ʼn Drupbesproeiingstelsel op wiele

1220
Jacques Willemse en Pieter van der Merwe wys hoe die beginsel van die drupbesproeiing op wiele lyk tydens die Sanlamseminaar in Limpopo.

ʼn Drupbesproeiingstelsel op wiele is een van die onderwerpe wat boere se aandag getrek het op die jongste Sanlam-landbouseminaar wat by Weesgerus buite Nylstroom aangebied is.

Jacques Willemse, ʼn boer van die Weipe-besproeiingsgebied naby Musina, het vertel hoe die knellende droogte hom gedwing het om ʼn alternatiewe besproeiingstelsel te soek nadat sy water begin opraak het. Hy is Amerika toe waar hy die mobiele drupbesproeiingstelsel raakgeloop het wat uit sleep-pype wat aan ʼn oorhoofse spilpuntstelsel geheg is, bestaan.

Met gewone spilpunttoediening gaan baie water as gevolg van verdamping en ander verliese verlore. Drupbesproeiing is weliswaar die doeltreffendste manier om besproeiingswater toe te dien, maar ʼn vaste drupstelsel het sy eie uitdagings.

Spilpunt aangepas

Die mobiele stelsel, Dragon-Line, bestaan daaruit dat ʼn aanpassing aan die spilpunt gedoen word sodat ʼn reeks sleep-pype tussen die rye van gewasse gesleep word wat die water (tot bykans 10 liter op ʼn slag) regstreeks op die grond en in die wortelsone van die plante toedien. Dit skakel verdamping en die wegwaai van druppels uit sodat meer water toegedien word waar dit dieper in die wortelsone kan indring.

Dit kombineer die doeltreffendheid van drupbesproeiing met die buigbaarheid en ekonomiese voordele van die spilpunt- of liniêre besproeiingstelsel. Daarby behou die boer die vermoë van die spilpuntstelsel om oorhoofste besproeiing toe te dien indien dit nodig en voordelig vir saadontkieming is.

Die vernaamste voordele van die stelsel is dat dit van 20% tot 70% water en krag kan bespaar, water baie akkuraat toegedien kan word, die druk- en toedieningstempo fyn beheer kan word, verdamping, korsvorming, verdigting van grond en afloop voorkom word en sonbrand en plantsiektes verlaag omdat die blare droog bly.

Besproeiingskenners in Amerika sê hulle bespaar met dié stelsel nie net baie water nie, maar kry ook beter opbrengste omdat die water en bemesting deur die water alles in die plante se wortelsone geplaas word. – Andries Gouws, AgriOrbit