Suid-Afrika voer sowat 92% van alle sitrus wat hier geproduseer word uit en is tans een van die grootste uitvoerders van sitrusvrugte in die wêreld. Hoë-gehalte vrugte wat vry is van insekinfestasies of skade, is dus uiters belangrik. Invoerlande se standaarde en fitosanitêre vereistes raak jaarliks al hoe strenger. Produsente moet gevolglik al meer op plaagbeheer spandeer. 

Ironies genoeg pas invoerlande en supermarkte gereeld hulle maksimum residuvlakke afwaarts aan. Al meer aktiewe bestanddele word op hul lyste van verbode middels geplaas. Sitrusprodusente se opsies vir chemiese beheer raak dus al minder en die toepassing van geïntegreerde plaagbestuur raak al belangriker. 

Monitering vir goeie bestuur 

Die doeltreffende en betroubare monitering van sitrusplae is die grondslag van geïntegreerde plaagbestuur. Dit is uiters belangrik vir doeltreffende en ekonomiese plaagbeheer. 

Monitering het verskeie voordele vir die sitrusprodusent, soos:  

  • Vroeë waarskuwing van toenemende plaagpopulasies. 
  • Die evaluering van die doeltreffendheid van beheermaatreëls wat toegepas is en die vroegtydige identifisering van herinfestasies. Inligting rakende die voorkoms en status van voordelige insekte word voortdurend ingesamel. Dit moet in ag geneem word wanneer beheeropsies oorweeg word. 
  • Die opbou van langtermyn-rekords oor seisoenale plaagtendense, wat uiteindelik beplanning vergemaklik. 

Die rol van verkenning 

Verkenning is die belangrikste komponent van monitering. Verkenning behels die fisiese inspeksie van bloeisels, vrugte, blare, takke, ens. vir die teenwoordigheid van plae en siektes. Die sagte, klein vruggies is gedurende die eerste tien weke na vrugset op hulle kwesbaarste vir skade. Verkenning moet dan minstens twee keer per week gedoen word. Hierna kan dit na een keer per week verminder word. 

Verkenning kan óf op dieselfde databome gedoen word, óf bome kan elke keer lukraak gekies word. Beide benaderings het voor- en nadele. Verkenning op databome maak dit makliker vir die produsent om te kontroleer of die verkenner se data korrek is. Dit voorkom ook vooroordeel en lewer oor tyd baie akkurate inligting rakende langtermyn-plaagtendense. Die nadeel is egter dat plae in ander dele van die boord misgekyk kan word, veral sporadiese plae wat kol-kol voorkom. 

Verkenning behels die fisiese inspeksie van bloeisels, vrugte, blare, takke, ens. vir die teenwoordigheid van plae en siektes.

Die gebruik van lukrake bome is baie beter om sulke sporadiese infestasies waar te neem. Weens dié rede lewer ’n kombinasie van die twee metodes dikwels die betroubaarste resultate. 

Plasing van databome 

Indien databome gebruik word, moet minstens vyf bome per hektaar gekies word. Hulle plasing moet so verteenwoordigend van die boord as moontlik wees. Databome in ’n diagonale lyn deur die boord is gewoonlik voldoende vir kleiner boorde. 

’n V- of W-vormige plasing werk gewoonlik goed vir langer, reghoekige boorde, terwyl ’n Z-vormige plasing goeie resultate lewer vir meer vierkantige boorde. Op ’n groot plaas, met baie boorde wat aan mekaar grens, is dit egter die maklikste om databome volgens ’n ruitpatroon te plaas. 

Wanneer bome lukraak gekies word, is dit baie belangrik dat dié bome verteenwoordigend is van die boord. Verkenners fokus dikwels op spesifieke bome of gebiede in ’n boord, wat hulle weet geïnfesteer is. Dit kan goed werk om te bepaal of ’n beheermaatreël suksesvol was, maar gee nie ’n werklike beeld van die infestasie nie. Dit lei dikwels daartoe dat produsente beheermaatreëls ten duurste toepas, sonder dat dit nodig was. 

Opleiding van verkenners 

Produsente het gewoonlik nie tyd om self gereelde inspeksies in die boorde te doen nie. Daarom is goed opgeleide verkenners van onskatbare waarde. Die posisie van verkenner moet as een van die belangrikste poste op die plaas beskou word en slegs die betroubaarste mense behoort hiervoor aangestel te word. Gereelde toesig bly egter altyd belangrik om te kontroleer dat die inligting wat versamel word, wel akkuraat is. 

Die gebruik van databome is juis hier van groot waarde. Verder moet verkenners gereeld opknappingskursusse ondergaan en getoets word om seker te maak dat hulle op standaard bly. Goeie sig is ook baie belangrik. Produsente vergeet dikwels om verkenners se visie gereeld te laat toets – 20/20 visie is noodsaaklik om klein insekte soos blaaspootjies en myte waar te neem, selfs met ’n handlens. 

Vang insekte met lokvalle 

Die tweede uiters belangrike komponent van monitering behels die gebruik van lokvalle. Lokvalle maak gewoonlik gebruik van een of ander lokmiddel, soos kleur, ’n feromoon of ’n lokaas, om die insekte te lok. Hulle word dan op ’n klewerige oppervlak of binne-in ’n ruimte wat maklike ingang toelaat, maar uitgang belemmer, gevang. Verskillende lokvalle en lokmiddels is tans kommersieel beskikbaar. Die gebruik daarvan is in sommige gevalle selfs verpligtend om toegang tot sekere markte te verseker. 

Sitrusplae wat beslis hiermee gemonitor moet word, sluit in die rooidopluis, witluis, valskodlingmot en vrugtevlieg. Lokvalle is ook beskikbaar vir ander insekte soos die bolwurm, blaaspootjie en bladspringer. Die gebruik van hierdie lokvalle is aanvullend tot verkenning en moet as ’n addisionele hulpmiddel gebruik word om insekpopulasies te monitor. 

Die data wat hieruit gegenereer word, gee dikwels ’n vroegtydige waarskuwing van ’n toenemende infestasie. Dit is ook uiters belangrik om die optimale tydsberekening van sommige chemiese en biologiese beheermaatreëls te bepaal. Dit is belangrik om die verskaffers van hierdie lokvalle se advies rakende die plasing daarvan in die boord, asook die intervalle waarteen die lokmiddels vervang moet word, streng na te kom. 

Evalueer sanitasievrugte 

’n Ander vorm van monitering is die evaluasie van sanitasievrugte. As dit kom by plae soos valskodlingmot, is sanitasie die belangrikste komponent van beheer. Dit behels die optel, verwydering en vernietiging van hierdie vrugte om opvolginfestasies te voorkom. 

In dieselfde optel-aksie kan vrugte van sekere databome versamel word, en dan oopgesny en geëvalueer word vir die oorsaak van val. Hierdie vorm van monitering het in die laaste paar jaar verpligtend geraak om toegang na die Europese markte te bekom. 

Interpretasie van data 

Hoewel tegnologie vir die elektroniese versameling van data reeds bestaan, word verkennings- en lokvaldata op die meeste plase nog skriftelik ingesamel. Die korrekte interpretasie van hierdie geskrewe inligting is dikwels baie moeilik. Dis gewoonlik slegs moontlik vir produsente en landbou-adviseurs met baie ervaring in sitrusplaagbestuur. 

Gelukkig bestaan daar deesdae stelsels wat hierdie skriftelike data visueel kan voorstel op ’n plaaskaart en gevolglik die interpretasie daarvan baie vergemaklik. Presisieplaagmonitering (PPM™) is ’n voorbeeld van so ’n stelsel. Dit word deur Laeveld Agrochem, in samewerking met Agri Technovation, verskaf. 

Moniteringsdata word deur ’n span kundiges by Agri Technovation verwerk en op ’n hoë-definisie kaart van die plaas visueel uitgebeeld. Hierdie visuele voorstelling illustreer beide die posisie van plae en die intensiteit van infestasies. ’n Voordeel hiervan is dat gelokaliseerde infestasies dikwels in die kiem gesmoor kan word voordat dit versprei. Dit lei gevolglik tot groot kostebesparings. 

Presisieplaagmonitering (PPM™) is ’n stelsel wat data visueel op ’n plaaskaart voorstel en derhalwe die interpretasie daarvan baie vergemaklik.

Slotgedagte

Met toenemende druk op plaagbeheermiddels en produksiekoste wat voortdurend styg, is die haelgeweerbenadering tot sitrusplaagbestuur iets van die verlede. Die regte strategie moet op die regte tyd en plek gevolg word. ’n Meer gefokusde benadering tot sitrusplaagbestuur is noodsaaklik vir volgehoue sukses. Die regte besluite kan slegs geneem word indien die produsent presies weet wat in elke boord aangaan. Dit is juis wat monitering so ’n belangrike komponent van suksesvolle sitrusboerdery maak. – Riaan Maartens, Laeveld Agrochem

Vir meer inligting, kontak Riaan Maartens by epos riaan@laeveld.co.za of skakel 066 479 2472 of besoek die webwerf www.laeveld.co.za