Die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) is ’n wêreldklas beurs met 132 jaar van betroubare diens agter die blad. Die JSE is ’n volledige diensbeurs met doeltreffende primêre en sekondêre kapitaalmarkte oor ’n diverse reeks sekuriteite, wat ondersteun word deur robuuste post-handels- en regulatoriese dienste.

Die JSE se kommoditeitsafdeling het sedert die begin van die termynmark in 1995, talle afgeleide instrumente ontwikkel wat graanprodusente en beesboere in staat stel om hulself teen prysskommelinge in die openbare mark te verskans.

Wanneer ’n mens na graanproduksie in die land kyk, is dit duidelik dat daar die afgelope jare meer geproduseer word op min of meer dieselfde oppervlakte en onder dreigende weerstoestande.. Dit is hoofsaaklik te danke aan biotegnologie, wat gelei het tot die beskikbaarheid van beter kultivars. Dit is ook te danke aan die JSE-termynmark, wat produsente in staat stel om hul verkoopprys vooraf te bepaal deur termynkontrakte te gebruik.

Die meeste van die JSE se graankontrakte is aflewerbaar. Met ander woorde, die koper van ’n termynkontrak kan fisiese graan ontvang wanneer die kontrak verstreke raak. Die termynkontrakte vir lewendehawe moet egter aan die einde van die termyn met kontant vereffen word.

Neem ’n beeskarkaskontrak as voorbeeld. Hier is ’n paar van die basiese beginsels:

Wat is ’n termynkontrak?

’n Termynkontrak is ’n gestandaardiseerde kontrak tussen twee partye ingevolge waarvan ’n gespesifiseerde bate verruil word vir ’n prys waarop vandag ooreengekom is vir aflewering op ’n gespesifiseerde toekomstige datum. Die kontrak is dus ’n tipe afgeleide instrument.

Die produk word tipies gebruik deur diegene met ’n gevestigde belang om hulself teen nadelige prysbewegings in die Suid-Afrikaanse beesvleismark te beskerm. Verskansers sluit in kommersiële beesvleisprodusente, voerkrale wat karkasse kan verskaf, abattoirs, groothandelaars en verbruikers.

Produsente kan ’n kort verskansing (verkoopskontrak) handhaaf om ’n verkoopprys vas te stel, en eindgebruikers kan ’n lang verskansing (koopkontrak) gebruik om ’n koopprys te verseker.

Stappe vir risikobestuur

Om die risiko van dalende karkaspryse oor die volgende paar maande te bestuur, sal slagplase:

  • ’n JSE-kommoditeitemakelaar kontak, wat op www.jse.co.za/brokers/find-a-broker gevind kan word.
  • ’n Beesvleis-termynkontrak verkoop om die verkoopprys daarvan te beskerm. (Verskansing is beskikbaar in vier verskansingsmaande, naamlik Maart, Junie, September en Desember.)
  • Hierdie kort verskansing dek die karkasvoorraad vir die duur van die termynkontrak. Daar is altyd ’n koper vir elke verkoper, en die JSE voorsien die platform wat koper en verkoper verbind om met die gestandaardiseerde termynkontrak handel te dryf.
  • Wanneer die vervaldatum nader kom, kan die slagplaas óf sy posisie behou tot en met verstryking en ’n kontantskikking ontvang, óf hy kan die JSE-kontrak terugkoop en dan die kontrak op hierdie manier in kontant vereffen.

’n Voorbeeld

April: ’n Slagplaas verkoop in April ’n beesvleiskontrak teen R35/kg. Die kontrak sal in Junie verval.

Junie: In Junie is die kontant vereffeningswaarde R30/kg. Dit is gebaseer op werklike transaksies soos deur Rooivleisabattoirvereniging (RVAV)-lede ontvang.

Die abattoir sal dan R5/kg wins van sy termynkontrakposisie ontvang. Dus, wanneer die abattoir die karkasse in die kontantmark teen R30/kg verkoop en ’n mens die R5/kg wat dit van die termynkontrak ontvang byvoeg, is die abattoir terug by sy verskansingsvlak van R35/kg. Indien die prys in Junie opgaan na R37/kg, sal die abattoir sy geleentheid tot die hoër prys verloor. Wat egter belangriker is, is dat die abattoir R35/kg gewaarborg was en hy vooruit kon beplan.

Soortgelyke kontantvloeivoorbeelde kan toegepas word op voerkrale wat hul diere vir slagdoeleindes wil verkoop.

Groot- en kleinhandelaars wat hulself teen beesvleisprysskommelinge wil beskerm, kan ’n beeskarkas-termynkontrak koop, wat beteken dat hulle beesvleispryse voor die tyd aan hul eindgebruikers kan adverteer. Dit stel hulle in staat om een stappie voor die kompetisie te bly en handelsmerklojaliteit by kliënte te kweek.

Voordele van beesvleishandel

  • Dit is veilig, bekostigbaar en buigsaam, en laat kliënte toe om buite hul posisies handel te dryf.
  • Afgeleide kontrakte laat instellings toe om markdeelnemers te finansier, wat hulle prysrisiko verskans.
  • Dit voorsien ’n platform vir prysbepaling en doeltreffende prysrisikobestuur vir die Suid-Afrikaanse beesvleismark.
  • Dit is deursigtig. Handel vind plaas op ’n elektroniese platform waartoe enigeen toegang het.
  • Alle transaksies is gewaarborg deur die afgeleide verrekeningshuis van JSE Clear.

Registreer eenvoudig as ’n kliënt by ’n gemagtigde JSE-kommoditeitsafgeleide makelaar, deponeer die vereiste aanvangsmarge, en verkoop of koop volgens jou behoeftes. – Dr Raphael Karuaihe, hoof van kommoditeite, JSE Kapitaalmarkte

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan commodities@jse.co.za, skakel 011 520 7039, of besoek www.jse.co.za/beef.

BESOEK ONS BY NAMPO!

Kom gesels gerus met ons by Nampo Oesdag 2019. Standplaas 102, Nampo-saal.

Dr Raphael Karuaihe kuier op Grootplaas

Kyk ook gerus na ‘n insetsel van Grootplaas hieronder waar dr Raphael Karuaihe gesels oor die afdeling vir kommoditeitsafgeleides by die JSE, en watter produkte hier gebied word.