Groot dele van die Noord-Kaap gaan gebuk onder ’n knellende droogte en die impak op die platteland is skrikwekkend groot. Heelwat plaaswerkers het reeds hul werk verloor omdat grondeienaars dit nie meer kan bekostig nie. Daar is al meer boere wat hul grond net so los en elders gaan werk soek om aan die lewe te bly.

Op dié manier ontvolk die platteland en die armoede styg met rasse skrede. Tog is daar mense, organisasies en ondernemings wat alles in hul vermoë doen om boere in droogtetye te help.

Williston Vleiskoöperasie (WVK) is so ’n onderneming, wat homself te kort doen om die boere te help. Die abattoir, wat ook aan WVK behoort, moes vanjaar minder as die helfte van hul gewone aantal diere slag. Waar gewoonlik 110 000 lammers geslag word, is in dieselfde tydperk vanjaar net 50 000 geslag. Die koöperasie moes hierdie verliese absorbeer.

Steunpilaar vir die boere

Coetzee Reitz, bestuurder van WVK, sê dié koöperasie is een van slegs ’n paar koöperasies in die land wat nog aan die boere in die distrik behoort en sedert sy stigting in 1933 steeds volgens die oorspronklike beginsels bedryf word, naamlik om die landbougemeenskap te ondersteun en boere te help om vooruit te boer.

Coetzee Reitz is die bestuurder van Williston Vleiskoöperasie. Hy glo dat dié koöperasie die lewensaar van die dorp is omdat dit aan die boere behoort en daarom doen WVK alles in sy vermoë om die boere te help, veral nou tydens die ernstige droogte.

Baie koöperasies in die land het begin saamsmelt en maatskappye gevorm. Volgens die lede is dit dan nie meer ’n koöperasie soos wat dit vroeër was nie, maar eerder ’n onderneming wat uit is op winsbejag om die aandeelhouers se sakke vol te hou.

Coetzee sê Williston is ’n klein dorpie en die gemeenskap is afhanklik van mekaar. Aangesien hulle nie kan bekostig om mense te verloor nie, doen die koöperasie alles in sy vermoë om die gemeenskap in die huidige ses jaar lange droogte te help.

“Die persoon wat die motorhawe in die dorp besit, het ’n ruk gelede aangekondig dat hy die plek gaan sluit en elders ’n heenkome gaan soek. Ek het vir hom gesê hy kan dit nie doen nie, want dan gaan dit beteken dat ons nie meer brandstof op Williston het nie. Toe koop WVK maar die onderneming met geld wat ons beslis nie voor begroot het nie, net om die gemeenskap te help,” vertel hy.

Uitdagings weens die droogte

Hy sê dat die koöperasie allerhande planne maak om die boere te help. Hulle het byvoorbeeld ’n voerstelsel vir die boere begin, waar die koöperasie hulle met voer help om lammers af te rond en die abattoir dan die lammers koop. Die vereffening van die rekening kom eers ter sprake wanneer die abattoir die lammers koop.

WVK het ook ’n voerkraal gebou met die doel om boere te help. Baie boere is dankbaar dat hulle nou vroeër van hul lammers kan verkoop om ’n kontantvloei-probleem vry te spring. Die koöperasie neem die koste om dié lammers af te rond, op sy skouers.

Hy vertel dat die Williston-boere tans 70 000 produksie-ooie moet voer teen ’n geraamde koste van R12,6 miljoen per maand. As gevolg van vleispryse wat ook gedaal het, is boere se inkomste tans maar R900 per ooi teenoor die R1 200 wat dit verlede jaar was. Dit lei daartoe dat boere se krediet by die banke aangepas word, wat ’n negatiewe invloed op hul kontantvloei het. Daar word bereken dat die Williston-distrik ’n verlies van R4,5 miljoen per maand in die gesig staar.

Lewensaar van die gemeenskap

“Ons as koöperasie bly steeds die lewensaar van die gemeenskap en ons maak allerhande planne om die boere aan die gang te hou. Ons dink aan hulle toekoms, want die meeste sukkel nou om kop bo water te hou. Wanneer dit weer reën, gaan hulle nie geld hê om nuwe diere aan te koop nie. WVK maak planne om die boere se rekenings op datum te hou en ’n klein neseier weg te sit, sodat hulle kan uitbrei wanneer dit beter gaan,” sê Coetzee.

Wanneer ’n mens met die boere gesels, is hulle dit eens dat dit juis die koöperasie is wat hulle in dié ses maer jare bygestaan en ondersteun het. Dit is die een koöperasie wat nie skroom om sy hande uit te steek om boere wat in nood is, te help nie en wat die belange van die dorp op die hart dra. – Koos du Pisanie, Plaas Media