Drostdy Hof wil die loopbaan van ’n belowende jong vrou in die wynbedryf ’n hupstoot gee. Dié wynhandelsmerk werk hieraan saam met die Pinotage Youth Development Academy (PYDA) op Stellenbosch, ’n onafhanklike organisasie wat voorheen benadeelde jong matrikulante voorberei vir werksgeleenthede in die wynbedryf, wyntoerisme en verwante sektore. Die organisasie se holistiese, jaarlange werksgereedheid-programme sluit in tegniese en indiensstudie, met sterk klem op persoonlike ontwikkeling.

Benewens die befondsing van 50 studente in 2019 vir die kern-wynkwalifikasie wat deur die Universiteit van Stellenbosch gefasiliteer word, sal Drostdy Hof ook, in oorleg met die akademie, uit dié groep ’n enkele begaafde jong vrou vir verdere opleiding kies. Keuringsvereistes sluit in wyn-akademiese uitnemendheid, aanleg en interpersoonlike vaardighede.

Sy sal aan die einde van die kursus vir ’n jaar as intern blootstelling aan die verskillende aspekte van die wynbedryf, van produksie en beplanning tot bemarking en verkope, ondergaan. Gedurende hierdie tyd sal sy vier weke in Swede, ’n sleutelmark vir Drostdy Hof, deurbring waar sy lede van dié land se kleinhandel en plaaslike wynliefhebbers sal ontmoet.

Hierbenewens is die plan dat sy ’n rol sal speel in die aanbieding van verskillende wynskoue vir verbruikers in Suid-Afrika. Sy mag selfs by die ontwikkeling van ’n nuwe wyn vir Drostdy Hof betrokke wees.

Sy sal haar internskap in 2020 doen by Drostdy Hof se moedermaatskappy, die Distell-groep, Suid-Afrika se grootste wynonderneming wat wêreldwyd sake doen. Sy sal daar onder meer deur verskeie topvlak-amptenare soos Bridgitte Backman, die maatskappy se direkteur vir korporatiewe en regulatiewe aangeleenthede, gementor word.

Tamsyn Parkins, wat die program as deel van Drostdy Hof se meer omvattende sosiale en ekovolhoubaarheidsveldtog ontwikkel het, sê PYDA beskik oor ’n uitstekende prestasierekord. “Ons glo hulle is die regte vennoot in ons doelwit om die loopbaan van ’n begaafde en verdienstelike jong vrou te bevorder.”

PYDA, wat met studente van 18 tot 25 jaar werk, het in 2012 tot stand gekom. Hulle word gesteun deur ’n verskeidenheid van plaaslike en internasionale liefdadigheidstigtings en skenkers in die private sektor. Hulle kursusse word opgestel in oorleg met die wyn- en toerismesektore om die doelmatigheid daarvan te verseker. Meer as 90% van die studente wat die kursus voltooi, vind binne ses maande werk.

As deel van hul wynopleiding moet studente Vlak 1-sertifisering van die internasionaal geakkrediteerde Wine and Spirit Education Trust (WSET) verkry. Studente wat wynmaak die primêre fokus van hul jaarlange studie wil maak, kry die geleentheid om ook WSET se Vlak 2-kursus te voltooi.

Nikki Munro, PYDA se uitvoerende direkteur, sê sinvolle werk vir hul afgestudeerdes in vraag-gebaseerde bedrywe is die fundamentele uitkoms van hul programme. “Dit is waarom ons werklik opgewonde is om hierdie nagraadse loopbaangeleentheid vir die regte vrouestudent beskikbaar te stel. Dit is ’n uitsonderlike geleentheid om verder te kan leer. Geoordeel aan die kaliber van ons afgestudeerdes – byna 200 tot op hede – verwag ons uitstekende standaarde en gaan dit uiters moeilik wees om die enkele beste kandidaat te identifiseer.”

Parkins, een van Distell se internasionale bemarkingsbestuurders, het daarop gewys dat Drostdy Hof onlangs die slagspreuk “Toegespits op volhoubaarheid” as handelsmerkbelofte aanvaar het. “Ons beskou die bedryf se riglyne vir gemeenskaps- en ekovolhoubaarheid bloot as vertrekpunt vir ons eie deurlopende verbetering.

“Ons kan nie bekostig om terug te sit nie. Ons moet gedurig nuwe maniere vind om ons standaarde en geloofwaardigheid wat gemeenskaps- en ekovolhoubaarheid betref, te verhoog en uit te bou. Dit is wat ons van onsself verwag en wat wynliefhebbers op hul beurt die reg het om van ons te verwag.” – Persverklaring

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here