Westend Landgoed is vir die derde jaar in ’n ry as Plaas Media se Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkoning gekroon. Hierdie was die sesde kompetisie van sy soort en het vanjaar weereens vir ‘n rekordgetal inskrywings gesorg.

Read it in English.

Westend Landgoed was die algehele wenner van die kompetisie en ook die wenner in die mieliekategorie. Die wen-bunker is deur Kemin Industries ingeskryf. Hurwitz Farming was die kategoriewenner in die voersorghumkategorie en het die afdeling met ’n silosak gewen. Die wen-sak is deur Budissa Agroserve ingeskryf. In die hawerkategorie het De Draay koning gekraai met ’n bunker wat deur Meadow Feeds Paarl ingeskryf is.

Die kategoriewenners is aangekondig tydens ’n mini-konferensie wat op 18 September tydens ALFA 2019 in Parys gehou is. Die algehele wenner is daarna tydens die ALFA-dinee aangekondig en Hano Lombard van Westend Landgoed was teenwoordig om die sertifikaat en pryse in ontvangs te neem.

Borge en prysborge

Buiten vir Santam Landbou wat weer as naamborg van die kompetisie opgetree het, is daar vanjaar ook talle pryse gegee. PANNAR Saad het saad ter waarde van meer as R100 000 aan die kategorie- en algehele wenners gegee, met Strapping & Profile wat bunkerseile asook geskenkpakkies gegee het, en Nutribase wat inokulant-pakke aan die kategoriewenners oorhandig het.

‘n Spesiale merietetoekenning is ook vanjaar gemaak aan Limpopo Dairy van Joubert Fourie. Dié boerdery neem sedert die eerste jaar van die kompetisie deel en het nog elke jaar onder die top tien geëindig. Hulle het ‘n sertifikaat ontvang vir hierdie besondere prestasie en het ook drie voerbakke van ATK Voerbakke ontvang as prys. ‘n Spesiale toekenning is ook gemaak aan Morgenzon Landbou-akademie wat die enigste skool was wat in vanjaar se kompetisie deelgeneem het.

Vanjaar se kompetisie-inskrywings was die meeste nog, met ’n totaal van 89 kuilvoerbunkers en/of silosakke op 72 plase wat in drie kategorieë – mieliekuilvoer, voersorghumkuilvoer en hawerkuilvoer – ingeskryf is. Die monsterneming en data-insameling is deur die Universiteit van die Vrystaat hanteer en die laboratorium-ontledings is deur Labworld gedoen. Die uitslae is deur prof Robin Meeske van die Outeniqua-navorsingsplaas en voorsitter van die kompetisie se protokolkomitee, nagegaan en geverifieer.

Volledige lys van finaliste

Hier is die volledige lys van wenners en finaliste in elke kategorie, in volgorde van prestasie.

Kategorie: Mielies
  1. Westend Landgoed, Werner le Roux, ingeskryf deur Kemin Industries. Ook algehele wenner.
  2. C Nel Boerdery, Corrie Nel, ingeskryf deur AFGRI Veevoere.
  3. Limpopo Dairy, Joubert Fourie, ingeskryf deur Strapping & Profile.
  4. JH Neethling Boerdery, Neels Neethling, ingeskryf deur AFGRI Veevoere.
  5. Kameeldrift (Pty) Ltd, Bossie Pretorius, ingeskryf deur Nutribase.
  6. Just Milk, Steve Moss, ingeskryf deur Kemin Industries.
  7. Jacobsdal Dairy, James Sutherland, ingeskryf deur Budissa Agroserve.
  8. MD Foundation, Stefan Pretorius, ingeskryf deur PANNAR Saad.
  9. PD Hauff & Son (Rockfontein Farm), Matthew Beauclerk, ingeskryf deur Meadow Feeds KZN.
  10. Simpson & Son, St John Simpson, ingeskryf deur Meadow Feeds KZN.
Kategorie: Hawer
  1. De Draay, Awie Erasmus, ingeskryf deur Meadow Feeds Paarl.
  2. Droëvlei Boerdery, Coenie Basson, ingeskryf deur Leading Edge.
  3. Dasvlei, Johan Mostert, ingeskryf deur Leading Edge.
  4. Duiker Boerdery, Gert van Dyk, ingeskryf deur Barnlab.
  5. Kluitjieskraal, Arno Schoonwinkel, ingeskryf deur Leading Edge.
Kategorie: Voersorghum
  1. Hurwitz Farming, Jarren Hurwitz, ingeskryf deur Budissa Agroserve.
  2. Hurwitz Farming, Jarren Hurwitz, ingeskryf deur Greenstar Contracting.
  3. JCM Farming, Cliff Milton, ingeskryf deur TWK Agri.

Topgehalte inskrywings

‘n Rekordgetal van 21 maatskappye en individue het vanjaar bunkers of silosakke ingeskryf. Vanjaar is inskrywings ontvang van Kemin Industries, AFGRI Veevoere, Strapping & Profile, Nutribase, Budissa Agroserve, Meadow Feeds (KwaZulu-Natal en Paarl), Biomin, PANNAR Saad, Grasslands Agriculture, Leading Edge, Barnlab, Greenstar Contracting, TWK Agri, ANH, Santam Landbou, Sparta Beef, SIS Farming Group, Limpopo Dairy, Spanboerdery, JH Neethling Boerdery en Manus Pretorius.

Die kompetisie was besonder straf en behalwe vir die hoër aantal inskrywings, was die puntetoekenning deur die bank ook hoër as verlede jaar. Westend Landgoed se finale puntetoekenning was byvoorbeeld 89,90 wat ‘n hele 7,9 punte hoër is as hulle wenpunt van 82 in 2018. Die gemiddelde punt in die mieliekategorie was vanjaar 76,23 teenoor 2018 se gemiddeld van 67,8. Daarby was daar talle deelnemers wat vir die soveelste keer vir die kompetisie ingeskryf het en wie se punte merkbaar verbeter het.

Van links na regs: Richardt Venter, kompetisiekoördineerder, Bobby Lawrence van Kemin Industries, die maatskappy wat Westend Landgoed se wenbunker ingeskryf het, Hanlie Kroese van die kompetisie se naamborg, Santam Landbou, Heinrich Meyer van Strapping & Profile, een van die prysborge, Hano Lombard van Westend Landgoed, algehele wenner en wenner in die mieliekuilvoerkategorie, prof. Robin Meeske, voorsitter van die kompetisie se protokolkomitee, Lynette Louw, hoof uitvoerende beampte van Plaas Media, die eienaar van die kompetisie, en Jaco Naudé van PANNAR Saad, ook ’n prysborg van die kompetisie.

Die styging in die puntetoekennings en die herhaalde deelname van produsente en hulle insetverskaffers, is tekenend van hoe ernstig kuilvoergehalte in die veebedryf is en ook hoe hard produsente daaraan werk om die gehalte van hulle voerbanke te verbeter.

Lees gerus die Desember-uitgawe van Veeplaas, waarin daar ‘n volledige bespreking van vanjaar se data en uitslae sal verskyn.

Die kompetisie is een van die vlagskipprojekte in die Plaas Media-stal en word deur die maatskappy se mediaplatforms, Veeplaas, Stockfarm, Grootplaas, RSG Landbou en www.agriorbit.com, asook sy jaarlikse ekspo, ALFA (voortaan bekend as NAMPO ALFA), ondersteun. – Persverklaring, Plaas Media

Vir enige navrae kontak Lynette Louw by 084 580 5120 of epos lynette@plaasmedia.co.za of Richardt Venter by 083 590 3014 of e-pos richardt@agsci.co.za.