Mpumalanga-produsente: Ons wil die antwoord op landbou-uitdagings wees

27
Mpumalanga
Twee pragtige handgemaakte messe wat deur Hylgard Lourens, voorsitter van die Nelspruit-boerevereniging geskenk is, is tydens die kongres opgeveil en die opbrengs van R10 000 is aan die SA Agri-rampfonds geskenk. Op die foto is die twee gelukkige nuwe eienaars van die messe, Kobus Stapelberg, van King Price, en Moorrees du Toit, ondervoorsitter van Mpumalanga-landbou.

Estimated reading time: 8 minutes

Produsente van Mpumalanga Landbou het op hul kongres op Badplaas met die tema, ‘Maak ‘n verskil’, oor struikelblokke ten opsigte van grondsake, plaasveiligheid, Eskom, die ekonomie en arbeidsaangeleenthede gepraat en ʼn ernstige beroep gedoen dat die owerheid dié klippe vir hulle uit die pad sal rol.

Die Covid-19-pandemie het sy nabyheid laat voel toe die voorsitter, Tommie Ferreira, sy voorsittersverslag virtueel vanuit sy kantoor op die plaas gelewer het, omdat hy die siekte opgedoen het. Dit was ʼn lekker koue dag en toe hy oor Eskom begin praat, het die krag, ironies genoeg, in die kongressaal af gegaan.

Hy het gesê ʼn belegger of entrepreneur het net ʼn gunstige ekonomiese omgewing nodig om ʼn reusebydrae tot die ekonomie te maak. Na sy mening, soek produsente nie gunste en gawes of spesiale behandeling nie. Al wat hulle van die owerheid vra is om vir hulle die klippe uit die pad te rol, eerder as om struikelblokke uit te dink wat sakebedrywighede bemoeilik.

Hy het ʼn beroep op boere gedoen om te midde van moeilike omstandighede hul fokus te behou en nie toe te laat dat negatiewe en pessimistiese boodskappe hul besluite beïnvloed nie. Risiko’s moet in ag geneem word, kundige raad toegepas word en gesonde ekonomiese besluite geneem word. “Behou die geloof en gaan maak ʼn verskil,” het hy gesê.

Brandpunte in die landbou word geprioritiseer

Die onsekerheid oor eiendomsreg is een van die grootste uitdagings en Mpumalanga Landbou het aan verskeie openbare verhore deelgeneem en ondersteun Agri SA se optredes rakende die beskerming van eiendomsreg en die handhawing van markwaarde as ʼn voorwaarde vir grondhervorming, ten volle.

Mpumalanga
ʼn Oorkonde om erkenning te gee aan die bydrae wat dr Fanie Terblanche oor dekades tot die landbou in Mpumalanga as navorser en opleier gelewer het, is tydens die kongres aan hom oorhandig. Op die foto is Barend Jansen van Rensburg van Agri Nelspruit saam met dr Terblanche.

Ten opsigte van plaasveiligheid het hy gesê die landbou-unie wil graag meewerk om die veiligheidsnetwerk op plase so sterk as moontlik te maak en steun ook Agri SA se vertoë teen die verandering van die Wet op Beheer van Vuurwapens, 2000 (Wet 60 van 2000).

Die organisasie beplan ook om ʼn energiedag later in die jaar aan te bied, waarop kundiges produsente raad kan gee oor alternatiewe energie op plase, om die risiko van beurtkrag en kragonderbrekings op ondernemings se produksievermoë te verminder.

Esta-wetgewing onder die loep geneem

ʼn Beskrywingspunt dat Agri SA die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997), oftewel die Esta-wet, onder die vergrootglas plaas, is deur die kongres aanvaar. Hennie Laas, van Volksrust, wat die beskrywingspunt voorgestel het, het gesê die bepalings van Esta is een van die faktore wat verhoudings op plase versteur. Dit ry grondeienaars se vermoë om hul ondernemings te bedryf in die wiele, benadeel die kollaterale waarde van hul eiendomme en is diskriminerend van aard, omdat dit net op die landbousektor toegepas word.

Uitsettingsbevele wat wel bekom word, word geïgnoreer en produsente moet ander instansies betaal om die hofbevele uit te voer. Pogings om geskille deur mediasie te besleg, werk nie, aangesien bewoners geïntimideer word om nie te onderhandel nie. Bewoners ignoreer die Omheiningswet, 1963 (Wet 31 van 1963), die Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (Wet 101 van 1998) en ander omgewingswette, en oorbeweiding is aan die orde van die dag. Wetstoepassing word nie gedoen nie en vir produsente om hul op die regstelsel en howe te beroep, is een groot frustrasie.

Mpumalanga
Mpumalanga se Jongboer van die Jaar met die trofee wat Mpumalanga Landbou aan hom oorhandig het.

Hy het gevra dat daar ondersoek ingestel word na die skep van ʼn instansie wat boere se regskoste kan help dra, grondeienaars kan bemagtig om hul grondregte te beskerm, die staat kan oortuig dat produsente ook geregtig op beskerming is, en dat wetstoepassers beter ingelig en opgelei word om die wette toe te pas.

In ʼn virtuele deelname aan die besprekingspunt, het Annelize Crosby van Agri SA gesê sy twyfel daaraan dat die Esta-wet maklik ongrondwetlik verklaar sal word. Die tendens van hofuitsprake is pro-okkupeerder. Ondanks die feit dat die regsmening na ʼn aantal hofsake was dat familie, medebewoners of vriende van ʼn okkupeerder, spesifieke toestemming van die eienaar moet hê om daar te woon, was daar ʼn meer onlangse hofbeslissing dat volwasse afhanklikes geraadpleeg moet word oor ʼn voorgenome uitsetting, omdat hulle stilswyende toestemming gehad het om te okkupeer.

Mpumalanga Landbou se invloedsfeer en relevansie bekyk

In nog ʼn beskrywingspunt het Coenie Davel van Amersfoort gesê georganiseerde landbou is beslis nog relevant, maar dat dit nodig is om Mpumalanga Landbou se dienste te herverpak om meer doeltreffend, vaartbelyn en doelgerig te wees. Die vraag is hoe die organisasie se invloedsfeer vergroot kan word.

Daar is sowat 60 miljoen mense in Suid-Afrika, 35 000 kommersiële produsente en elke boer verskaf daagliks kos aan 1 715 mense. Sowat 11,5 miljoen mense is werkloos. Dit beloop 328 werklose mense per boer, wat ʼn risiko skep. Die Regering laat die boere in die steek en faal op verskeie gebiede. Hoe moet nuwe swart kommersiële boere byvoorbeeld betrek word?

Mpumalanga
Pierre Vercueil, voorsitter van Agri SA, en Leon van Rooyen, voormalige voorsitter van Mpumalanga Landbou, staan nader aan een van die groot verwarmers wat gebruik is om die saal effens warmer te maak.

Hy het voorgehou dat die struktuur sterker gemaak moet word. Lede van Mpumalanga Landbou wil hoor, sien en weet dat hul belange sterk, duidelik en professioneel bevorder word. “Sê wat gedoen word en doen wat gesê word,” het hy bygevoeg.

Volgens hom moet tegnologie en slimfone ingespan word om vinnig, kort en kernagtig relevante boodskappe aan die lede oor te dra. Daar moet op uitdagings gefokus word wat lede raak.

Landboutransformasie, grondhervorming en mentorskap vir nuwe boere

Pierre Vercueil, voorsitter van Agri SA het sy visie vir transformasie in die landbou aan die kongres voorgehou en gesê: “Ons moet met ʼn plan vorendag kom wat volhoubaar kan werk, anders gaan almal verloorders wees. Ons wil wenners wees deur oplossings op die tafel te sit, dit te implementeer en te maak werk”.

Hy het dit duidelik gestel dat dit sy eie visie is en dat hy die gevoel van lede van georganiseerde landbou op die provinsiale kongresse toets, voordat hy dit aan die bestuur of grondkomitee van Agri SA kan voorlê. Mpumalanga Landbou het sy eenparige steun toegesê dat die visie verder bespreek en ondersoek moet word. Dit kan meebring dat dit as ʼn beskrywingspunt op Agri SA se kongres later vanjaar kan dien.

Mpumalanga
Jannie du Toit was die gaskunstenaar wat kongresgangers tydens die spog-dinee op Badplaas vermaak het. Hier is hy saam met Gert Smith, verteenwoordiger vir die Noordelike Hoëveld op die dagbestuur.

Ten opsigte van grondhervorming kan produsente nie op die kantlyn staan en wag dat iets gebeur nie, hulle moet verantwoordelikheid aanvaar. Dit is in die hande van produsente om dit te laat werk. In die proses is private eiendomsreg en die beginsel van vrywillige koper en verkoper nie onderhandelbaar nie.

Daar is sowat 15 000 plase konstant in die mark. Daar is dus geen tekort aan grond nie. Boere wil graag sien dat grondhervorming binne die vryemarkstelsel plaasvind, waar eienaarskap oorgedra en behou word.

Mpumalanga
Mpumalanga se Jongboer van die Jaar vir 2021, Kirch Müller, ontvang sy toekenning van Caleb Syce, streeksverkoopsbestuurder van Toyota. Kirch is die plaasbestuurder van Zonnebloem-boerdery naby Middelburg in Mpumalanga waar hy in beheer is van ʼn saaiboerdery van 5 600ha mielies, soja- en droëbone en ʼn beesboerdery van 980 grootvee-eenhede. Hy is al 13 jaar by die boerdery betrokke en sê hy bestuur dit met passie asof dit sy eie is.

Grondhervorming behoort sodanig te geskied dat dit geleenthede vir voorheen benadeeldes skep. Die meningsverskille wat bestaan, is nie van wát gedoen moet word nie, maar hóé. Elke keer wat die Staat ingryp, lei dit tot skade aan die kollaterale waarde van plaaseiendomme. Dit is beslis nie gewens vir bestaande sowel as nuwe boere nie.

Om lewensvatbaar te begin boer, is ʼn ekonomiese eenheid nodig, en dit is net kommersiële boere wat weet hoeveel grond en geld nodig is om lewensvatbaar te begin boer. Daarvoor is kapitaal nodig vir die grond sowel as bedryfskapitaal.

Mpumalanga
Die Jongboer van Mpumalanga vir 2021 en sy vrou, saam met verteenwoordigers van die borgmaatskappy, Santam. Van links is Stoffel Coetzer van Santam, Joanene en Kirch Müller, en Annelie Kroese, ook van Santam.

Sy siening is dat kommersiële boere nuwe boere as vennote moet aanvaar of as afrigters of mentors moet optree binne ʼn stelsel waar ʼn geldwaarde aan die boer se kundigheid, ervaring en vaardigheid gekoppel word, wat as sy bedrae tot ʼn vennootskap of stelsel bereken kan word. Finansiering sal verkieslik via die Landbank na private banke gedoen moet word. Die voorlegging van ʼn volhoubare sakeplan sal noodsaaklik moet wees om seker te maak die somme klop en wanaanwending van geld word verhoed.

Hy glo egter dat as die visie deeglik verder deurtrap word, daar talle veranderings kan wees, maar waarvan hy oortuig is, is dat as boere niks doen nie, almal verloorders gaan wees. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Mpumalanga Landbou by 017 819 1295, 066 035 1231 of epos info@mpumalangalandbou.co.za.