’n Deurlopende strewe na verbetering

1034

Marnitz Fourie woon in De Aar en het in 2009 by CMW begin werk, waar hy as ’n tegniese veldbeampte na omliggende produsente se belange omsien. As diereliefhebber het hy in 2003 begin duiwe vlieg en dit is hoe sy sterk passie vir teling ontwikkel het. “Ek is bevoorreg om deur middel van my werk met die boerderye waarby ek betrokke is, my passie uit te leef,” sê hy.

Een daarvan is die Lovonne Dohne Merinostoet. Hy en die eienaar, Louis Fourie senior, stap al sedert 2011 die pad saam en hulle het die afgelope agt jaar baie vordering gemaak. Dit het hulle in staat gestel om uitstaande ramme op die Kraankuil Jongooiklub se veiling, onder die hamer van OVK, aan te bied.

Passie lei tot vordering

Marnitz sê die skape word elke agt maande geskeer. “Ons het groot vordering gemaak met die wollengte, egalige, hoë-gehalte medium wol en groot hoeveelheid wol wat ons produseer. Verder hanteer ons die hele skeerproses en die wol se bemarking in Port Elizabeth. Ek behartig ook die klassering van die hele kudde en die stoet.

“Die stoetooie kry laparoskopie met die beste beskikbare genetika. Dit is een van die redes waarom die diere teen ’n hoë tempo groei en ’n egalige bouvorm het. Ek glo een van die belangrikste eienskappe van die Dohne Merino is hul vrugbaarheid. Die boerdery het weens die ras se vrugbaarheid ’n baie groot seleksiegroep, wat ons in staat stel om baie streng te selekteer.

“As ’n mens ’n passie vir jou werk het, is dit nie meer ’n werk nie, maar ’n plesier wat ’n lewenswyse raak. Dit is vir my ’n groot voorreg om by die Lovonne Dohne Merinostoet, sowel as ’n klomp ander boerderye in my omgewing, betrokke te wees,” vertel hy.

Spanwerk verseker sukses

Louis Fourie senior het in 1976 begin soek na ander skaaprasse wat nie die Merinowol sou besoedel nie, met die uitsluitlike doel om kruisteling op die swakker Merino-ooie by klassering toe te pas.

Dit het goeie resultate gelewer en hy het in 1981 besluit om ’n Dohne Merinostoet onder leiding van Cameron McMaster van die Dohne Merino Telersgenootskap by Stutterheim op die been te bring. Hulle het die beleid vir ’n skaap met ’n gladder tipe lyf, beter moedereienskappe en ’n beter konstitusie deurlopend nagevolg, totdat die hele kudde uitsluitlik Dohne Merinoskape was.

As gevolg van Louis se gesondheid was die stoet vir ’n paar jaar nie geregistreer nie. Hy het egter gesorg dat die Dohne Merinostandaarde steeds deurlopend nagevolg word. Sy seun, Louis junior, het in 2003, na twee jaar in Amerika, deel van die boerdery geword en die leisels geleidelik by hom oorgeneem.

“My seun het die stoet met die oorspronklike naam, Lovonne Dohne Merinostoet, laat herregistreer. Die stoet word tans met groot sukses met beide my seun en Marnitz Fourie, wat ook die klassering behartig, se insette bestuur. Hulle maak ’n formidabele span. Daar is die afgelope paar jaar geweldig baie vordering gemaak, veral met eienskappe soos die wolgehalte en gladdelyf-bouvorm,” sê hy.

Vraag na teelramme

Louis senior voeg by dat daar ’n bestendige vraag is na goeie teelramme wat van sy stoet afkomstig is, danksy Marnitz se toegewydheid en liefde vir die ras. “Ek is werklik trots op my seun en Marnitz, wat met die hulp van hul Skepper die verbetering van al die teeleienskappe nastreef.” – Carin Venter, Plaas Media, namens OVK.

Vir meer inligting, kontak Marnitz Fourie by 082 4915183 of smfourie@ovk.co.za, en Louis Fourie junior by 082 855 2763 of ljf@deaarnc.co.za.