Hannes Cilliers, Phindani Zepe, Dr Chris van Dijk, Wezle Diyanti, Tshilidzi Matshidzuia, Paul Heyns, Brandon Seti, Mossie de Jager, Johan Diedericks, Alton Crouse en Martin Mulaudzi by die eerste opleidingsessie.

Die MPO-opleidingsinstituut het van 22 tot 23 Oktober ’n loodsopleidingsessie oor biosekerheid by Woodlands Dairy op Humansdorp aangebied. Biosekerheid is ’n stel voorkomende prosedures wat ontwerp is om die risiko dat aansteeklike siektes toegang tot jou vee verkry en onder hulle versprei, te verminder.

Die opleiding is deur Dr Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die MPO, aangebied. Die fokus was op die basiese kennis van siektes, die behandeling daarvan en die ontwikkeling van ’n biosekerheidsprogram. Algemene biosekerheidsprobleme soos die inbring van nuwe diere in die bedryf, kuddekontak met wild, inentingsprogramme en sanitasiepraktyke is op die kursus bespreek.

Biosekerheid is belangrik op ’n melkplaas en daarom is dit die fokus van volgende jaar se opleiding by die MPO-opleidingsinstituut. Elke enkele siekte lei tot produksieverlies op ’n melkplaas. Daarbenewens is melkboere ook verantwoordelik vir openbare gesondheid. Hulle moet verseker dat die melk wat hulle produseer as veilig gesertifiseer word in ooreenstemming met die beste praktyke.

Indien jy opleiding op jou plaas wil reël, kan jy die opleiding- en kliënteondersteuningsbestuurder kontak op 082 451 4911 of epos corlia@mpo.co.za. – MPO-nuusbrief