrategieë te gebruik wanneer die plaag of siektes die land binnekom tot die tyd wat dit uitgeroei word. – Graan SA