’n Geslaagde Mpumalanga-skeerkampioenskap is onlangs op Japie Celliers junior, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in Mpumalanga, se plaas, Roodewal, naby Ermelo aangebied. Altesaam 60 deelnemers in handskeer, masjienskeer en wolhantering het sake uitgespook.

Vier deelnemers het in die wolhanteringsafdeling aan die kategorie vir beginners en elf deelnemers aan die ope kategorie deelgeneem. Die drie verskillende masjienskeerkategorieë het groot aftrek gekry, met 26 skeerders wat aan dié kategorieë deelgeneem het.

Nkosifikile Bonelo het die masjienskeerkategorie gewen en hy het ook die beste punte in die kategorie vir skeergehalte behaal. Sebongile Mezeile was die naaswenner, met Nkosenathe Joseph Faltene in die derde plek en Botoabolo Tomoso in die vierde plek.

Altesaam agt skeerders het aan die junior afdeling deelgeneem. Cloete Oosthuizen was die wenner en beste gehalte skeerder.

Die huidige Suid-Afrikaanse kampioen, Zandisile Fickson, was die enigste deelnemer in die handskeerafdeling. Hy het twee skape ter demonstrasie geskeer. – Persverklaring