Boere op boereverenigingvlak moet ’n gesamentlike visie vir die grondhervormingsuitdagings in hul distrik ontwikkel en nie sake op individuele basis probeer oplos nie, sê Roland Henderson van die Besters-boerevereniging in KwaZulu-Natal naby Ladysmith. Roland dien ook in die distriksgrondhervormingskomitee van Uthukela.

“In veral Noord-KwaZulu-Natal,” verduidelik hy, “is baie plase waar eise rondom arbeidshuurders en restitusie nog nie afgehandel is nie. Met die hoër verwagtings wat onlangs weer oor onteiening geskep is, is daar groot druk op boere om oplossings te vind. Dit is juis nie nou ’n goeie tyd om in emosionele gesprekke met eisers betrokke te raak nie. Dit is wel ’n baie goeie tyd om op distriksvlak ’n gesamentlike strategie te ontwikkel vir die hantering van uitdagings.

“Die oplossing lê in ’n scenario waar ruimte is vir alle boere, wit en swart, groot en klein, om hulle uit te leef, met sinvolle en beredeneerde oplossings vir die verskeidenheid aansprake op die grond. Baie van die mense wat aanspraak maak op grond, het ’n behoefte aan ’n stukkie grond om op te woon, nie om kommersieel te boer nie. Daar moet dus duidelik onderskeid gemaak word tussen die verskillende tipes aanprake in die soeke na redelike en volhoubare oplossings.”

In die meeste streke sal reeds ’n paar plase wees wat aan nuwe bevoordeeldes oorgedra is, maar wat nie doeltreffend funksioneer nie.

As ’n visie geformuleer en ’n beeld gevorm is van die aansprake van die verskillende gemeenskappe, behoort ’n distrikskaart bestudeer te word om ’n oorhoofse prentjie van die situasie te vorm. Hiermee saam is dit belangrik dat ’n regsgeleerde betrokke is, en dis ook belangrik om ’n lys te maak van almal wat ’n bate kan wees in die soeke na oplossings.

Dit kan wees dat die plaaslike stadsraadslid ’n rol kan speel, of die predikant, of selfs die taxi-eienaar. In onderhandelinge wat sterk emosionele ondertone het, waarsku Roland, is dit nie goed dat die boere self onderhandel nie. Die emosies kan doodgewoon te hoog loop. Dis baie beter om ’n fasiliteerder te kry om daardie rol te vervul.

“Om die saak op ’n plaas-vir-plaas-grondslag te probeer hanteer, plaas die individuele boere in ’n baie swakker posisie as om as distrik na gesamentlike oplossings te probeer soek. Die kwessie van ’n gebrek aan vertroue tussen verskillende groepe in ’n distrik moet ook baie versigtig hanteer word, en daar moet begrip daarvoor wees. Die einddoel, naamlik ’n redelike oplossing vir almal, behoort heeltyd in gedagte gehou te word.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas